SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Landbou
Swaarkry wag op plattelandse ekonomie

Die derde misoes in vyf jaar in sekere graanstreke in die Wes-Kaap weens die droogte en stormwinde kan groot swaarkry vir die plattelandse ekonomie beteken.

Koringlande buite Philadelphia in die Wes-Kaap. Foto: Jaco Marais

Richard Krige, ’n boer van Caledon en streekbestuurder van Graan SA, sê die graanmark is ingewikkeld: Elke R1 se verlies op koring veroorsaak ’n verlies van R4 in die plattelandse ekonomie.

“Ons moet dit in gedagte hou as ons na die 2019-oes kyk en na die gevolge wat die droogte inhou vir graanproduserende gebiede en ander dele wat daardeur geraak word,” sê Krige.

Al drie graanstreke in die Wes-Kaap, die Swartland (Malmesbury en omstreke), die Overberg (Bredasdorp en Caledon) en die Suid-Kaapse streek (tussen Swellendam en Mosselbaai) se oes is kleiner.

Overberg

In die Overberg lyk dit asof die oes omtrent 54% van laasjaar se oes en 65% van die vyfjaargemiddelde gaan wees. Dié gebied gaan die afgelope vyf jaar gebuk onder die droogte.

Suid-Kaap

Hier word omtrent 60% van die normale seisoen se opbrengs verwag. Die streek word erg deur die droogte geknel en produsente kry finansieel baie swaar.

Swartland

Die Swartland se oes lyk of dit omtrent 15% onder die vyfjaargemiddelde gaan draai. Dié streek ondervind al jare droogte en sommige gebiede (die noordelike deel) het nou hul derde misoes in vyf jaar.

Krige sê as ’n mens in ag neem dat die droogte al die afgelope paar jaar heers, bly die syfer baie laag.

Die probleme het in Augustus begin en oorgespoel tot September. Dié twee maande is kritiek vir graanverbouing. Dit is die tydperk waar die korrels in die are vul en hiervoor is baie reën of ondergrondse vog nodig.

Aan die begin van die seisoen het die oes baie potensiaal getoon, hoewel dit nie die ideaal was nie, maar ná die laaste paar droë maande is die oes baie kleiner as wat geskat is.

Koringlande buite Philadelphia in die Wes-Kaap. Foto: Jaco Marais

Die eerste skatting vir die koringopbrengs uit die Wes-Kaap was 861 000 ton, die tweede 780 000 ton en die derde 682 500 ton.

Krige sê hy skat dat daar uiteindelik sowat 600 000 ton gelewer sal word.

Die uitermatige stormwinde het koringhalms gebreek. Dié skade was darem nie wydverspreid nie.

Hierdie korrels en are kan net deur vee gevreet word, maar dan moet voorsorg getref word teen suurpens wat tot veevrektes kan lei.

Krige sê die gehalte van die koring is ongelukkig ook beïnvloed omdat dit in die oestyd op plekke gereën het. Dit benadeel die eienskappe van koring wanneer dit gemaal en met die meel gebak word, en van die koring kan dan net as voer gebruik word.

Volgens Krige wag daar ’n moeilike tyd vir graanboere wat nie hul produksiekrediet sal kan betaal nie. Die grootste probleme gaan met hul kontantvloei wees

Die hele waardeketting, finansiële instellings, gemeenskappe en produsente sal moet saamspan om die gevolge van 2019 die hoof te bied. Dit gaan beslis nie maklik wees nie, sê Krige.

Jannie de Villiers, uitvoerende hoof van Graan SA, het in Oktober gesê Graan SA is bekommerd omdat daar reeds in vorige seisoene finansiële druk weens die droogte was.

Produsente het ’n goeie seisoen nodig gehad om hul skuld te kan begin delg en kontant te hê.

De Villiers sê die onvoorspelbare weersomstandighede maak gewasverbouing baie moeilik in Suid-Afrika.

“Dis juis weens die moeilike weersomstandighede dat Graan SA pleit vir hulp van die staat om oesversekering meer bekostigbaar te maak en voedselsekerheid vir almal te verseker,” het De Villiers gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.