Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Pasop, wyn word duur!
wyn
Wynmakers is bekommerd dat wyn te duur word. Foto: Pixabay

Te duur wyn gaan die doodsvonnis van die bedryf wees, het Anton Smuts, voorsitter van Vinpro, Donderdag op die jaarlikse konferensie van dié bedryfsliggaam vir wynboere gemaan.

Terselfdertyd het hy gepleit dat die momentum met prysverhogings wat verlede jaar begin is om boere se winsgewendheid te verhoog, nie verloor moet word nie.

Die konferensie kom kort nadat inligting uitgereik is wat getoon het hoe skerp die volumes en die randwaarde van uitvoer verlede jaar gedaal het en dat wynverkope in die binnelandse mark boonop ook laer is.

Smuts het verwys na ’n prysaanpassing wat verlede jaar in die wynbedryf beleef is. Hy het gesê die afgelope jare se voortdurende afname in die beskikbaarheid van wyn, het ’n hernude fokus op produkte met ’n hoër waarde en hoër pryse per liter in die plaaslike en uitvoermark meegebring.

“Die strukturele aanpassing op pryse is positief en moes lankal gebeur het, maar ons moet versigtig wees om ’n balans te handhaaf tussen die skep van hoër waarde vir verbruikers, prysstygings en die verlies aan volume.

“Ons produkte moet te alle tye waarde vir geld bied. Bly weg van te duur pryse op grond van gehalte. Dit sal ’n slegte impak hê op die positiewe sentiment oor die gehalte van Suid-Afrika se wyne. Dit sal ’n doodsvonnis wees vir die hele bedryf.”

Volgens hom het die prysaanpassings tot wynplase deurgevloei en netto boerdery-inkomste tot meer volhoubare vlakke verhoog.

“Ons moet die momentum volhou om ’n beleggingsomgewing te bewerkstellig waar die opbrengs op belegging vir ons produsente op ’n aanvaarbare vlak is van hoër as verbruikersprysinflasie plus 5%.

“Ons het die geleentheid gehad om Suid-Afrikaanse wyne te probeer herposisioneer in die wêreldmark wat prysvlakke betref en om binnelands volhoubare pryspunte te beding, moet nie nou die pryspunte verloor nie,” het hy gepleit.

Ons produkte moet te alle tye waarde vir geld bied. Bly weg van te duur pryse op grond van gehalte.
Anton Smuts

“Behou asseblief die opwaartse momentum waarmee verlede jaar begin is, al is dit net met baie kleiner aanpassings as verlede jaar.”

Rico Basson, uitvoerende hoof van Vinpro, het gesê sedert 2017 het volumes wat verkoop is met 190 miljoen liter gedaal.

Volgens hom was dit weens die tekort aan voorraad weens die droogte, maar terselfdertyd is pryse van wyndruiwe aangepas.

“Die herprysing het beteken die kopers of tussengangers se marge is onder druk geplaas. As jy skielik 30% meer vir druiwe betaal, maak dit seer.”

Die herprysing is na die mark deurgegee, maar as pryse te veel verhoog word, begin mense na bier en ander produkte skuif.

“Dit veroorsaak die volumedaling wat gesien is.”

Basson het gesê daar is ’n debat nodig of die herprysing skielik van Suid-Afrika se internasionale kopers wegjaag. “Die groot vraag is ook of hulle gaan terugkom.”

Volumes wat uitgevoer is, het wesenlik gedaal in 2019 – met 30% of 76 miljoen vir grootmaatwyn en 14% of 24 miljoen liter vir gebottelde wyn.

Hy het gesê die aanpassing van pryse het die afgelope twee jaar boere se winsgewendheid verbeter.

Vergeleke met 2015 toe net 15% van boere winsgewend was, het dit nou verhoog tot 28%.

Die verliesmakende wynboere bly egter steeds rondom 30%.

Die afgelope twee jaar van begin 2018 tot November 2019 het witwyn- en rooiwynpryse wat wynboere ontvang het met onderskeidelik 43% (R5,25 tot R7,49 per liter) en 44% (R6,98 tot R10,07 per liter) gestyg.

Meer oor:  Vinpro  |  Wyn
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.