Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Stropers wurg SA boere

Avokadoboere ly derduisende rande se skade weens stropers wat tot 30 ton avokado’s in een nag kan steel.

Avokado’s word in Februarie en Maart geoes. Avokadodiefstal styg skerp in die voorafgaande maande omdat die vrugte skaars is en diewe hoë pryse daarvoor kan kry.

Dié misdaad raak volgens ’n peiling wat die Suid-Afrikaanse Subtropiese Kwekersvereniging in 2018 gedoen het 83% van die land se avokadoboere.

“Dis ’n baie duur speletjie,” sê Nelius Human, ’n derdegenerasieboer. “As jy reeds die grond het, kos dit jou net om jou boord te vestig omtrent R350 000 per hektaar. Dit sluit in die voorbereiding, plant en besproei van ons bome.

“Dan is daar nog die produksiekoste. Van plant tot oes gaan jy omtrent R51 000 per hektaar per jaar betaal. Stel jou nou voor jy gaan al hierdie onkoste aan en word met jou eerste plukseisoen een oggend wakker en jou hele boord is leeg.”

Dit het al met hulle gebeur.

Edrean Ernst, ’n direkteur van Allesbeste-boerdery, sê op hul plaas (’n familie-onderneming sedert 1927) maak stropers hulle uit die voete met minstens een bakkievrag op ’n slag. “En dit is minstens een ton vrugte as die bakkie nié volgelaai is nie.”

In die skaars avokadotyd word tot R50/kg behaal, dus kan ’n ton gesteelde avokado’s ’n boer tot R50 000 uit die sak jaag.

“Ons kan net dié wat ons vang en terugkry tel, maar ek skat ons vang so 5% van die diewe,” sê Human. “Daardie 5% se waarde was verlede jaar ongeveer R600 000.”

Die boere bestee miljoene rande aan elektriese heinings, kameras en veiligheidswagte, maar volgens Ernst is dit eintlik maar net ’n afskrikmiddel.

Die gesteelde avokado’s word hoofsaaklik in die binneland op informele markte verkoop, maar selfs ook in supermarkte.

Is dit dalk gesteel?

Edrean Ernst sê: “Mense moet veral op die uitkyk wees vir avokado’s wat los verkoop word en nie meer die klein, kurkagtige knoppie aan die bokant het nie. Dit is deel van die stingel wat die vrug beskerm teen swamme. Gesteelde vrugte het dikwels nie meer daardie knoppie nie omdat dit van die bome af getrek word en nie geknip word soos wanneer werkers dit amptelik oes nie.”

“Verlede week op ons WhatsApp-groep het iemand gevra of enige boer al avokado’s het wat reg is om gepluk te word,” sê Human. “Niemand s’n was reg nie. Maar ry nou na een van die stalletjies toe en jy sal sien hulle het avo’s. Waar kry hulle dit?”

Vroeër toe vrugte sommer vanuit ’n streepsak langs die pad gesmous is, kon ’n mens aanvaar dit is waarskynlik gesteel. Maar in die afgelope drie jaar het boere en veiligheidsmaatskappye al afgekom op geboutjies met fasiliteite om die avokado’s te was en in boksies te verpak, waarna dit na munisipale varsproduktemarkte vervoer word.

“Dis nie meer net een of twee mense nie, maar ’n gekoördineerde besigheid,” sê Ernst.

Hy meen dit sal onverantwoordelik wees om te sê alle informele verkopers van avokado’s verkoop gesteelde vrugte. “Daar ís etiese afsetpunte, maar dit bly ’n groot uitdaging om seker te maak die vrugte is nie gesteel nie.”

Supermarkte moet hul avokado’s ook nie by verdagte verskaffers koop nie, sê Ernst.

Makadamias 

Die diefstal van avokado’s en makadamias in Suid-Afrika het sulke afmetings aangeneem dat dit as sindikaatbedrywighede bestempel is in ’n bulletin van die Global Initiative Against Transnational Organized Crime (GI-Toc).

Die polisie lê beslag op ’n bakkievrag gesteelde avokado’s.

Makadamias is die duurste soort neute in die wêreld en kan tot R757/kg op internasionale markte haal.

In die maande voor Februarie en Maart se oestyd neem diefstal erg toe omdat pryse besonder hoog is weens die skaarste.

Alex Whyte, hoof van bemarking by die Green Farms Nut Company, sê diefstal en die reusekoste van veiligheidsmaatreëls kalwe die wins van makadamiaboere weg.

Die bedryf het private speurders aangestel wat bevind het sindikate dryf die diefstal. “Dit is besonder teleurstellend dat baie van hierdie gesteelde makadamias op die rakke van bekende supermarkte beland – bekende, goed gevestigde kleinhandelaars wat nie die moeite doen om te probeer verifieer waar die neute vandaan kom nie,” sê Whyte.

’n Wesenlike hoeveelheid gesteelde makadamias beland ook in die internasionale mark.

Luidens die GI-Toc-bulletin het private speurders agtergekom van die neute het via Zimbabwe en Mosambiek in die VSA uitgekom.

Hy doen ’n beroep op verbruikers om twee keer te dink voordat hulle makadamias teen ’n onrealisties lae prys koop.

Hout

Piet Bruwer, Merensky Timber se plantasiebestuurder, sê houtdiefstal is óók ’n groot probleem. Veral die jonger bome word afgekap.

Hy glo vas daar is een of meer sindikate betrokke.

“Hulle kry ’n bestelling in Gauteng, huur ’n vragmotor en kom steel. As ons hulle vang, kan die polisie nie die voertuig konfiskeer nie, want die eienaar sê net hy weet van niks nie.

“Die diewe het al van ons werkers met vuurwapens aangehou en van hul sae beroof. Dan kom hulle later met dieselfde sae terug en steel ons hout.”

Polisie het altyd net een voertuig...

Die polisie sê hy kan nie bevestig sindikate is verantwoordelik vir die diefstal op plase en plantasies in die Tzaneen-omgewing nie. 

Marius Jacobs en Craig Coppen, vennote in die plaaslike Canine Security, sê hulle werk oortyd om plase te beveilig.

“Ons kyk ook nie net na ons kliënte nie. As ’n boer ’n hulpkreet uitstuur, reageer ons dadelik,” sê Coppen.

Jacobs sê ’n gebrek aan polisiehulpbronne is ’n groot doring in hul vlees. “Jy kan die Tzaneen-polisiekantoor nou bel. Hulle gaan vir jou sê hulle het net een voertuig beskikbaar en dis maar altyd so.”

Rapport het vroeër die dag vier polisievoertuie by een motorwerktuigkundige se perseel opgemerk. “Ons versien gereeld hul voertuie,” sê Jacobs. “Jy weet, goed soos remskoene, anders het ons geen polisie-ondersteuning nie.” 

Brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder, ontken ten sterkste dat veiligheidsmaatskappye die polisie se werk in dié streek oorgeneem het.

“Polisielede word op ’n daaglikse basis in die polisiëringsgebied ontplooi en die stasie het die Landelike Veiligheidstrategie in werking gestel. Boere maak ook deel van hierdie struktuur uit.”

Mojapelo ontken ook die bewerings van te min voertuie en dat buitestaanders soms help om SAPD-voertuie te laat versien. “Ons kan ook nie die bestaan van sindikate bevestig nie. 

“Ons neem verskillende mense weens verskillende misdade in hegtenis.”  – Hendrik Hancke

Meer oor:  Boere  |  Stropers  |  Makadamianeute  |  Landbou  |  Misdaad  |  Avokado
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.