Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Baie ‘boer agteruit’ weens gebrek aan huur-ooreenkoms
Thoko Didiza. Foto: Elizabeth Sejake

Die besetting van staatsplase, grondeise daarop sowel as dispute tussen begunstigdes is van die redes waarom daar nie huurooreenkomste vir honderde van hierdie plase is nie.

Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, het in antwoord op geskrewe parlementêre vrae van die DA gesê dat staatsplase in elk van die nege provinsies aan die begunstigdes van grondhervorming verhuur word, maar dat daar in verskeie gevalle geen huurooreenkoms is nie.

Van die redes wat die provinsies hiervoor gee, is:

* Daar is gevalle waar ’n enkele plaas aan verskeie boere toegeken is en nog nie amptelik onderverdeel is nie;

* Besettings op die plase maak dit onmoontlik om huurooreenkomste aan te gaan terwyl die besettings opgelos word;

* Sommige plase is in die proses om oorgedra te word aan boere en plaasbewoners;

* Dit is onmoontlik om sommige plase te verhuur weens die toename van nedersettings daarop;

* Daar is dispute tussen die begunstigdes; en

* Veranderinge in die huurbeleid die afgelope drie jaar het ’n uitwerking op die sluit van huurooreenkomste gehad.

Huurooreenkomste

Annette Steyn, DA-LP, wat van die vrae aan Didiza gestel het, het Sondag by navraag gesê sy glo nie al die redes oor hoekom ooreenkomste nie bestaan nie.

“Ek is bewus van baie boere wat sukkel om huurooreenkomste te kry. Die administrasie van die departement is uiters swak. Soms weet hulle nie eens die huurooreenkoms het verval nie en moet die boer hulle self daaroor gaan inlig.”

Die eerste oplossing, volgens Steyn, is dat die departement ’n databasis van dié boere moet opstel. 

“Die stelsel waarmee hulle werk, is ’n groot probleem. Dit is ’n groot frustrasie vir die boere dat daar nie ’n ordentlike stelsel is nie.”

Uitsettingsbriewe

Sommige van die boere in Mpumalanga en KwaZulu-Natal, wat self die departement moes gaan inlig dat hul ooreenkomste verval het, het volgens Steyn uitsettingsbriewe van die departement ontvang.

“Die ooreenkomste met baie boere was aanvanklik vir een jaar, toe maak hulle dit drie jaar, later was dit vyf jaar, so baie van die boere is al lank op die grond. Toe begin die departement se rekordhouding verval en hulle is nie seker wie het huurooreenkomste en wie nie.

“Ek het ook al boere gesien by wie se ooreenkomste ’n prys nie ingeskryf is nie. Daar staan dat hulle 10% van hul inkomste jaarliks aan huurgeld moet betaal, maar dié bedrag is onmoontlik om te bepaal omdat hul inkomste eers aan die einde van die jaar bekend sal wees.”

Baie van die boere kan volgens Steyn nie lenings by instellings kry nie weens die gebrek aan ’n vaste ooreenkoms.

“Ek dink baie van hulle boer agteruit want hulle kan nie koöperasie toe gaan vir lenings nie omdat hulle nie ’n bewys het om te sê hulle mag op die grond wees nie.”

Steyn vermoed ook moontlike korrupsie met die bankrekening waarin boere jaarliks hul huurgeld moet betaal. Sy beplan om in meer besonderhede hieroor vrae te stel.

Meer oor:  Grond  |  Boere  |  Landbou  |  Grondeise
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.