Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Thoko Didiza laat wynboere droëbek
Thoko Didiza. Foto: Daily Sun

Die wynbedryf – wat deur groot onsekerheid gaan – is Donderdag droëbek gelaat toe Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, onverwags nie vir ’n toespraak opgedaag het nie.

Didiza sou die wynbedryf op die jaarlikse Vinpro-konferensie toegespreek het.

Dit sou die eerste keer sedert haar aanstelling in dié portefeulje in Mei verlede jaar wees wat sy wynboere toespreek.

Ivor Price, seremoniemeester en medestigter van die landboumediaplatform Food for Mzansi, het teen teetyd aangekondig Didiza kom nie meer nie, want pres. Cyril Ramaphosa het haar gevra om hom te verteenwoordig op ’n byeenkoms van die Verenigde Nasies se ekonomiese kommissie vir Afrika in Botswana.

Rico Basson, uitvoerende hoof van Vinpro, het gesê dis ’n teleurstelling.

“Dit sou ’n perfekte geleentheid gewees het waarop sy, nadat sy jare terug baie betrokke was in die bedryf, weer perspektief kon kom gee en kon kry.”

Die wynbedryf het baie met Didiza te doen gehad toe sy in die vroeë 2000’s minister van landbou was. Heelwat politiek het geheers toe KWV met sy produkte na Suid-Afrika teruggekeer het en ’n groot bemagtigingstransaksie gesluit het.

Basson sê Didiza is ’n baie senior minister en die landboubedryf sou sekerheid van haar wou kry.

“Die bedryf sukkel om altyd ’n oor te kry van die minister en sien dikwels amptenary wat nie die mandaat het of permanensie het nie.”

Hy sê daar is begrip dat die fiskus nie geld het nie, maar baie van die probleme van die bedryf vereis nie geld nie.

Dit sluit in vraagstukke soos marktoegang, ondersteuning en plaasveiligheid.

Die bedryf sukkel om altyd ’n oor te kry van die minister en sien dikwels amptenary wat nie die mandaat het of permanensie het nie.
Rico Basson

“Hiervoor is politieke wil op lang termyn nodig.”

Basson sê die wynbedryf is van die groter uitvoerkommoditeite van die land en as dit ’n nasionale prioriteit is, het dit ’n ander gesprek nodig.

In teenstelling daarmee moet die bedryf met talle verskillende departemente werk en almal het ’n ander siening.

Christo Conradie, bestuurder van wynkelders by Vinpro, sê dit sou goed wees om uit haar eie mond oor grondonteiening te hoor: “Sy kon dalk vrese besweer of praktiese konteks gee.”

Hy meen ook die bedryf sou wou hoor oor dinge soos wat die departement oor beurtkrag doen weens die invloed op landbou; wat gedoen word met infrastruktuur as die bedryf belangrik geag word; en wat ten opsigte van marktoegang gedoen word.

“Dit sou goed wees om haar mening regstreeks te hoor oor wat die belang van die sektor as geheel is en hoe sy die wynboubedryf sien.”

Dr. John Purchase, uitvoerende hoof van Agbiz, gaan nou in haar plek praat.

Meer oor:  Vinpro  |  Thoko Didiza  |  Wyn  |  Wynbedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.