Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Suikerbedryf se lewe is bitter

Die eens magtige suikerbedryf beleef tans ’n “totale aanslag” wat tot derduisende werksverliese kan lei.

Charl Senekal, een van die grootste suikerboere in Afrika, sê die suikerbedryf kort dringende ingryping deur die regering. Foto: Herman Verwey

Charl Senekal, een van die grootste suikerboere in Afrika, waarsku dat Suid-Afrikaanse suikerboere, hy inkluis, reeds ander gewasse begin aanplant omdat die vooruitsigte vir die suikerbedryf donker lyk.

En dit alles oor ’n situasie wat deur Dean Macpherson, DA-LP en die party se woordvoerder oor handel en nywerheid, as ’n “perfekte storm” beskryf word.

Die eerste groot krisis was toe daar nie verlede jaar tariefbeskerming aan plaaslike boere gebied is teen goedkoop suiker wat ingevoer word vanuit lande waar suikerrietboere gesubsidieer word nie.

Boere in die bedryf het verlede jaar maande lank vergeefs probeer om die regering sover te kry om tariefbeskerming in te stel teen die storting van suiker van veral Brasilië.

Ek is trots op die suikerbedryf. Ons was eens op ’n tyd ’n leier in die wêreld, maar een, twee, drie het hierdie eens magtige bedryf platgeval.
Charl Senekal, suikerrietboer

Senekal sê 514 000 ton suiker – amper die helfte van Suid-Afrika se totale verbruik – is verlede jaar tariefvry ingevoer.

“Dit het ons klaargemaak, en plaaslike boere sit nou met massas onverkoopte suiker.”

Senekal voeg by dat die regering hierdie krisis as ’n “administratiewe fout” aan boere afgemaak het.

Dr. Rob Davies, die minister van handel en nywerheid. Foto: Elmond Jiyane, GCIS

Pleidooie is ontvang, maar daar is nie vroeg genoeg opgetree om genoegsame tariefbeskerming te bied nie, of om ’n lae verwysingsprys te bekamp nie.

Die regering het die dollargegronde verwysingsprys, waarop die invoertarief gegrond word, van $566 per ton tot $680 per ton verhoog, terwyl die bedryf gevra het vir ’n verwysingsprys van $856 per ton.

Suikerbelasting

Tweedens verlam suikerbelasting, wat tydens die begrotingsrede wéér met 5,2% verhoog is, die bedryf.

Die eerste vier gram suiker per 100 ml koeldrank is belastingvry.

Daarna word ’n belasting van 2,21c per gram suiker per 100 ml koeldrank gehef. (Coca-Cola bevat 31,8 gram suiker per blikkie. Die belasting per blikkie Coke beloop dus 44c).

Senekal sê die implementering van hierdie belasting het veral suikerverkope aan die koeldrankbedryf beïnvloed.

Lionel October, direkteur-generaal van handel en nywerheid. Foto: Lucky Nxumalo

Coca-Cola Beverages South Africa het verlede jaar glo 325 000 ton minder suiker gekoop as vorige jare.

Die tesourie het die afgelope belastingjaar amper R2,4 miljard uit die suikerbelasting verdien – R711 miljoen meer as wat verwag is.

Vir die nuwe belastingjaar verwag die tesourie ’n inkomste van R1,986 miljard uit die suikerbelasting.

Die plaaslike suikerbedryf genereer inkomste van sowat R14 miljard.

Verskeie organisasies en vakbonde, soos die Suid-Afrikaanse Suikerrietkwekersvereniging (Sacga) en die Suid-Afrikaanse Suikervereniging (Sasa), het hulle al teen hierdie belasting uitgespreek.

Sasa het vroeër gewaarsku dat tot 20 000 poste verlore kan gaan in die suikerbedryf as daar nie dringend ingegryp word nie.

Dis ’n slagveld en die kleinboere kry die seerste. Hulp vir hulle is ’n uiterste noodsaaklikheid.
Charl Senekal, suikerrietboer

Sacga het die afgelope week in ’n brief aan die portefeuljekomitee oor handel en nywerheid ’n pleidooi vir onmiddellike ingryping deur die regering gerig.

Dié vereniging vrees dat al 350 000 werksgeleenthede in die suikerbedryf verlore kan gaan, en vra onder meer ’n moratorium op suikerbelasting.

Dean Macpherson, DA-LP en die party se skaduminister van handel en nywerheid. Foto: Morapedi Mashashe

Senekal sê hy verwag dat werksverliese tot meer as 100 000 kan styg – of nagenoeg 40% van die suikerbedryf se werknemers.

Kleinboere swaarste getref

“Dis ’n slagveld en die kleinboere kry die seerste. Hulp vir hulle is ’n uiterste noodsaaklikheid,” sê Senekal, wat reeds 500 hektaar se sitrus aangeplant het om sy verliese te beperk.

Volgens Senekal lewer sowat 50 000 kleinboere suiker aan suikermeulens. Verlede jaar het slegs 19 000 kleinboere suiker gelewer, hoewel van die kleinboere saamgesmelt het.

“En as die suikermeulens eers begin sluit, dan kyk jy na onomkeerbare skade aan die bedryf,” waarsku Senekal.

Sasa het reeds gewaarsku dat twee suikermeulens dit oorweeg om te sluit as gevolg van die verhoogde suikerbelasting, laer suikerpryse, onvoldoende tariefbeskerming en stygende insetkoste.

“Ek is trots op die suikerbedryf. Ons was eens op ’n tyd ’n leier in die wêreld, maar een, twee, drie het hierdie eens magtige bedryf platgeval.

“Die regering móét teen werksverliese skerm (as hulle die bedryf wil red),” pleit Senekal.

Joanmariae Fubbs, ANC-LP en die voorsitter van portefeuljekomitee oor handel en nywerheid. Foto: Jaco Marais

Macpherson bepleit weer ’n gesamentlike sitting van die parlement se portefeuljekomitees oor handel en nywerheid, landbou en grondhervorming, asook landelike ontwikkeling om die krisis te bekamp, maar sê dié vergadering word nie toegestaan nie.

Hy het hom nou tot Baleka Mbete, speaker van die parlement, gewend vir ’n dringende nasionale debat oor die krisis.

Joanmariae Fubbs, ANC-LP en die voorsitter van die portefeuljekomitee oor handel en nywerheid, se verweer was dat die vergadering toegestaan sal word, maar dat daar eers gewag is vir ’n verslag van Lionel October, direkteur-generaal van handel en nywerheid, wat Macpherson se kwessies aanpak.

October se verslag is die afgelope week ingedien en sê die handel van suiker is ’n wêreldwye probleem wat “tarief- en nie-tarief-kwessies” insluit.

Die verslag sê ook dat dr. Rob Davies, minister van handel en nywerheid, ’n styging van invoertariewe ondersteun, maar dat dit volgens die kommissie vir internasionale handelsadministrasie (Itac) se reëls moet geskied.

Volgens October het die departement van landbou, bosbou en visserye aangedui dat hulle opkomende swart suikerrietboere sal bystaan.

Die departement van handel en nywerheid het nie op navrae gereageer nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.