Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Sonder bonus kry suikerbaas steeds R13 m.
’n Uitsig op suikerrietplantasies van Tongaat Hulett in die omgewing van Shongweni in KwaZulu-Natal.

Daar is in die 2018-boekjaar geen korttermyn aansporingsbonusse aan die suikergroep Tongaat Hulett se uitvoerende hoof, topbestuurders en senior bestuurders betaal nie.

Dít blyk uit die groep se 2018-jaarverslag.

Dit kom te midde van beroepe van ’n vorige groot aandeelhouer wat luidens berigte vra dat Peter Staude, vorige uitvoerende hoof, en ander topbestuurders hul bonusse moet terugbetaal weens die huidige onsekerheid oor die groep se finansiële resultate vir 2018.

Tongaat het die ouditgroep PwC aangestel om ’n forensiese ondersoek na sy 2018-syfers te doen, en het gewaarsku hy kan nie meer staat maak op die betroubaarheid van dié syfers nie. Die betrokke boekjaar was wel ’n taai jaar vir Tongaat weens droogte, mededinging van goedkoop invoer, en swak internasionale suikerpryse.

Volgens die nou onbetroubare syfers was Tongaat se wesensverdienste in 2018 R617 miljoen, wat 37% laer was as die vorige jaar, en hy het in Februarie gewaarsku die verdienste vir die boekjaar tot einde Maart vanjaar kan 250% laer wees, dit wil sê hy verwag ’n reuse-verlies.

KPMG is die interne ouditdiensverskaffer van Tongaat, blyk uit die jaarverslag.

Tongaat sê hy het nie kontantbonusse aan die topbestuur betaal vir 2018 nie, want die teiken vir ’n verdienste van R800 miljoen is nie gehaal nie.

Uit die verslag van die vergoedingskomitee blyk dit Staude het in die 2017- en 2018-boekjaar gekies om nie ’n verhoging in sy kontantvergoeding te ontvang nie.

Dit was ná vrae van aandeelhouers oor sy vergoedingspakket. Staude het in 2017 en 2018 ’n kontantsalaris van R8,799 miljoen elk ontvang. Dit sluit aftreefonds- en mediesefondsbydraes en langtermyn-aansporings uit, wat aan hom ’n totale vergoedingspakket van R13,528 miljoen gee vir 2018. Dit was R6,5 miljoen minder as sy pakket van R20 miljoen in 2017, want hy het toe ’n kontantbonus van R6,626 miljoen ontvang benewens sy ander voordele.

Staude, wat in Junie verlede jaar afgetree het, het nietemin verlede jaar R8,629 miljoen gemaak uit die uitoefening van aandele-opsies, en in 2017 het hy R7,01 miljoen daaruit gemaak.

Finansiële hoof

Murray Munro is die finansiële hoof van Tongaat. Hy het in 2018 ’n salaris van R5,197 miljoen ontvang.

Hy is in Oktober 2003 as finansiële direkteur aangestel. Hy het verlede jaar R2,179 miljoen uit sy aandeelopsies gemaak, en die vorige jaar R2,348 miljoen. Dit is alles gegrond op ’n gemiddelde aandeelprys van R114,17, terwyl die aandeelprys tans R16,56 is – sowat 85% minder.

Van die ander bekende direkteure van Tongaat sluit in die veteraan-sakeleier Brand Pretorius, wat uitvoerende hoof was van McCarthy en van Toyota Suid-Afrika.

Pretorius is die voorsitter van Tongaat se vergoedingskomitee. Hy is in 2011 in die direksie aangestel.

Volgens Tongaat se 2018-jaarverslag was die direksie veronderstel om in die afgelope boekjaar ’n formele, ekstern gefasiliteerde evaluasieproses te deurloop om die prestasie van die direksie, sy komitees en die voorsitter te meet.

Peter Staude, vorige uitvoerende hoof van die suikergroep Tongaat Hulett.

Zimbabwe en Mosambiek

Tongaat het vroeër gewaarsku hy gaan weens bedryfsprobleme sy werkmag moet besnoei, en soveel as 5 000 werknemers uit altesaam 31 355 se poste is in gedrang.

Die meeste van Tongaat Hulett se werknemers – meer as 80% – is in sy Zimbabwiese en Mosambiekse bedrywighede. Daar werk 13 893 mense in Zimbabwe vir Tongaat, van wie 9 900 permanente werkers is, en 3 993 is vastetermynkontrakteurs, volgens die 2018-jaarverslag.

In Mosambiek het Tongaat 7 240 voltydse werkers en 1 285 vastetermyn-kontrakteurs en 2 775 seisoenale en loswerkers.

In Suid-Afrika is daar 3 185 voltydse werkers, 855 kontrakteurs en 1 074 seisoenale en loswerkers.

Hoewel die groep 31 355 mense in diens het waarvan 16,3% in Suid-Afrika is, 44,3% in Zimbabwe en 36% in Mosambiek, en hy het in die spits van die suikermeule-seisoen altesaam 40 382 mense in diens.

Meer oor:  Tongaat Hulett  |  Resultate  |  Maatskappye  |  Suiker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.