Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Suikertaks trek tóg soettande

Suid-Afrikaners gebruik nou die helfte minder suiker as vyf jaar gelede en neem gevolglik ook die helfte minder kalorieë per dag in.

’n Coke-blikkie van 330 ml bevat agt teelepels suiker, wat neerkom op ’n onregstreekse belasting van 11% op die suikerinhoud. Foto: Pixabay

’n Groot deel daarvan kan toegeskryf word aan die suikerbelasting. Hulle koop 29% minder koeldrank.

Dis die bevinding van die eerste volledige, langtermynstudie oor die impak van die heffing vir die bevordering van gesondheid – alom bekend as die suikerbelasting – wat in 2018 in werking gestel is. Die heffing belas die suiker in gaskoeldranke en vrugtesappe.

Die belasting op ’n drankie word gemeet aan die hoeveelheid suiker in die drankie, waarvan die eerste teelepel, of meer as 4g/100 ml suiker, belastingvry is. Vir elke gram suiker daarna betaal jy 2,21c.

Suid-Afrika word egter steeds in die gesig gestaar deur ’n toename in siektes soos diabetes, hipertensie, kankers en kardiovaskulêre siektes wat ’n sterk verband met oormatige suiker-inname toon. Een van die gestelde doelwitte van die belasting was juis om die las te verlig wat die siektes op die land plaas.

Die studie is gedoen deur Priceless SA, deel van die skool van openbare gesondheid aan die Universiteit van die Witwatersrand en Wes-Kaapland, en in vennootstap met die Universiteit van Noord-Carolina in Amerika. Die navorsers wou onder meer vasstel of verbruikers hul gedrag verander het nadat die suikerbelasting ingestel is.

Meer as 3 000 huishoudings se aankope is ontleed vanaf Januarie 2014 (voor die instelling van die belasting) tot Maart 2019.

Navorsers het gekyk na veranderinge in die daaglikse verbruik van suiker en die totale kalorie-inname, en of die volume van aankope van belaste en nie-belaste drankies verander het.

Nicholas Stacey, outeur en senior navorser by Priceless SA, en sy span toon die inname van suiker en aankope van drankies waarop die belasting van toepassing geword het, het wel afgeneem.

Daarvolgens is ’n vermindering van 51% in suikerverbruik, ’n afname van 52% in kalorie-inname en ’n vermindering van 29% in die hoeveelheid drankies wat per persoon per dag gekoop word, ná die inwerkingstelling van die belasting opgemerk.

Die bevindinge is op 8 April in The Lancet Planetary Health gepubliseer.

Die ondersoek het ook na die verskille in aankoopgedrag gekyk wat betref die huishoudings se maatskaplik-ekonomiese status. Huishoudings met ’n laer inkomste het voorheen meer suikerdrankies gekoop as huishoudings met ’n hoër inkomste.

Aankope van versoete koeldrank het deur die bank gedaal, maar dit het meer gedaal onder armer huishoudings. (Die heel armste huishoudings is nie gemeet nie omdat hulle nie juis gaskoeldrank koop nie.)

“Die resultate word gerugsteun deur die impak van soortgelyke beleide in ander lande waar belastings op suikerinhoud gehelp het om oormatige suikerverbruik en energie-inname te verminder,“ sê prof. Karen Hofman, direkteur van Priceless SA.

In Mexiko het suikerbelasting baie gehelp om suikerverbruik te verminder.

“Dis belangrik om daarop te let dat die huishoudings met ’n laer inkomste baie baat vind by die heffing, want dis ook dié huishoudings wat die groter las van vetsug, diabetes en ander siektes dra.”

Voor vanjaar se begrotingsrede in Februarie het aktiviste die tesourie gevra om die land se suikertaks te verhoog tot 20%, maar Jan Taks het dit onveranderd op die huidige koers van 11% gehou. Die Wêreldgesondheidsorganisasie beveel ook aan dit moet 20% wees.

Hoewel die studie bewys suikerbelasting is goed vir die gesondheid van die landsburgers, was dit nie afgelope begrotingsjaar die geval vir Jan Taks nie.

Die tesourie het op ’n verwagte R2,8 miljard vir 2021-’21 uit die suikerbelasting gehoop. Slegs R1,9 miljard is vir die tydperk ingesamel – 20% minder is as die vorige jaar se R2,4 miljard.

Meer oor:  Pricesless-Sa  |  Suiker  |  Suikertaks  |  Belasting  |  Suikerbelasting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.