Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Staking: Verliese vir sitrusbedryf onbekend

Dit is moeilik om nou al die omvang van die geldelike verliese te bepaal, maar die impak van die sloerstaking by die Ngqura-hawe op die sitrusbedryf is enorm, sê Petrus (Spes) du Preez, voorsitter van die Gamtoos-landbouvereniging.

Dit volg ná ’n onwettige sloerstaking oor lone en bonusse by dié hawe in Port Elizabeth. Die bedryf het weens die staking deurgeloop onder bykomende koste vir vervoer na alternatiewe hawens en markte waar produkte dalk teen ’n laer prys verkoop is, koelopberging en ’n vrug van swak gehalte omdat dit langer moes staan.

“Die skade kan etlike miljoene rande beloop, maar ons glo dat dit uiteindelik bestuurbaar sal wees. Ons glo ook die regering het kennis geneem van die belangrikheid van landbou vir die ekonomie, en om in ons ontoereikende infrastruktuur te belê.”

Du Preez sê die bedryf is dankbaar dat die hawe weer operasioneel is, hoewel daar ’n groot agterstand is en die personeel blykbaar verminder is.

Ons moet ook besef dat ons met ’n vars, bederfbare produk werk.
Gamtoos-landbouvereniging

“Die logistieke ketting van verkoelingsgeriewe, verkoeling van meer vrugte vir langer tydperke, die beskikbaarheid van skeepsruimte en leë houers weens die ontwrigting van skedules, die herleiding van skepe weg van Port Elizabeth, die beskikbaarheid van padvragvervoer en gevolglike druk op infrastruktuur het alles omvergewerp.

“Die bemarkingsprogramme moet nou aangepas word volgens die eindbestemming van skepe en nie die eindpunt van voorseisoensbeplanning nie. Dit vertroebel kliënte-verhoudings, al is dit tradisionele, gevestigde verhoudings.

“Dis ’n harde sakewêreld daarbuite met internasionale mededinging vir dieselfde markte. Ons moet ook besef dat ons met ’n vars, bederfbare produk werk.”

Gehalte was en is die Suid-Afrikaanse sitrusbedryf se grootste mededingende voordeel. Die protokol vir goeie gehalte is oorskry weens omstandighede buite die bedryf se beheer.

“Wat doen ons as bedryf? Aan produksiekant pluk en oes ons strenger en stadiger waar vrugvariëteit, gehalte en volumes dit toelaat. Enige seisoen het ’n einde en die oesproses kan nie summier gestaak word nie.

“Aan verpakkingskant moet voorkom word dat varsgeplukte vrugte ophoop en nie aan gehaltebeheer voldoen nie, veral ten opsigte van na-oes-behandeling. Verpakking is ook strenger om goeie gehalte te verseker.

“Aan bedryfskant het die verskillende sitrus-, landbou-ondernemings, motorvervaardigers en die Port Elizabeth-sakekamer saamgewerk om ’n dringende versoek aan die president te rig sodat die dienste herstel kan word.

“Ek glo die voorleggings deur die partye oor die huidige en toekomstige finansiële impak plaaslik en internasionaal het tot hulle deurgedring. Dit bewys net weer dat saamstaan en onderhandelings suksesvol kan wees.”

Volgens Du Preez moet die inligting- en naspoorstelsels in die sitrusbedryf voorsiening maak vir afwykings in die bemarking- en verskepingsketting.

“Dit is onvoorsiene omstandighede en is vir die sitrusbedryf net nog ’n uitdaging, wat waarskynlik herhaal sal word.”

Meer oor:  Gamtoos  |  Sitrus  |  Verliese  |  Landbou  |  Staking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.