Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Staking in Brasilië kan SA hoender-produsente help
Hoender in 'n supermark.

’n Uitgerekte staking deur vragmotorbestuurders in Brasilië word dalk ’n bedekte seën vir die Suid-Afrikaanse pluimveebedryf.

Brasilië is die wêreld se grootste uitvoerder van hoendervleisprodukte en lewer tot 60% van die ingevoerde hoender in die Suid-Afrikaanse mark.

Die land se pluimveebedryf steier onder die gevolge van ’n staking wat tien dae geduur het.

Hoewel ’n ooreenkoms ná dae van chaos op die land se paaie bereik is, kan dit nog lank neem om die agterstand in te haal, berig Bloomberg.

As Brasilië weens die nagevolge van die staking steeds sukkel om hoendervleis by sy hawens te kry, kan dit die aanvraag na Suid-Afrikaanse hoender verhoog en die vooruitsigte vir plaaslike pluimveeprodusente soos Astral ’n hupstoot gee, sê Anthony Clark, ontleder van Vunani Securities.

“Astral het onlangs met die bekendmaking van sy jaarresultate daarop gewys dat hoenderinvoer uit Brasilië dramaties gestyg het van 2016 se 233 000 ton tot 337 000 ton in 2017,” sê Clark.

“Enige ontwrigting in hoenderproduksie in Brasilië kan ’n voordeel vir die plaaslike pluimvee-voorraad inhou.”

Brasilië is feitlik heeltemal op padvervoer aangewese om produkte heen en weer te verskuif. Toe vragmotorbestuurders weens hoë dieselpryse begin staak en paaie versper, kon voer nie by die hoenderplase uitkom nie.

Enige ontwrigting in hoenderproduksie in Brasilië kan ’n voordeel vir die plaaslike pluimvee-voorraad inhou.
Anthony Clark

Dit het tot die gedwonge slagting van meer as ’n miljard hoenders gelei. Daarby kon die hoenders wat geslag moes word, ook nie by die abattoirs uitkom sodat hul vleis benut kon word nie.

Dit kan Brasilië twee tot twee en ’n half jaar neem om weer na sy huidige produksievlakke terug te keer,” sê Blairo Maggi, die land se minister van landbou.

Hy sê tydens die staking kon hoenders net een keer elke 48 uur gevoer word en dit het die risiko geskep dat die hoenders mekaar begin vreet. Dus moes hulle van kant gemaak word.

Die staking is nie die enigste terugslag wat Brasiliaanse vleisuitvoerders vanjaar getref het nie.

Verskeie lande het vroeër die invoer van meganies ontbeende vleis uit Brasilië verbied nadat die land se grootste uitvoerder, BRF SA, deur ’n korrupsieskandaal getref is. Sy uitvoerende hoof is in hegtenis geneem weens die beweerde omkopery van gesondheidsinspekteurs.

Intussen begin ander groot hoenderuitvoerders die gaping in die internasionale mark vul wat deur Brasilië se probleme veroorsaak word.

Die VSA het China gevra om sy markte oop te stel vir ingevoerde Amerikaanse hoender, berig Poultryworld.net.

China het sedert die uitbreking van voëlgriep in die VSA in 2015 nog nie weer sy mark vir Amerikaanse hoenderprodukte oopgestel nie, hoewel hy, soos Suid-Afrika ’n paar jaar gelede moes doen, wel in Februarie vanjaar teenstortingstariewe op Amerikaanse hoender opgehef het.

Bykomende bron: Poultryworld

Meer oor:  Brasilië  |  Hoender  |  Hoenderinvoer  |  Hoenderbedryf  |  Pluimvee  |  Pluimveebedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.