Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Suikerreus help opkomende boere só

Groot ondernemings in die Suid-Afrikaanse suikerbedryf gaan al hoe meer betrokke moet raak om opkomende swart boere geleenthede te gee om tot die bedryf toe te tree.

Thoko Didiza, minister van landbou.

Dit was die boodskap die afgelope week van Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, en rolspelers in die suikerbedryf.

Illovo, een van die land se grootste suikervervaardigers, is Dinsdag deur die minister geprys vir sy bydrae tot ’n projek in KwaZulu-Natal wat kleinskaalse boere van suikerriet bemagtig het om hul eie boerderye op die been te bring.

Die program het onder meer behels dat 3 000 hektaar suikerriet ontwikkel word en het uiteindelik gelei tot meer as 860 werksgeleenthede in die provinsie.

Sowat 119 plaaslike kontrakteurs kan nou danksy die projek suikerriet aan Illovo se Sezela-fabriek verskaf. Vroue tel onder dié begunstigdes.

Die nasionale tesourie se indiensnemingsfonds het R63 miljoen aan die projek gegee en Illovo het die bedrag geëwenaar.

opkomende boere
Nomvula Shozi is een van die 119 kontrakteurs wat baat vind by die projek om die suikerbedryf in KwaZulu-Natal meer toeganklik te maak vir die plaaslike gemeenskap en opkomende boere. Foto: Verskaf

Die opkomende boere se verskaffing van suikerriet aan die fabriek sal help om vervaardiging tot 150 000 ton per jaar te verdubbel.

Didiza het benadruk die bydrae wat swart kommersiële boere aan die landbou-ekonomie maak, is steeds klein en sy het weer ’n beroep op die regering en rolspelers gedoen om dit reg te stel.

“Ons moet inklusiewe deelname in die bedryf aanmoedig,” sê Didiza.

Dit was nie net Illovo wat vandeesweek ’n pluimpie gekry het vir sy bydrae tot die ontwikkeling van opkomende swart boere in die suikerbedryf nie.

Die Suid-Afrikaanse Suikerrietkwekersvereniging het die afgelope jaar R128 miljoen bygedra tot transformasieprojekte in die suikerbedryf. Dié bedrag is deel van ’n totale R200 miljoen wat aan die projek beskikbaar gestel is. Die R200 miljoen is verdeel tussen verskeie programme om boere en opkomende boere te help.

suikerriet
Golwende heuwels suikerrietplantasies in KwaZulu-Natal. Foto: Tongaat Hulett

Rex Talmage, uittredende voorsitter van die Suikerrietkwekersvereniging, sê daar is nog ’n lang pad wat die bedryf moet stap, maar daar is gelukkig tekens van herstel.

“Ons het groei van 14% gesien in die verkope van suiker as gevolg van beperkings op die invoer van suiker, en danksy maatskaplike vennote se bydraes.”

Die goeie nuus oor finansiering vir die bedryf word tot ’n mate oorskadu deur die feit dat hierdie opkomende boere klaar ’n 15%-daling in inkomste getoon het teenoor die vorige jaar. Die rede hiervoor word grootliks toegeskryf aan die suikerbelasting, oftewel die gesondheidsbevorderingsheffing wat die regering in 2018 ingestel het. Dit het ’n beduidende impak op die bedryf.

Die projek is oor ’n tydperk van drie jaar tot stand gebring en help 1 704 boere om suikerriet op hul eie grond te verbou.

Meer oor:  Illovo  |  Thoko Didiza  |  Landbou  |  Suikerriet  |  Opkomende Boere  |  Suikerbedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.