Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Tegnologie op plase beteken vooruitgang

Vooruitgang op die gebied van wetenskap en tegnologie is die sleutel tot doeltreffende en winsgewende boerdery in ’n omgewing waar optimale opbrengste noodsaaklik is.

Onkruiddoder word op ’n sojaboonland gespuit. Foto: iStock

Daarom bestee baie boere deesdae ’n beduidende deel van hul dag daaraan om ingelig te bly oor ontwikkelings op die gebied van nuwe, verbeterde kultivars, presisie-boerderymetodes vir onder meer die doeltreffende gebruik van water en chemikalieë, asook maniere om die produktiwiteit van lewende hawe te verbeter.

’n Goeie voorbeeld is die toepassing van beheerde spoorverkeer (BSV). BSV beteken dat die masjinerie op die plaas so aangepas word dat al die trekkers en plaaswerktuie in dieselfde spore loop. Dit beteken dat grond nie beskadig word deur herhaalde beweging van masjinerie oor die lande nie.

’n Boer wat BSV op sy plaas ingestel het, sê hy het onder meer Google se satellietbeelde van die plaas gebruik om die beplanning vir die spore te doen.

Saag- en sweismasjiene is ingespan om toerusting dieselfde breedte te maak. In die maande voordat die BSV geïmplementeer is, het hy plase in Australië besoek en ’n kongres oor die praktyk bygewoon.

Noudat die kundigheid hier gevestig is, kan ander boere by dié boer leer.

As ’n mens die groeiende vraag na grond vir residensiële gebruik, mynbou en beskermde gebiede in ag neem, is dit duidelik dat ’n krimpende deel van die land beskikbaar is vir landbouproduksie en om ’n groeiende bevolking te voed.

Suid-Afrika se beperkte landboupotensiaal en die relatief hoë koste om hier dieselfde uitsette te lewer as in ander lande, maak die noodsaak van om méér te doen met minder nou dwingend, het prof. Frans Swanepoel van die Universiteit van Pretoria (UP) verlede jaar aan die aanlyn tydskrif The Conversation gesê. Suid-Afrika kry jaarliks gemiddeld minder as 500 mm reën teenoor die wêreldgemiddeld van 860 mm.

Volgens ’n artikel deur dr. Mmatlou Kalaba van die UP in The Conversation moet Suid-Afrikaanse boere meeding teen die beste van die wêreld, maar sonder die nodige ondersteuning van die regering.

Hul mededingers elders trek voordeel uit uitgebreide ondersteuningsprogramme.

Wat landbounavorsing betref, is Suid-Afrika ook nie ’n toonaangewer nie.

Sarah Wild, ’n wetenskapskrywer, het verlede jaar op die SciBraai-webblad geskryf hoewel die Suid-Afrikaanse regering nou meer geld as die private sektor bestee aan navorsing en ontwikkeling, is hul besteding nog nie naastenby by die doelwit van 1,5% van die BBP nie. Die meeste navorsing en ontwikkeling van nuwe rasse en kultivars gebeur steeds in die private sektor.

Die swak rand maak dit boonop vir navorsers nóg moeiliker om internasionaal mee te ding.

Volhoubare boerderypraktyke vir Suid-Afrikaanse toestande kry nie genoegsame ondersteuning nie. Die implementering daarvan begin gewoonlik as klein eksperimente op bestaande plase of dit word deur nieregeringsorganisasies gedryf.

Suid-Afrika het ’n openbare landbouvoorligtingsdiens, maar bedryfsorganisasies soos Graan SA of die Sitrusprodusentevereniging lewer ook belangrike voorligtingsdienste.

Die oordrag van vaardighede en kennis is ’n komplekse proses wat dikwels afhang van die persoonlikhede van die mense wat by ’n projek betrokke is. Dit is waarom dit noodsaaklik is om nuwe boere toegang te gee tot ’n verskeidenheid leergeleenthede.

  • Hierdie artikel is die tweede in ’n reeks oor  die wetenskap van voedselsekerheid en  klimaatsverandering. Dit is gedoen met die steun van die African Academy of Sciences.
Meer oor:  Droogte  |  Klimaatsverandering  |  Trekkers  |  Voedselsekerheid  |  Landbou  |  Klimaat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.