Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
‘Staat moet ingryp by hoendermoles’

Dit is tyd dat die regering ingryp om die twis vir eens en vir altyd tussen produsente en invoerders van pluimveeprodukte op te los.

Dit is die versoek van die vereniging van vleisinvoerders en -uitvoerders (Amie).

Amie het Donderdag in ’n verklaring ’n beroep op Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, en Ebrahim Patel, minister van handel en nywerheid, gedoen om in te tree en ’n besluit te neem wat betref tariewe op ingevoerde hoenderstukke.

Die groot geveg gaan daaroor dat die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (Sapa) wil hê die regering moet ’n invoertarief van 82% plaas op ingevoerde hoenderborsies, asook op hoenderagterkwarte.

Die tariewe is onderskeidelik 12% en 37%.

Amie staan dié aansoek by die kommissie vir internasionale handelsadministrasie (Itac) teen.

Amie is nie die enigste organisasie wat die aansoek teenstaan nie.

EBieSA, ’n organisasie wat 105 swart invoerders in die bedryf verteenwoordig, sê invoertariewe gee onregverdige beskerming aan die groot pluimveeprodusente ten koste van mededingers wat invoer. Dit jaag die prys op wat verbruikers vir hoender betaal en dit kan voedselsekerheid in die gedrang bring.

Die organisasie FairPlay, wat hom vir ’n billike handelsomgewing beywer, steun weer Sapa en sê die hoër tariewe is nodig om die plaaslike bedryf te help red.

Hoendervleis is die vleis wat die meeste deur Suid-Afrikaners geëet word. Foto: Pixabay

FairPlay erken wel dat die verbruiker meer sal moet opdok as die tariefaansoek goedgekeur word.

“Sapa het die potensiële invloed op die kleinhandelprys ondersoek indien die tariefaansoek goedgekeur word,” het hy voorheen aan Netwerk24 in ’n e-pos gesê.

“Dit toon moontlike prysstygings wat wissel van 2% tot 12,3% vir verskillende snitte.”

FairPlay meen dié styging is egter “ ’n klein prys om te betaal vir die behoud en groei van die grootste komponent van ons landbousektor, en beleggings en uitbreidings wat duisende werkgeleenthede in armoedige landelike gebiede sal skep”.

Amie sê gesien die stand van die Suid-Afrikaanse ekonomie, is dit duidelik dat verbruikers dit bloot nie gaan kan bekostig om meer vir hoender te betaal nie.

“Verkope van hoender in Suid-Afrika het gedaal omdat die ekonomie ingekrimp het. Die onlangse aankondiging dat die bruto binnelandse produk met 3,5% gedaal het, bevestig dit.

“Die brandstofprys styg ook en verbruikers wat onder druk verkeer, se huishoudelike begrotings is onder druk,” sê Paul Matthew, uitvoerende hoof van Amie, in die verklaring.

“Die oplegging van addisionele tariewe op hoender sal by hierdie las voeg, en dit nie verlig nie. Die uitdagings wat die pluimveebedryf in die waardeketting ondervind, kan nie deur tariewe opgelos word nie.

“ ’n Omvattende en langtermynverbintenis deur alle belanghebbendes moet daar gestel word.

“Ons doen ’n beroep op die regering om vinnig en in die belang van alle Suid-Afrikaners op te tree deur toepaslike stappe te doen om te keer dat ’n monopolie in ons belangrike pluimveebedryf geskep word,” sê hy.

Meer oor:  Fairplay  |  Sapa  |  Amie  |  Hoenders  |  Hoenderbedryf  |  Invoer  |  Storting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.