Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Tabakboere: ‘Ondersoek NDZ, smokkelhandel’

Drie landbou-organisasies wat tabakboere verteenwoordig, sê dis hoog tyd dat die gerugte oor Nkosazana Dlamini-Zuma se bande met beweerde sigaretsmokkelaars amptelik ondersoek word.

Tabakboere beskuldig die regering daarvan dat hy die inperking misbruik om ’n veldtog teen rook te voer, eerder as dat dit die stryd teen Covid-19 help. Foto: Pixabay

Dlamini-Zuma, die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, het Dinsdag in die parlement opnuut ontken dat sy met Adriano Mazzotti bevriend is.

Mazzotti, ’n direkteur van die plaaslike sigaretvervaardiger Carnilinx, het in 2014 in ’n verklaring erken dat hy by bedrog, geldwassery, korrupsie, belastingontduiking en omkopery betrokke was.

Gerugte oor hul beweerde bande doen al sedert 2017 die ronde. Mazzotti het dit Maandag ten sterkste aan News24 ontken dat hy en Dlamini-Zuma vriende is.

Maar TLU SA sê hy het Woensdag ’n versoek aan pres. Cyril Ramaphosa gerig om ’n regterlike kommissie van ondersoek oor die “onwettige handel in sigarette en alle betrokke rolspelers” aan te wys.

Dit is in belang van Suid-Afrika en die betrokke persone wat onder verdenking geplaas word, dat ’n dringende en deurtastende ondersoek van stapel gestuur word en die hele situasie tot op die been oopgevlek word.
Louis Meintjes, president van TLU SA

Hoewel TLU SA nie by name na Dlamini-Zuma verwys nie, is dit duidelik dat dit oor haar gaan.

“Sedert die skielike ommekeer oor die verbod op tabakprodukte gedurende die inperking word wyd in die media en op sosialemediaplatforms oor die moontlike betrokkenheid van besluitnemers in die nasionale bevelsraad in die onwettige sigarethandel bespiegel.

“Dit is in belang van Suid-Afrika en die betrokke persone wat onder verdenking geplaas word, dat ’n dringende en deurtastende ondersoek van stapel gestuur word en die hele situasie tot op die been oopgevlek word,” sê Louis Meintjes, president van TLU SA.

“Die verbod op die verkoop van tabakprodukte dien geen doel nie, aangesien rokers hulle nou net tot die swartmark wend. Die enigste persone wat uit die situasie voordeel trek, is diegene wat by die onwettige sigarethandel betrokke is.”

TLU SA sê die verbod op die verkoop van tabakprodukte het ’n wesentlike invloed op tabakboere, maar dit raak ook alle rolspelers in die waardeketting.

“Die omvang van die verlies aan aksyns as gevolg van die verbod op tabakverkope is geweldig. Dít terwyl die fiskus nou elke sent moontlik nodig het om die ekonomie te stabiliseer,” sê Meintjes.

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens het vroeg in Mei gesê dat hy in April alleen R1,7 miljard se inkomste verloor het weens aksyns op drank en sigarette wat nie verdien kon word nie.

“Dit is die regering se verantwoordelikheid om dié ernstige aantygings volledig te ondersoek en aan Suid-Afrika verslag te doen,” sê Meintjes. “Dit is noodsaaklik om op te tree wanneer die integriteit van saakmakende rolspelers in die regering in gedrang is.

“Die regering se geskiedenis van voete sleep wanneer dit kom by die ondersoek van korrupsie in eie geledere, skep egter die beeld van ’n regering wat korrupsie kondoneer. Kom ons hoop dat dit hierdie keer nie die geval sal wees nie.”

Die Black Tobacco Farmers’ Association (BTFA) sê hy sukkel om woorde te vind om sy teleurstelling uit te spreek oor die verbod op tabakprodukte wat op vlak 3 van die inperking, wat op 1 Junie begin, voortduur.

“Ons plase gaan onder en daarmee saam ons lewensmiddele. ’n Hele sektor van die landbou-ekonomie wat in swart besit is en getransformeer is, gaan uitsterf. En dit is net die regering se skuld.”

