Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Soet sukses met Tongaat se herstelpad

Die suikergroep Tongaat Hulett tel spoed op met sy herstel en kon in die halfjaar tot einde September sy netto skuld verder verlaag tot R10,3 miljard.

Pakke suiker van Tongaat Hulett. Die groep het in die halfjaar tot einde September 3,5 miljoen ton suikerriet verwerk tot 404 060 ton rou suiker. Sy suikeruitvoer het ook verbeter danksy beter internasionale pryse. Dit kom nadat Brasilië minder suiker op die wêreldmark gestort het danksy groei in sy binnelandse suikervraag.

’n Ondersoek deur die Valke na die boekhouskandaal van 2018 en vroeër waarby vorige topbestuurslede betrokke was, is boonop aan die nasionale vervolgingsgesag oorhandig vir verdere stappe vroeg volgende jaar, het Gavin Hudson, uitvoerende hoof, aangekondig.

Siviele eise teen sekere ouddirekteure van die maatskappy vorder ook en dit behoort teen einde volgende jaar in die hof te wees.

Die Covid-19-inperking het boonop duidelik nie verbruikers gekeer om suiker te koop nie, hoewel groot nywerheidskliënte soos die drankbedryf ’n laer vraag gehad het weens die drankverbod.

Tongaat het in die halfjaar sy suikervolumes met 26% verhoog en sy markaandeel met 5% laat groei.

Hudson meen ’n groot deel van die groter suikervolumes was danksy kospakkies wat aan arm huishoudings uitgedeel is wat pakke suiker bevat het, asook huishoudings wat hul hand aan meer tuisgebak as gewoonlik gewaag het tydens die inperking.

Dit het uitgeloop op ’n bedryfswins wat met 95% tot R1,9 miljard opgeskiet het. Die wesensverlies van R315 miljoen ’n jaar gelede is omgedraai in ’n wins van R175 miljoen.

Skuldlas neem af

Hudson sê Tongaat kon vorder met transaksies om van bates ontslae te raak om sy reuse-skuldlas te verklein wat uit die boekhouskandaal spruit. In die halfjaar is R6,4 miljard se transaksies beklink, en ’n bedrag van R5,8 miljard kon gebruik word om sy skuldvlakke te verlaag. Dit sluit die opbrengs op die verkoop van sy styselafdeling aan Barloworld in.

Gavin Hudson
Gavin Hudson, uitvoerende hoof van Tongaat Hulett.

Die groep vorder dus goed na sy teiken om teen September volgende jaar sy skuld met R8,1 miljard te verlaag.

Kontant uit bedrywighede het tot R1,3 miljard gegroei teenoor ’n jaar gelede se kontantuitvloei van R615 miljoen. Tongaat het egter nie ’n tussentydse dividend verklaar nie.

Hiperinflasie

Rob Aitken, finansiële hoof, het egter verduidelik hoe hiperinflasie in Zimbabwe, waar Tongaat bedrywig is, die groep se syfers met R301 miljoen geknou het. Zimbabwe se inflasiesyfer was teen September 659% teenoor 353% ’n jaar gelede, en ná ’n hoogtepunt van 830% in Julie.

Aitken sê dit maak die groep se rekeningkunde ’n bietjie ingewikkeld. In ’n omgewing van hiperinflasie moet ’n pak suiker wat in April verkoop is, aangeteken word asof dit in September verkoop is. Dit jaag die winssyfers op, maar die herbalansering van die boeke weens die wisselkoers tussen die rand en die Zimbabwiese dollar beteken die syfers moet elders weer afgeskryf word in die kontantvloei- en inkomstestate.

Sterk werkmag

Tongaat het tans sowat 30 000 werknemers, en anders as wat in die media berig is, wou die groep nooit 5 000 werkers aflê nie, sê Hudson. Hy wou wel sy personeelgetalle met soveel verklein, en uiteindelik is dit met byna 11 000 verklein. Maar dit is alles bereik deur vrywillige skeidingspakkette, vroeë uittreepakkette, natuurlike attrisie en die uitkontraktering van sy boerderybedrywighede aan ’n swartbeheerde groep genaamd Uzinzo Sugar Farming.

Baie min van die personeelverminderings was volgens hom dus weens suiwer afleggings.

Meer oor:  Tongaat Hulett  |  Zimbabwe  |  Suikerbedryf  |  Maatskappyresultate  |  Suiker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.