Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Staat ‘se gesloer kan oes laat verlore gaan’

Die staat se gesloer om R11,1 miljoen aan ’n bemagtigingsprojek uit te betaal, kan ’n groep boere werkloos laat én ’n oes tot niet laat gaan.

Boonop het sake tussen die sakeredder wat by die projek aangestel is en die staat so uitgerafel dat hulle mekaar nou in die hof aanvat oor wie die reg het om op die grond te boer.

Tafeldruiwe wat vir die uitvoermark bestem is, word op Hoogland geproduseer. Foto: Verskaf

Hoogland, ’n tafeldruif-en-groenteplaas by Touwsrivier in die Wes-Kaap, is ’n swartbemagtigingsprojek wat op die rand van likwidasie staan.

Dié plaas voer tafeldruiwe uit na die buiteland.

Die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming het die grond waarop die Hooglandplaas bedryf word, in 2016 van die Jordaan-familie gekoop.

Hoogland is toe geskep as ’n 50-50-skema tussen die familie en 28 van die werkers. Hoogland, as ’n maatskappy, het ’n ooreenkoms gesluit waarvolgens hy die grond vir 30 jaar by die staat huur.

Die staat het ’n totaal van R75 miljoen goedgekeur wat in dié projek belê sou word. Dit het die koopprys van die grond ingesluit.

Herman Bester van Tygerberg Trustees wat as die sakeredder aangestel is, sê die staat se voortdurende laat betaling van sy finansiering het die boerdery onder soveel finansiële druk gelaat dat daar geen keuse was as om dit in Junie in sakeredding te plaas nie.

“Die probleem is dat die staat nie ’n beloofde R11,1 miljoen aan Hoogland oorgedra het nie.

“Hoogland se krediteure het besluit hulle het genoeg gehad en ’n besluit móés geneem word oor die toekoms van die plaas,” het hy aan Netwerk24 gesê.

Bester sê dat soos die wet vereis ’n sakereddingsplan opgestel en aan krediteure voorgelê is.

“Krediteure het dié plan op 13 Augustus aanvaar. Daar was egter baie spesifieke voorwaardes.”

Dit sluit in dat die staat die agterstallige R11,1 miljoen betaal en dat ’n nuwe maatskappy geskep word met wie Hoogland ’n diensleweringskontrak sou onderteken.

Een van die voorwaardes was dat geen vorige bestuurder van die plaas as direkteur van dié nuwe maatskappy aangestel kon word nie.

“Hoewel die plan goedgekeur is, het die staat toe nooit die R11,1 miljoen uitbetaal nie.

“Die wet vereis as daar nie aan die voorwaardes van ’n sakereddingsplan voldoen word nie, moet die proses sy gang gaan. Dit beteken dat daar dan aansoek gedoen moet word om Hoogland te likwideer.

“Dit is nie ek wat so sê nie, dit is wat die wet van my vereis,” sê Bester.

Ons het ’n plan gehad, dit is goedgekeur, maar toe werk die staat nie saam nie.
Herman Bester

“Die bates – wat ons reken sowat R10 miljoen werd is – kan dan verkoop word om die maatskappy se skuld te help delg.

“Hoogland skuld krediteure tans tussen R11 miljoen en R16 miljoen.

“Asof dit nie erg genoeg is dat die projek gelikwideer moet word nie, staan die staat nie net skielik dié aansoek teen nie, maar skep hy toe ’n maatskappy wat onwettig op die Hooglandgrond begin boer het.

“Toe ons weer sien, skep Tayfin Financial Accountants, wat die staat verteenwoordig, ’n maatskappy genaamd Touwskaroo Agri.

“Dié maatskappy, met Leon Nel as een van die direkteure, het net bedrywighede op die plaas oorgeneem.

“Die probleem is dat mnr. Nel, as vorige plaasbestuurder, luidens die sakereddingsplan nié in die direksie van die nuwe maatskappy mag dien nie.

“Aangesien die R11,1 miljoen steeds nie betaal is nie, kan Touwskaroo in elk geval nie die plaas bedryf nie.”

Bester sê wat die situasie vererger, is dat Touwskaroo skielik die steun van die plaaswerkers het omdat hy ná bykans ’n jaar die eerste keer hul lone betaal het.

“Wanneer ons op die plaas kom, is die werkers aggressief teenoor ons, al is ons die sakeredders wat deur die hof aangestel is.

“Soos ons dit verstaan, het die staat wel R1 miljoen aan Touwskaroo uitbetaal, maar nie die res nie. Ek as sakeredder word heeltemal uit hierdie prosesse uitgesluit.”

Bester sê hoewel dit goed en wel klink dat Touwskaroo die werkers weer aan die werk het en hul lone betaal, is dit nie ’n oplossing nie.

Krediteure

“Touwskaroo het geen onderneming gesluit om Hoogland se krediteure te betaal nie. Dit beteken dus dat hy Hoogland se bates gebruik om ’n inkomste te verdien terwyl die krediteure nie ’n sent kry nie.”

Die hooggeregshof in Kaapstad stem saam met Bester dat Touwskaroo nie die reg het om die plaas te bedryf nie.

Regter Gayaat Salie-Hlophe het Touwskaroo op 30 Oktober beveel om bedrywighede te staak. Hy het nou tyd tot 25 November om bewyse in te dien hoekom sy teenwoordigheid op die plaas nie onwettig is nie.

“Toe ek Vrydag op die plaas kom om R10 000 se diesel af te lewer sodat hulle kan snoei, vertel die werkers my Touwskaroo het hulle pas ingelig dat hulle wéér nie lone gaan kry nie,” sê Bester.

Bedrywighede is weer gestaak. As dit nie weer aan die gang gekry word nie, is daar kommer dat die wingerd nie reg sal wees om die druiwe in Maart te oes nie.

Op die vraag of Bester dit oorweeg het om Hoogland te koop aan te bied, sê hy dit was tot nou toe nie deel van die plan nie.

“Ons het ’n plan gehad, dit is goedgekeur, maar toe werk die staat nie saam nie. Nou moet ons ander planne maak.

“Net omdat ons nou aansoek doen om likwidasie beteken nie dié proses kan gestop word nie. As die staat aan die voorwaardes voldoen, kan ons sonder twyfel die projek red. Al die belanghebbendes sal egter dringend moet begin saamwerk om die projek aan die gang te hou.”

LEES OOK: Staat: Natuurlik wil ons Hoogland red

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.