Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Tito gee geen reddingsboei vir boere – TLU SA
Tonele soos dié is ’n algemene gesig op plase in gebiede waar die droogte heers. Hier laai ’n vragmotor ’n vrag veevoer af.Foto: Facebook/ Boere Droogtehulp SA NPC

Terwyl die voortslepende droogte boere op hul knieë het en bankrotskap, armoede en selfdood landbouterme geword het, was daar Woensdag weer eens geen reddingsboei vir die land se boere nie.

Louis Meintjies, president van TLU SA, sê Tito Mboweni, minister van finansies, het in sy mediumtermynbegrotingsraamwerk geen hulp aan boere gegee nie.

Soos verwag is boere steeds op hulself aangewese, terwyl Eskom weer ’n hupstoot kry, waar geld in ’n nimmereindigende put van korrupsie en wanbesteding gestort word, sê Meintjies.

Daar was Woensdag geen sprake van hulp vir boere in droogtegeteisterde gebiede in die mediumtermynbegrotingsraamwerk nie, sê TLU SA. Foto: Facebook/ Boere Droogtehulp SA NPC

Hy is positief oor die besparings in die staatsdiens wat Mboweni aangekondig het, maar meen “die geskiedenis het ons egter reeds gewys dat die ANC se alliansievennoot Cosatu sulke voorstelle nie goedsmoeds steun nie”.

“Suid-Afrika benodig ’n gesonde beleidsomgewing wat klinkklaar uitstippel waarheen ons op pad is en wat vertroue sal inboesem.

“Tans skep die regering ’n vae en onseker omgewing waar daar aan die een kant aspekte soos swart ekonomiese bemagtiging en onteiening sonder vergoeding gekoester word, terwyl daar aan die ander kant uitkomste verwag en ‘gewens’ word wat afhanklik is van ’n gesonde beleidsomgewing,” sê Meintjies.

TLU SA sê georganiseerde landbou doen wat hy kan om boere te help.

Bennie van Zyl, hoofbestuurder, sê die omvang en tydsduur van die droogte veroorsaak dat daar menslik gesproke later nie meer antwoorde is nie.

Die organisasie het aanvanklik baie daarop gefokus om veevoer aan te ry, maar gevind dit is nie volhoubaar nie.

Tans betaal die TLU SA geld by landboukoöperasies in waar boere dan voer met die geld kan aankoop.

Van Zyl sê bedrae van R5 000 tot R10 000 word vir boere inbetaal.

Veevrektes in die Noord-Kaap het boere op hul knieë. Foto: Facebook/ Boere Droogtehulp SA NPC

“Ons help alle kommersiële boere en vra nie of hulle aan ’n organisasie behoort nie, maar ons geld is betreklik uitgeput.”

TLU SA werk ook deur kerke waar hy geld skenk om lewensmiddele vir boere en hul werkers te koop.

“Ons praat ook met handelsbanke om beweegruimte vir boere met groot skuldlaste te skep.”

Hy sê TLU SA kyk in die Bultfontein-gebied na ’n sindikaatmodel en hoop om finansiering vir die konsep te kry.

Van Zyl sê die Nasionale Kredietwet laat handelsbanke met baie min beweegruimte.

Wildboere in Limpopo is in dieselfde bootjie as hul boere in die Noord-Kaap en die Oos-Kaap.

“Ek is ook bekommerd as die banke hul aptyt vir die landbou-omgewing met sy eiesoortige risiko’s verloor, kan ons die landbousektor verloor. Dit sal rampspoedige gevolge hê waarvan die einde nie eens verreken kan word nie,” sê hy.

Van Zyl sê dit is hartseer dat die staat nie sy kant bring om die situasie te stabiliseer nie.

Daar was voorheen goeie meganismes wat boere kon help, maar dit lyk nie asof die regering dit weer wil instel nie.

Van Zyl sê TLU SA praat ook met kerke om boere se gemoedstoestand te bespreek.

Meer oor:  Tlu Sa  |  Louis Meintjies  |  Mrbt
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.