Die organisasie sê dit voel asof die regering hom die rug toegekeer het. “Dit breek ons harte dat elke keer wanneer een van Suid-Afrika se 11 miljoen rokers tydens die inperking ’n sigaret aansteek, is dit onwettige tabak wat hulle rook. Hulle rook blare wat nie Suid-Afrikaans is nie. Hulle gee geld aan mense wat nie wetlik as produsente geregistreer is nie. Hulle verwoes werk, ons plase, en die lewensmiddele van ons lede. En hulle doen dit met die regering se seën, beskerming en fasilitering.”

BTFA sê tabakboere kry geen subsidies, toelaes of tegniese bystand van die regering nie.

“Terselfdertyd sien ons dat ons regering hom blind hou vir die onwettige tabaksektor wat skelms laat floreer. Sedert die begin van die inperking is dit die land van melk en heuning vir die mense wat onwettige sigarette maak en verkoop – en hel vir ons.

“Ons sal weer slawe in ons geboorteland word. En dit net omdat die regering met tabaksmokkelaars in die bed is.”

Die regering verkies om die probleem van onwettige handel – en die verlies van miljarde rande se aksyns – te ignoreer weens sy tweesnydende veldtog om die nasionale inperking in ’n veldtog teen rook te verander.
Ntando Shadrack Sibisi, voorsitter van Satta

Die South Africa Tobacco Transformation Alliance (Satta) het ook ’n beroep gedoen dat die “bande tussen onwettige tabakhandelaars en hoëprofiel-politici” ondersoek word.

“Dis baie duidelik dat ander belange nou ter sprake is,” sê die tabakboer Ntando Shadrack Sibisi, wat voorsitter van Satta en ook president van die BTFA is.

Sibisi sê in hul voorlegging aan die regering het hulle voorstelle ingesluit oor hoe die bedryf saam met die regering kan werk om die verspreiding van die Covid-19-virussiekte te bekamp nadat die verbod op sigaretverkope opgehef word.

“Maar dit is duidelik dat die hele konsultasieproses oor die inperkingsregulasies ’n klug was, en dat die drukgroep teen wettige tabak – eintlik die drukgroep vir onwettige tabak – al lank reeds gewen het.”

Sibisi sê die “twyfelagtige gesondheidsredes vir die voortgesette verbod” beteken dat tabaksmokkelaars miljoene rande uit die eerste vlak van die inperking verdien het, en nou eintlik ’n blanko tjek gekry het om nóg miljoene te maak omdat daar geen aanduiding is wanneer die verbod opgehef gaan word nie.

Sibisi sê die regering misbruik sy mag om die grondwetlike regte van die wettige tabakbedryf en volwasse verbruikers te ondermyn.

“Die regering verkies om die probleem van onwettige handel – en die verlies van miljarde rande se aksyns – te ignoreer weens sy tweesnydende veldtog om die nasionale inperking in ’n veldtog teen rook te verander.”

Hy sê dit is tyd vir ’n ondersoek na wie werklik voordeel uit die tabakverbod trek.

“Verbruikers moet weet waarom hulle weens die regering se verspotte en dwalende houding oor die inperking en rook die risiko loop om in hegtenis geneem word, belaglike pryse moet betaal, en slegs toegang tot produkte van swak gehalte het.”

Satta verteenwoordig nagenoeg 11 000 tabakboere, -verwerkers en -vervaardigers.

Intussen wag die Fair Trade Independent Tobacco Association (Fita) nog op die regering se amptelike redes vir sy verbod op die verkoop van tabakprodukte.

“Al wat ons in hierdie stadium weet, is dat 24 dokumente glo op pad is,” het Sinenhlanhla Mnguni, president van Fita, Dinsdag gesê.

Die regering het tot Dinsdag tyd gehad om die notule van sy besluitneming en die redes vir die vorige ommeswaai oor sigaretverkope op vlak 4 van die staat van inperking bekend te maak.

Indien hy dit betyds ontvang, sal Fita teen Vrydag aanvullende verklarings by die hooggeregshof in Pretoria indien. Die regering het dan tot 3 Junie kans om beantwoordende verklarings by die hof in te dien.

Die partye sal die adjunkregter-president van Gauteng vra om die saak daarna vir die week van 9 Junie op die hofrol te plaas.

LEES OOK: Sigarette: Fita hoor redes vir verbod ‘is nog op pad’

Meer oor:  Fita  |  Tlu Sa  |  Vlak 3  |  Sigaretverbod  |  Vlak 4  |  Inperking  |  Sigarette  |  Covid-19  |  Koronavirus  |  Staat Van Inperking  |  Sigaretverkope
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.