Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Tjorts: Dié wyntendense is g’n foefies
Skets: Hanlie Malan

Een van die wynbedryf se grootste uitdagings is om te besef dat die sukses van daardie produk in die bottel uitgelewer word aan modes en tendense.

Vir dié van ons wat dink dat dit modieus is om ’n Levi-jean te dra terwyl jy ’n tien jaar oue cabernet sauvignon drink en na ’n Taylor Swift-CD luister, kan dit moeilik wees om ernstig te raak oor die drinkneigings en -behoeftes van die nuwe geslag wynverbruikers.

Maar die wynbedryf is dood in sy skoene as daar nie gehoor gegee word aan waarheen die wêreld en sy honderdmiljoene hedendaagse verbruikers beweeg nie. So, ná uitmergelende en besonder deeglike navorsing, word hier ’n paar van die volgende tendense in die wyn­wêreld voorspel:

Nie-alkoholiese wyne

Laat ek wegspring met die swaarste tendens om te sluk, naamlik die toename in nie­alkoholiese wynverbruik. Ver­lede jaar het Brittanje, Suid-Afrika se grootste wynmark, gestaan en kyk hoe verkope van wyne sonder alkohol (of met minder as 1% alkohol) met byna 70% toeneem.

Al hoe meer jong mense tussen 18 en 30 verklaar hulself alkoholvry om verskeie gesondheids- en maatskaplike redes, en ook omdat dit glo “cool” is om nugter te bly terwyl die mense om jou aan mekaar hang en verstik aan die golwe drankasems.

Die gaping is deur produsente oor die wêreld heen gesien, onder meer in Suid-Afrika, waar Van Loveren onlangs sy Almost Zero-wyn bekend gestel het. Dit bevat ’n skamele 0,5% alkohol.

Dit is aan die gebeur: Kyk, as die magtige SAB ’n zero-alkohol- Castle-bier begin maak, kan jy verseker wees die dop-sonder-skop-gier is geen foefie nie.

Veganiswyne

Veganiste eet of drink glad nie iets wat uit ’n diereproduk ontstaan het nie.

Geen melk, vleis, vis en in sommige gevalle selfs nie heuning nie. ’n Paar jaar gelede was die konsep van veganisme beperk tot ’n paar blommekinders wat lensielasagne eet terwyl hulle op ’n verlate strand kitaar speel.

Dit is nie meer die geval nie – veganisme het die hoofstroom betree, met verskeie Amerikaanse navorsers wat veganisme as die nommer een-kostendens vir 2018 aangewys het.

En hierdie tendens maak opgang in die wêreld se voorste wynmarkte, onder meer Suid-Afrika.

Al wat dit stuit is dat die publiek hier nie so lekker die or­ganiese ding verstaan nie – meesal omdat organiese wyne in gesondheidswinkels en hippie-markte bemark word tussen natuurlik en handgekweekte skorsies en braambessie­smoothies.

Wat het dit met wyn te doen? Wel, sommige dele van die wynmaakproses gebruik soms produkte om die wyn skoon en blink te maak. Soos eierwit, waarvoor ’n veganis so bang is soos Jacob Zuma vir ’n belastingondersoek.

As jou wyn nie veganis­vriendelik is nie, kan jy dalk ’n mark miskyk.

In Amerika was daar oor die afgelope drie jaar ’n 600%-toename in mense wat hulself as veganiste identifiseer.

Volgens ’n verslag deur die navorsingsfirma GlobalData het slegs 1% van Amerikaanse verbruikers in 2014 beweer hulle is veganiste.

In 2017 het daardie getal gestyg tot 6%. In Brittanje het die aantal veganiste toegeneem met 350% vergeleke met ’n dekade gelede, volgens navorsing in opdrag van die Vegan Society in vennootskap met die Vegan Life-tydskrif.

Meer as 600 000 Britte beskou hulself as veganiste, en die toename toon geen tekens van bedaar nie.

En moenie dink Suid-Afrikaners staan ver agter nie – die neiging is hier ook aan die groei saam met die vraag na blomkool-burgers en neutmelkskommels.

Organiese wyn

Dít is wyn gemaak uit wingerde waar geen chemiese voedingstowwe of onkruiddoder gebruik word nie – nét natuurlike plaagbestryders en egte kunsmis.

En soos enigiemand wat gesien het hoe die kosaanbiedinge in die selfs die gewone middelmootsupermark aanspraak maak om “organies” of “natuurlik” en “vryloop” te wees, is die verwagting dat die aanvraag na organiese wyne blitsig gaan styg.

Al wat dit stuit is dat die publiek hier nie so lekker die or­ganiese ding verstaan nie – meesal omdat organiese wyne in gesondheidswinkels en hippie-markte bemark word tussen natuurlik en handgekweekte skorsies en braambessie­smoothies.

Sodra die groter afsetpunte die organiese wynaanbieding opneem, gaan die kategorie so vinnig vlieg soos ’n vegetariese hommelby.

O, brandewyn

Dit is ou nuus dat brandewynverkope die afgelope 20 jaar van die wa afgeval het.

Dit kon net nie by die wispelturige modeveranderings bly nie, en die astronomiese bemarkingsbegrotings waarmee internasionale spiritusfirmas hul ware in Suid-Afrika kom promoveer het, was oordonderend.

Sonder ’n adres is ’n chardonnay maar ’n chardonnay en ’n pinotage ’n pinotage.

Jenewer, en in die besonder plaaslike Suid-Afrikaanse je­newer, het ’n hele markomwenteling in die spiritusmark ingelui met verbeeldingryke verpakking en Suid-Afrikaanse produsente wat in die mark gekom het om regstreeks met die verbruiker te praat.

Die volgende golf wat die jong en byderwetse spiritusmark gaan tref is rum – daardie see­rowerknerts wat uit suikerriet gemaak word. Dit is glo omdat die verbruiker moeg raak vir jenewer se kleur wat wissel van water tot ’n vroulike pienk skynsel. Wel, as donkerkleurige spiritus gesoek word, wat dan van brandewyn?

Hier is nou miskien die kans vir die brandewynbedryf om hom te herskep met modieuse bottels en etikette, miskien ’n verandering in die geurprofiel deur vrugte of spesery by te sit en ’n hele nuwe generasie van selfoontikkende en kleurryk getatoeëerde hipsters te oorrompel.

Streek en herkoms

Dít is vir my ’n hoë noot en ’n plesier om mee af te sluit.

Internasionale navorsing toon dat die plek waar wyn vandaan kom deesdae ’n al hoe groter rol speel in die keuse om die wyn te drink of nie.

Nie net die keuse van die land van oorsprong nie, maar die plek ook. Sonder ’n adres is ’n chardonnay maar ’n chardonnay en ’n pinotage ’n pinotage.

Maar sit Stellenbosch, Swartland, Robertson of Hemel-en-Aarde as die wyn se plek van oorsprong, en die waardeproposisie groei met rasse skrede.

Dit is ’n hedendaagse neiging onder verbruikers om oor die plek van ontstaan en van produksie te wil weet.

Dit is hoe dit hoort, want egtheid en plek van oorsprong is ál wat wyn van ander dranksoorte onderskei – en dít sal altyd in die mode bly.

Meer oor:  Emile Joubert  |  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.