Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Streng plan om tropiese tuna te red
’n Uitbeelding van langvin-tuna (bigeye tuna), ’n tropiese tuna waarvan die bronne in die Atlantiese en Indiese Oseaan erg uitgeput word. Dié tuna is effens kleiner as die blouvintuna, en effe groter as die geelvintuna.Foto: WWF/SASSI

Strenger maatreëls gaan in die suidelike Atlantiese Oseaan toegepas word om te keer dat tropiese tunabronne uitgeput word.

Die perk op die vang van langvin-tuna (bigeye tuna) gaan in 2020 tot 62 500 ton beperk word van die huidige 78 000 ton, en in 2021 gaan dit tot 61 500 ton verlaag word.

Die aantal vis-loktoestelle wat ’n vistreiler mag ontplooi saam met sogenaamde purse seine-vangnette om tropiese tuna te vang, gaan ook van die huidige 500 per vistreiler na 350 per vistreiler volgende jaar, en 300 per vistreiler in 2021 verlaag word.

bigeye tuna
Bigeye- of langvintuna is 'n bedreigde visspesie, en strenger reëls word ingestel om die bronne te beskerm.

Dit is van die maatreëls waarop die Internasionale Kommissie vir die Bewaring van Atlantiese Tuna (Iccat) in November besluit het. Die bronne vir langvin-tuna word oorbenut en volgens Iccat is sy onlangse perke op vangste met meer as 20% oorskry.

Suid-Afrika is een van die stigterslede van Iccat en het ’n groot rol gespeel om op die nuwe maatreëls te besluit, het die departement van omgewing, bosbou en visserye, die Suid-Afrikaanse Tunavereniging en die Suid-Afrikaanse Tuna-langlynvereniging in ’n gesamentlike verklaring gesê.

Nog ’n maatreël is dat geen tunavangste met vis-loktoestelle deur purse seine-treilers vir twee maande in 2020 en drie maande in 2021 toegelaat gaan word nie.

Op Sassi se rooilys!

Langvin- of bigeye tuna is ’n tropiese tuna wat op die Suid-Afrikaanse Volhoubare Seekosinisiatief (Sassi) se rooilys is. Dit beteken mense word aangeraai om nié die vis te bestel as dit in ’n restaurant voorgesit word nie omdat dit bedreig word. Volgens die Wêreldnatuurfonds Suid-Afrika (WWF) is dié visse op die VN se lys van bedreigde spesies.

Volgens die WWF is die bestuur van dié tunabronne in Suid-Afrikaanse waters grootliks doeltreffend, maar nie so veel in die groter Atlantiese Oseaan nie omdat wetenskaplike aanbevelings nie nagevolg word nie. Die WWF is wel besorgd oor die ander mariene lewe wat in die nette beland wanneer die tropiese tuna gevang word.

Qayiso Mketsu, adjunk-direkteur vir pelagiese en diepseevisserybestuur by die departement, sê die verbod op tunavangste in sekere maande gee die tunabronne kans om volwasse te word en aan te teel.

Die probleem met die oormatige gebruik van vis-loktoestelle is dat groot hoeveelhede jonger tuna asook ander mariene spesies soos seeskilpaaie en haaie ook in die nette gevang word. Die perk op die gebruik van loktoestelle sal, volgens Iccat, die vang van jonger tuna verminder.

Die aantal wetenskaplike waarnemers op langlyn- en purse seine-treilers in die Atlantiese Oseaan sal ook aansienlik verhoog word, maar die departement het nog nie op navrae gereageer oor presies hoeveel meer waarnemers ontplooi sal kan word en van waar hulle gewerf sal word nie.

Dit is ook nie duidelik in presies watter maande die vang van tropiese tuna met loktoestelle in 2020 en 2021 verbied sal word, of hoe die maatreëls afgedwing en gepolisieer gaan word nie.

Die Oceana-visserygroep het by navraag gesê hy is nie betrokke by tunavangste nie. Die visserygroep Sea Harvest se topbestuurders was nie beskikbaar vir kommentaar nie.

Meer oor:  Tuna  |  Omgewing  |  Landbou  |  Vis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.