Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Tjorts: Klink een op die waardige, kromme oues

Dit is Suid-Afrika se wynreus Danie de Wet wat altyd sê: “Om die inisiatief te neem, moet jy eers die mens se verbeelding aangryp.”

En hier ter plaatse sit die land wraggies met ’n ding wat die verbeelding van die hele wynwêreld boei danksy enorme inisiatief, deursetting en blote geloof.

Rosa Kruger van die Ou-Wingerd-projek. Skets: Hanlie Malan

Dit gaan oor ou wingerdstokke, daardie gewoonlik laaggroeiende, kortgat bonkige plante wat meer soos bonsai-kremetartbome lyk as iets waaraan korrels sappige wyndruiwe hoort te hang.

Die romantiek van hierdie wingerde se estetiese sy word aangevul deur die feit dat baie van Suid-Afrika se ou wingerde in afgeleë, dorre plattelandse gebiede staan – onder meer in die Swartland, Noord-Kaap, Breederiviervallei en Worcester.

En tot relatief onlangs is hierdie ou wingerde – ons praat van plante met minstens 35 winters agter die blad – grootliks deur die wynbedryf afgeskeep.

Weens die feit dat bejaarde wingerdstokke ligter dragte lewer, is baie uitgehaal en vervang met jonger bloed wat meer druiwe dra en dus meer geld in die boer se bank sit.

Die druiwe van dies wat oorleef het, is teen ’n appel en ei aan die koöperatiewe kelders verkoop vir die maak van bulk-wyn.

Of die wingerd is sommer net so op die land laat staan, die boer afwagtend vir ’n geleentheid om daardie lappie grond meer winsgewend aan te wend.

SA voor in die koor

Hierdie scenario is geensins eie aan Suid-Afrika nie: Europa, Amerika en Australië sit ook met baie bejaarde hout wat jaarliks, steunend en kreunend, ’n paar korrels uitkry om gesny en gepars te word.

Die internasionale nuuskanaal CNN het die projek as een van Afrika se moderne suksesstories bestempel en ’n hele program daaroor uitgesaai.

Maar betreffende die bewaring van ou wingerde en die koppeling daarvan aan die land se nasionale wynbedryf – hier is Suid-Afrika voor in die koor.

Vanjaar, byvoorbeeld, het Suid-Afrika die eerste land geword wat wyne bemark met ’n seël ter bevestiging dat die inhoud van die bottel van druiwe gemaak is wat uit wingerde van minstens 35 jaar oud afkomstig is.

En nee, dis nie net nóg ’n embleem om die etiket-ontwerpers besig te hou nie. Die inisiatief om ou wingerde uit te ken, te bewaar en wynmakers aan te spoor om wyn van hulle te maak het die verbeelding van die wêreld behoorlik aangegryp.

Die voorste en invloedrykste wynskrywers, soos Jancis Robinson, Tim Atkin en Jamie Goode, is vrywillige globale vaandeldraers van hierdie aspek van die Suid-Afrikaanse bedryf. Die internasionale nuuskanaal CNN het die projek as een van Afrika se moderne suksesstories bestempel en ’n hele program daaroor uitgesaai.

Dryfveer agter ou wingerde

En onlangs is Rosa Kruger, die enigmatiese pionier en dryfveer van Suid-Afrika se Ou-Wingerd-projek, in Londen deur die International Wine Challenge (IWC) as die Wynpersoonlikheid van die Jaar aangewys vir wat sy hier in die Kaapse Wynlande uitgerig het.

Hierdie voormalige joernalis en prokureur het in 2002 begin om ou wingerde op te spoor en saam met die grondeienaars en vooraanstaande wynmakers gewerk om die stokke in die grond te hou.

As Eben Sadie, Marc Kent, Charles Back, Chris Alheit en David Sadie bereid is om iets in die bottel te sit, wie is ek of iemand anders om nie in daardie geloof te deel nie?

Met ’n algemene toename in die bewustheid van plante wat in hul gevorderde jare is, en die individuele aard van die wyne wat daarvan gemaak word, het die aanhou van die yl, verstokte wingerde meer aanloklik en finansieel volhoubaar vir die boer geword.

Johann Rupert, nooit iemand om ’n kulturele koord mis te loop nie, het twee jaar gelede saam met Kruger gespan om die Ou-Wingerd-projek staan te maak.

Vandag is dit ’n pronkstuk van die Suid-Afrikaanse bedryf.

Ander wynlande nader nou selfs vir Kruger en André Morgenthal, die bestuurder van die Ou-Wingerd-projek, om raad oor hoe om soortgelyke inisiatiewe op hul eie werwe te begin.

Blik op projek

Sowat 2 618 hektaar ou wingerde is deur die Ou-Wingerd-projek geïdentifiseer, met tien van dié wingerde wat wraggies oor die 100 jaar oud is.

As mens verby die romantiek en die kruistogte kyk, is die vraag natuurlik of ou wingerde beter wyn maak as hul jeugdige eweknieë.

As dit nie die geval is nie, wat maak dit als dan die moeite werd?

Wel, eerstens kan mens jou seker laat lei deur te kyk na die bloedlyne van die wynmakers wat bereid is om hul name en handelsmerke aan ou wingerdwyne te koppel.

As Eben Sadie, Marc Kent, Charles Back, Chris Alheit en David Sadie bereid is om iets in die bottel te sit, wie is ek of iemand anders om nie in daardie geloof te deel nie?

Morgenthal, die vaandeldraer van die Ou-Wingerd-projek, hou gereelde optredes waartydens hy die storie van ou wingerde vertel.

Hy maak ook die gehore attent op die diepte en persoonlikheid wat hy ervaar wanneer hy wyne proe wat uit hierdie bejaarde wingerde gemaak is.

Dit is glo iets met die middel-palet te doen . . .

Vir my gaan dit, soos met elke wyn, oor hoe mens daardie wyn ervaar en hoe jy dit sien. Ek glo nie in die uitdeel van punte en sterre nie – dit los ek eerder vir die hondeskoue.

Vir my gaan dit oor die geleentheid, die druifkultivar en die oorsprong wat die drinkervaring van dít in die glas aanvul.

En persoonlik – soos elke siening oor wyn maar is – praat die stomp stamme met hul bejaarde ou trossies met my in die taal wat ek verstaan en waarvan ek hou.

  • Én ek weet dat die hele wêreld ook luister. Vir nader besonderhede oor die Ou-Wingerd-projek, besoek die webwerf by oldvineproject.co.za.
Meer oor:  Emile Joubert  |  Wynbedryf  |  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.