Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Teen 3 ºC gaan meer SA suurlemoene na China

Meer suurlemoene gaan uit Suid-Afrika na China uitgevoer word nadat ’n ooreenkoms in die doodsnikke van die huidige uitvoerseisoen onderteken is.

Een suurlemoen van 58 g bevat sowat 30 mg vitamien C. Foto: Unsplash

China en Suid-Afrika het ’n verandering aan die verskepingsprotokol bekragtig wat die temperatuur wysig waarby suurlemoene verskeep moet word.

Plaaslike suurlemoene is voorheen by ’n temperatuur van -0,5 ºC verskeep. Die aanpassing maak nou voorsiening dat dit by 3 ºC verskeep kan word vir die 18 dae wat ’n vrag suurlemoene gewoonlik op see na China op pad is.

Die temperatuur waarby suurlemoene vervoer word, word vasgestel om te verseker dat die vrugte nie siektes tydens verskeping optel nie.

Die temperatuur van -0,5 ºC het baie skade weens koue aan die suurlemoene aangerig en was grootliks die rede waarom die hoeveelhede suurlemoene wat na China uitgevoer is, so beperk was.

“Hierdie aanpassing is baie belangrik vir die behoud van suurlemoene aangesien dié vrug baie kwesbaar vir skade weens lae temperature is,” sê Justin Chadwick, uitvoerende hoof van die Sitruskwekersvereniging van Suid-Afrika.

“Die ondertekening en daaropvolgende uitreiking van die hersiene protokol is vir die suurlemoenbedryf van Suid-Afrika van groot belang.

“Tot nou toe is baie min vragte suurlemoene weens die temperatuur na China gestuur.”

Hoewel baie Suid-Afrikaanse uitvoerders nie meer vanjaar by hierdie wysiging kan baat nie, is daar wel ’n paar wat planne maak om nog vanjaar vragte suurlemoene na China te stuur.

Volgens die bedryf het die uitvoermark vir Suid-Afrikaanse suurlemoene na China baie potensiaal.

In Junie het die Sitruskwekersvereniging geskat dat tot 25 000 ton suurlemoene teen 2024 na China uitgevoer kan word. Dit sal dan meer wees as Argentinië en Chili se vragte na China.

“Ons hoop om nog in die huidige seisoen minstens een of twee vraghouers na China te stuur,” sê een van die uitvoerders.

’n Ander uitvoerder het aan Freshplaza gesê dit is nou laat in die seisoen, maar daar word klaar planne gemaak om aansienlik meer volumes teen volgende seisoen uit te voer.

Volgens die Sitruskwekersvereniging is die jongste oesskatting vir suurlemoene ongeveer 29,5 miljoen kratte.

Chadwick sê soos die einde van die seisoen al hoe nader kom, is 90% van alle sagte sitrus (met ander woorde dié wat maklik skil) reeds vir uitvoer verpak.

Meer oor:  China  |  Uitvoer  |  Suurlemoene  |  Lemoene  |  Sitrus  |  Sitrusvrugte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.