Die suikerreus Tongaat Hulett gaan nie die inhoud van die forensiese verslag van PwC publiseer nie.
Hy gaan ook nie teen einde Oktober sy resultate vir die jaar tot einde Maart bekend maak nie.

Tongaat Hulett produseer suiker. Foto: Argief
Die maatskappy het Maandagaand in ’n verklaring op die JSE se nuusdiens, Sens, gesê hy verwag om op 18 November bekend te maak presies wanneer dié resultate uiteindelik beskikbaar sal wees.
Verhandeling in Tongaat se aandele op die JSE en die Londense aandelebeurs is reeds in Junie opgeskort nadat ’n boekhouskandaal op die lappe gekom het.
Hy het destyds gesê sy finansiële resultate vir 2018 is nie betroubaar nie en dat hy ’n forensiese ondersoek van stapel gestuur het. Sy inkomstesyfers vir die 2018-boekjaar is moontlik met tussen R3,5 miljard en R4,5 miljard oordryf.
Tongaat het Maandag gesê dié ondersoek deur PwC is nou afgehandel en die verslag is na Bowman Gilfillan gestuur.
Bowmans het PwC namens Tongaat aangestel om die ondersoek te doen.
“ ’n Oorsig van die verslag sal op ’n toepaslike tydstip aan aandeelhouers gegee word. Die verslag self is vertroulik en onderworpe aan privilegie. Dienooreenkomstig sal dit nie gepubliseer word nie.
“Die direksie – saam met die bestuurspan – vorder goed met die ontwikkeling van ’n robuuste remediërende plan in reaksie op die forensiese verslag,” sê Tongaat in die verklaring.
Omkeerplan en skuld
Tongaat sê in die verklaring hy vorder ook goed met ’n omkeerplan vir die maatskappy, asook met onderhandelinge om sy skuld te herstruktureer.
Tongaat se skuld beloop sowat R11 miljard.
Gavin Hudson, uitvoerende hoof, het vroeër vanjaar gesê Tongaat bestee sowat R1 miljard per jaar aan skulddelging. “Tongaat gaan nie vinnig reggeruk word nie,” het Hudson gesê. “Maar ons oorweeg alle opsies.”
Hudson is in Februarie aangestel as uitvoerende hoof om ’n omkeerplan in werking te stel en die maatskappy te red.