Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Spesiale skip kom haal rekord-sitrusoes

Die MV Cool Eagle, een van die grootste “reefer”-skepe ter wêreld, het Vrydag in Durban aangekom om ’n rekord-sitrusoes na Europa en Rusland te verskeep.

Die ‘MV Cool Eagle’ met sy bemanning en ’n afvaardiging van die Sitruskwekersvereniging (CGA) Vrydag in Durban.

Die Sitruskwekersvereniging (CGA) het Dinsdag in ’n verklaring gesê vanjaar gaan weer ’n rekordjaar vir sitrusoeste in Suid-Afrika wees, wat al hoe meer uitvoervermoë verg om dié landbouprodukte in veral Europa te kry.

Na verwagting gaan daar vanjaar 163 miljoen bokse sitrus uitgevoer word – ’n rekord ná 2020 se 146 miljoen bokse.

Maar om dit uit te voer verg al hoe groter skepe wat by Suid-Afrika se hawens moet aandoen.

Met produkte soos sitrus wat kan bederf, is dit nodig om spesiale skepe in te span wat verkoelingstegnologie benut om die vrag koel te hou terwyl die skip na sy bestemming vaar.

Die MV Cool Eagle is een van vyf susterskepe wat die grootste koelskepe ter wêreld is.

Hierdie koelskepe beskik oor ’n vragarea onder die dek wat verkoel is sodat palette met bokse vrugte daarop daar geberg kan word.

Die paar palette wat bo die dek gestoor moet word, word gehuisves in spesiaal verkoelde vraghouers.

Die MV Cool Eagle beskik oor spasie vir 6 000 palette sitrus in 342 verkoelde vraghouers op die dek, en vir 7 200 palette onder die dek.

Dit beteken die skip kan 1,2 miljoen bokse sitrus op ’n slag vervoer.

Die skip sal eersdaags na Rotterdam in Nederland en St. Petersburg in Rusland vaar om die sitrus af te lewer.

Volgens die CGA is hierdie groot koelskepe baie beter vir die uitvoermark as tradisionele vragskepe, omdat Suid-Afrika baie sukkel om gewone vragskepe betyds te laai.

“Onlangs het die Wêreldbank ’n verslag uitgereik waarin bevind is dat Suid-Afrika se vragterminale in vergelyking met byna 400 ander terminale oor die wêreld heen die ondoeltreffendste is.

“Dit het daartoe gelei dat vragskepe twee derdes langer neem om die hawens van ons land in te kom as koelskepe, wat gewoonlik ’n week of twee voor die vragskepe by uitvoermarkte in Europa aankom. Hierdie ‘reefers’ waarborg dus vrugte van beter gehalte wat belangrike markte bereik, en wat Suid-Afrikaanse produsente sal help om in die toekoms groter marktoegang vir hul sitrus te verkry.”

Die vrag op die MV Cool Eagle is die eerste vrag van 2021 se sitrusoes wat uitgevoer word.

Kort op haar hakke sal haar susterskip die MV Cool Spirit in Suid-Afrika arriveer.

Die CGA sê “reefers” sal al hoe belangriker word vir die uitvoer van sitrus namate die oes aanhou groei.

Die CGA raam dat die oes met sowat 500 000 ton oor die volgende drie jaar sal toeneem.

Meer oor:  Sitrus  |  Boere  |  Hawens  |  Landbou  |  Uitvoer  |  Skepe  |  Vrugte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.