Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Suiker: Inperking trek wêreld se soettande

Die Covid-19-pandemie gaan dalk regkry wat regerings, dokters en TV-sjefs soos Jamie Oliver al jare lank nié kon regkry nie: Mense gebruik nou minder suiker.

koeldrank
Coca-Cola se verkope wêreldwyd het in die tweede kwartaal met 25% gedaal. Foto: Pixabay

Volgens die firma Czarnikow, wat suiker, etanol en die verpakking daarvoor wêreldwyd koop en verkoop, gaan die vraag na suiker vanjaar vir die eerste keer in 40 jaar daal. Dit kom te midde van die sluiting van restaurante, sportstadions en fliekteaters in die meeste lande weens die pandemie.

Verkope van lekkergoed en koeldrank het getuimel, het die reuse Coca-Cola en Nestlé bekend gemaak.

Hoewel ekonomieë stadig maar seker heropen, is maatskappye onseker hoe vinnig die vraag na hul produkte sal herstel omdat verbruikers onder druk is en werkloosheid die hoogte ingeskiet het.

As jy gaan fliek, sal jy waarskynlik heel gemaklik ’n liter of selfs meer koeldrank drink, maar ons dink nie mense sal ’n hele liter koeldrank drink terwyl hulle Netflix kyk nie.
Ben Seed van Czarnikow

“Verbruik (van suikerprodukte) buite die huis is gewoonlik baie meer as wat jy nou sou vervang en tuis gebruik,” sê Ben Seed, ’n ontleder van Czarnikow in Londen. “As jy gaan fliek, sal jy waarskynlik heel gemaklik ’n liter of selfs meer koeldrank drink, maar ons dink nie mense sal ’n hele liter koeldrank drink terwyl hulle Netflix kyk nie.”

Die suikerbedryf was reeds onder beleg nog voordat die koronavirus die wêreld getref het. Die styging in vraag, wat deur ontwikkelende lande aangedryf is, het die afgelope jare verlangsaam.

Regering het te midde van kommer oor die styging in vetsug en diabetes belasting ingestel op versoete koeldranke, onder meer in Suid-Afrika en Thailand. Gesondheidsgroepe – of in Suid-Afrika individue soos Tim Noakes – moedig mense aan om minder suiker en stysel in te neem.

In reaksie op wetgewing en gesondheidsvrese het vervaardigers al hoe meer kunsmatig versoete produkte in die mark geplaas.

Die inperkings wêreldwyd het egter ’n enorme verskil gemaak aan hoe mense geld bestee, en die wêreldresessie wat vanjaar verwag word, gaan selfs verder die vraag na suiker knou.

Net in die eerste drie weke van April het die volume produkte wat Coca-Cola verkoop het, met 25% geval, en die maatskappy waarsku dat dit sy syfers “wesenlik” gaan beïnvloed.

PepsiCo verwag ook dat sy inkomste gaan daal.

In Duitsland, waar verbruikers ’n groot aptyt vir sjokolade, koek en ander soetgoed het, het ’n bedryfsliggaam vir die lekkergoedbedryf gesê verkope van die helfte van sy lede het in die vier maande tot einde April gedaal.

Czarnikow raam dat die verbruik van suiker vanjaar met 1,2% tot 169,9 miljoen ton gaan daal.

Die Internasionale Suikerorganisasie beaam dat die verwagte groei in suikerverbruik nie vanjaar gaan materialiseer nie.

Die daling in die vraag gaan ’n groter as verwagte suikeroorskot meebring, ook volgende jaar, sê John Stansfield, ’n ontleder by die makelaarsfirma Sopex. Hoewel termynkontrakte vir suiker einde April effens gestyg het toe daar gevrees is die voorraad uit Brasilië gaan daal, is die prys steeds byna 50% laer as die hoogtepunt van 2016.

Hoewel mense wel tydens die inperking meer trooskos soos roomys eet, en daar in Suid-Afrika ’n groot bak-en-brou-tendens ontstaan het, is dit nie genoeg om te vergoed vir die verlies aan verbruik by sport- en vermaakplekke en restaurante nie.

Die Londense roomysvervaardiger Gelati Italiani sê verkope was in vorige jare 30% tot 40% hoër. Hulle word ook geraak deur sosiale distansiëring, wat beteken minder personeel is aan diens. Nie almal is bereid om ’n halfuur in ’n ry te wag vir roomys nie.

Die Amerikaanse departement van landbou verwag dat die vraag na suiker in 2021 wêreldwyd met 3,6% gaan toeneem. Die vraag na soetgoed in Asië en Afrika styg ook steeds skerp soos meer mense die middelklas betree.

Stansfield se grootste kommer is die wêreldwye resessie. “Werklose mense gaan nie na restaurante en kroeë toe nie. Soos die bruto binnelandse produk vasval, so sal suikerverbruik stagneer.” – Bloomberg, verwerk

Die lot van SA suikerboere

Suid-Afrika se suikerbelasting – waarvan die amptelike naam die gesondheidsbevorderingsheffing is – is in April 2018 ingestel met die doel om diabetes, vetsug en ander leefstylsiektes te bestry. Die suiker in koeldrank en vrugtesap word belas.

Die staat se inkomste uit belasting op suikerversoete koeldranke in 2018-’19 was R3,25 miljard, volgens die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) se belastingstatistieke vir die 2018-’19-boekjaar.

Die belasting beloop 2,21c per gram suiker per 100 ml koeldrank of vrugtesap.

Die Suid-Afrikaanse Suikerrietkwekersvereniging (SACGA) voer aan die suikerbelasting het in die eerste jaar wat dit in werking was, 9 000 mense se werk gekos.

’n Jare lange droogte, goedkoop ingevoerde suiker en ’n wêreldwye daling in suikerpryse het ook ’n rol hierin gespeel.

- Hanlie Stadler


Meer oor:  Pepsico  |  Coca-Cola  |  Staat Van Inperking  |  Koronavirus  |  Suiker  |  Inperking  |  Suikerbelasting  |  Suikerbedryf  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.