Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Suikertaks slag 17 000 poste

Suikerrietboere is hoopvol dat ’n verslag wat die vernietigende uitwerking van suikerbelasting toon, die regering “uiteindelik” sal oortuig om dit te skrap.

Die suikertaks het gelei daartoe dat talle poste verloor is.

Die verslag wys dat die gesondheidsbevorderingsheffing (die amptelike naam van die suikerbelasting wat in 2018 ingestel is) teen 2019 die volgende tot gevolg gehad het:

  • ’n verlies aan 16 621 werkgeleenthede in die breë ekonomie;
  • ’n afname van R653 miljoen se beleggings in die ekonomie;
  • ’n afname van R1,19 miljard in die bydrae van die suikerbedryf tot die BBP;
  • ’n verlies aan 9 154 regstreekse werkgeleenthede op suikerrietplase, wat sowat 10% van suikerrietboere se totale werkmag verteenwoordig; en
  • ’n afname van R414,2 miljoen oor twee jaar in die bydrae van suikerrietboerdery tot die nasionale BBP sedert 2017.

Die nasionale ekonomiese ontwikkelings-en-arbeidsraad (Nedlac) het die verslag op versoek van die parlement se portefeuljekomitee oor handel en nywerheid laat opstel.

Rex Talmage, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Rietkwekersvereniging, sê die verslag het net gekyk na die eerste jaar nadat die belasting ingestel is, en die syfers sal nou ná drie jaar veel erger wees.

Talmage wys verder daarop dat die belasting ingestel is in ’n tyd toe die suikerbedryf reeds dwarsklappe uit ander oorde, soos droogte, stygende produksiekoste en goedkoop suikerinvoer, gekry het.

Hy meen dit blyk duidelik uit die verslag dat die belasting net die laaste spyker in die doodskis vir duisende landelike suikerrietkwekers en plaaswerkers was.

Volgens hom is daar geen bewyse dat die belasting die doelwit bereik het om nasionale syfers van vetsug te verlaag nie.

’n Onlangse studie deur die Universiteit van die Witwatersrand se skool van openbare gesondheid tesame met die Universiteit van Wes-Kaapland en ’n Amerikaanse universiteit, het egter wel getoon dat suikerverbruik skerp gedaal het sedert die belasting ingestel is.

’n Ontleding van 3 000 huishoudings se aankope van 2014 tot 2019 het gewys dat hulle nou 29% minder koeldrank koop en in totaal die helfte minder suiker gebruik, en hulle neem gevolglik die helfte minder kalorieë per dag in.

LEES OOK: Suikertaks trek tóg soettande

Gesondheidsaktiviste het boonop voor die begrotingsrede in Februarie gevra dat die belasting skerp verhoog moet word, juis omdat internasionale syfers wys dat so ’n belasting tot laer suikerverbruik en dus tot beter gesondheid lei.

Volgens Talmage val die bekendstelling van die verslag saam met die stigting van ’n taakspan oor belastingbeleid as deel van die suikermeesterplan.

Die taakspan sal die effek ondersoek van die belasting op landelike gemeenskappe en die ekonomieë van gebiede waar met suikerriet geboer word, asook die invloed daarvan op die finansiële volhoubaarheid van die bedryf.

Nedlac het die verslag na die portefeuljekomitee oor handel en nywerheid vir bespreking verwys.

Meer oor:  Nedlac  |  Suikerbedryf  |  Boere  |  Suiker  |  Suikertaks  |  Belasting  |  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.