Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Sojabone se gewildheid neem toe onder boere
Sojabone is deel van die familie van peulplante wat die grond natuurlik kan verryk met stikstof. Foto: Pixabay

Die nederige sojaboon kan die antwoord wees op heelwat van Afrika se landbou- en voedsel­sekerheidsuitdagings – nie net omdat die peulgewas so te sê sy eie kunsmis maak nie, maar ook omdat dit as kontantgewas geplant kan word én ’n goeie bron van proteïen is, aldus prof. Ndiko Ludidi, waarnemende direkteur van die DST-NRF Centre of Excellence in Food Security (CoE-FS) aan die Universiteit van Wes-Kaapland.

Ludidi, een van die outeurs van ’n artikel wat onlangs in die publikasie Plant, Cell & Environment gepubliseer is, skryf sowat 87% van wêreldwye sojaboonproduksie word omgeskakel in dierevoer en sojaolie, terwyl die res as bron van proteïen deur mense verbruik word. Daar is ook sekere nywerheidstoepassings.

Sojabone is deel van die familie van peulplante wat die grond natuurlik kan verryk met stikstof en dus die behoefte aan sintetiese stikstofkunsmis verminder. Die verbouing van sojabone bied daarom groot geleenthede vir boere, en kan ook voedselonsekerheid in Afrika die hoof bied, skryf Ludidi.

Hy sê sekere peulgewasse soos sojabone verloor sy status as bron van proteïen vir die mens wanneer mense se inkomste verhoog, hulle na stedelike gebiede trek en vleis dan hul grootste bron van proteïen word. In armer gemeenskappe is peulplante egter steeds ’n waardevolle bron van proteïen.

“Daar is gelukkig tekens dat sukses met die ontwikkeling van sojaboon-variëteite wat in verskillende omstandighede getoets word, ’n sojaboon-revolusie in Afrika kan beteken.

“Navorsing dui daarop dat sojabone al hoe meer geplant en geoes word as ’n belangrike kontantgewas en as veevoer. In albei gevalle help dit voedselsekerheid omdat die oes ook vir inkomste sorg.”

Wandile Sihlobo, hoofekonoom van Agbiz, het verlede jaar in ’n blog geskryf die produksie van sojabone in Suid-Afrika het die afgelope 25 jaar aansienlik gegroei, van 67 700 t in die 1993-’94-produksieseisoen tot 1,6 miljoen t in 2017-’18.

Dit word deels toe­geskryf aan die stygende vraag na sojaoliekoek deur die veevoerbedryf. Op sy beurt is laasgenoemde aangedryf deur die hoër vraag na kos met ’n hoë proteïeninhoud, veral pluimveeprodukte.

Sihlobo skryf Suid-Afrika se per capita-verbruik van pluimvee het die afgelope 17 jaar byna verdubbel en word nou geraam op 41 kg volgens data van die departement van landbou.

Om in die groeiende vraag te voorsien, het Suid-Afrikaanse landbou-ondernemings met die steun van die regering beleggings gedoen om plaaslike sojaboon-verwerkingsvermoë van sowat 860 000 t in 2012 tot meer as 2,2 miljoen t op te stoot, skryf hy. 

Meer oor:  Boerdery  |  Sojabone  |  Landbou  |  Bone
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.