Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Só is KZN se platteland platgetrek

Voedseltekorte dreig in kleiner dorpe in KwaZulu-Natal se landelike gebiede wat erg deurgeloop het onder plunderaars, geweld en misdaad. Meer as die helfte van dié dorpies se ekonomiese lewensare is ook vernietig.

Hulp aan die landboubedryf in KwaZulu-Natal is op dreef in ’n poging om dorpe, plase en gemeenskappe van kos te voorsien en bedrywighede weer op dreef te kry. Foto: Unsplash

Volgens ’n peiling wat Kwanalu, die landbou-unie en Agri SA se filiaal in KwaZulu-Natal, onder sy lede in die provinsie gedoen het, ervaar 64% van dorpe reeds ernstige voedseltekorte, 32% ervaar matige tekorte en net 4% van die dorpe kan met taamlike sekerheid sê hulle het genoeg kos.

Die studie sê ook meer as 55% van dorpe in landelike gebiede se ekonomieë en handelsbedrywighede is vernietig tydens die onluste wat deur die provinsie gespoel het. Ekonomiese aktiwiteite in baie plattelandse dorpe het tot stilstand gekom.

“Dis nie net die groter dorpe en stede in KwaZulu-Natal wat deurgeloop het nie, plattelandse dorpies, landelike gebiede en gemeenskappe het ook erg deurgeloop,” sê Sandy la Marque, uitvoerende hoof van Kwanalu.

Kwanalu verteenwoordig landelike eienaars, boere en landbou-ondernemings in die provinsie.

“Die uitwerking van die sluiting van die N3, wat die hoofaar van die provinsie is as dit kom by die vervoer van produkte in en uit die provinsie, was katastrofies vir boere, ondernemings, winkels en die hele landbou-waardeketting.”

Volgens Kwanalu kom 25% van die land se melkvoorraad byvoorbeeld uit KwaZulu-Natal.

Die effek van die sluiting van heelwat aanlegte waar verpakking geskied, dierevoer geberg of vervaardig word en kunsmis gestoor word, het volgens Kwanalu ook baie druk op die landbousektor geplaas.

“Om nie eens te praat van die tekort aan brandstof nie,” sê La Marque.

Volgens vroeë aanduidings het meer as 15% van dorpe erg deurgeloop onder skade, wat daartoe bygedra het dat tussen 40% en 80% van sakeondernemings en handelsbedrywighede geraak is.

’n Verdere 15% van plattelandse dorpe het beperkte skade en plundering gehad, met van die dorpe se sakesentrums wat gedeeltelik staande gebly het.

“Die inligting help Kwanalu om saam met Agri SA humanitêre hulpprogramme van stapel te stuur in gebiede waar die nood druk. Dit help ons ook om belangrike handelsroetes te identifiseer wat oopgestel moet word om produksie aan te help, die aflewering van voedsel te bespoedig en landbou se waardeketting te beveilig.

“Dit kon baie erger gewees het as boere en gemeenskappe nie saamgestaan het in pogings om die dorpe, of wat daarvan oor was, te verdedig nie,” sê sy.

Meer oor:  Kwanalu  |  Agri Sa  |  Plundering En Geweld  |  Landbou  |  Kzn-Herstel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.