Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Staat: Natuurlik wil ons Hoogland red

Die Hooglandplaas naby Touwsrivier in die Wes-Kaap kan ongetwyfeld gered word.

Hoogland
Tafeldruiwe wat vir die uitvoermark bestem is, word op Hoogland geproduseer.

“Dit kan nog ’n suksesverhaal word,” is die reaksie van Asmitha Mothilal, van Mothilal Prokureurs, oor die regstryd tussen die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming en Herman Bester, die sakeredder wat by dié plaas aangestel is.

Mothilal is die regsverteenwoordiger van die department.

Hoogland, ’n tafeldruif-en-groenteplaas by Touwsrivier in die Wes-Kaap, is ’n swartbemagtigingsprojek wat op die rand van likwidasie staan.

Dié plaas voer tafeldruiwe uit na die buiteland.

Bester beskuldig die departement en sy verteenwoordiger, Tayfin Financial Advisers, daarvan dat hulle hom as sakeredder probeer uitwerk en ook dat hulle nie by die voorwaardes van die sakereddingsplan hou nie.

Bester sê aangesien voorwaardes nie gevolg word nie, is daar nou geen keuse as om aansoek te doen om Hoogland te laat likwideer nie.

LEES OOK: Staat ‘se gesloer kan oes laat verlore gaan’

“Die likwidasie moet gestop word sodat die plaas gered kan word,” sê Mothilal in ’n e-pos aan Netwerk24.

“Mahomed Tayob is ’n ervare sakereddingspraktisyn en forensiese ouditeur wat die prosesse begryp wat nodig is om die departement se verpligtinge na te kom,” sê sy.

Tayob staan aan die hoof van Tayfin, wat deur die departement aangestel is om hom te verteenwoordig.

“Ons dokumente stel dit duidelik dat die huidige sakereddingspraktisyn, mnr. Herman Bester, net daar is om opdragte van die Jordaans – wat eiehandig daarvoor verantwoordelik is dat die plaas hom nou in ’n benarde finansiële posisie bevind – uit te voer.

“Mnr. Tayob het mnr. Bester herhaaldelik gevra om sy ondersoekverslag en bewyse aan hom te oorhandig wat wys hoekom Hoogland hom in hierdie situasie bevind.

“Mnr. Bester het versuim om dit te doen. Dit maak die departement net bekommerder oor wat aangaan,” sê sy.

Die Jordaans, na wie Mothilal verwys, is die familie by wie die departement die grond waarop Hoogland is, in 2016 gekoop het.

Mothilal hou voet by stuk dat Touwskaroo Agri, wat sedertdien gestig is om te help om die plaas in bedryf te hou, wettig is.

“Werknemers is betaal, verskaffers is betaal, en bedrywighede is weer begin.

“Dit kom dus as ’n verrassing dat die sakeredder gekies het om die sakereddingsproses te staak – dít terwyl dit steeds ’n suksesverhaal kan wees,” sê sy.

Mothilal het bevestig die departement het al R1 miljoen van die R11,1 miljoen betaal wat die departement onderneem het om uit te betaal.

Volgens haar tree Touwskaroo dus binne die reëls van die sakereddingsplan op.

Bester voer weer aan die plan vereis dat die volle R11,1 miljoen betaal moet word en aangesien dit nie gedoen is nie, is daar nie aan al die voorwaardes voldoen nie.

Hy voer ook aan daar is geen aanduiding dat Hoogland se krediteure deur Touwskaroo vergoed gaan word nie.

Soos wat Netwerk24 verstaan bedryf nié Touwskaroo óf Bester tans die plaas nie.

Dit kom nadat regter Gayaat Salie-Hlophe Touwskaroo op 30 Oktober beveel het om bedrywighede te staak. Touwskaroo het nou tyd tot 25 November om bewyse in te dien hoekom sy teenwoordigheid op die plaas nie onwettig is soos wat Bester beweer nie.

Meer oor:  Touwskaroo  |  Hoogland  |  Touwsrivier  |  Bemagtiging  |  Sakeredding  |  Landbou  |  Grondhervorming
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.