Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Tongaat verhandel weer op JSE

Verhandeling in Tongaat Hulett se aandele hervat Maandag ná agt maande op die JSE, maar die regruk van die suikerreus is nog ver van klaar.

Tongaat Hulett se suikerrietlande by Shongweni in KwaZulu-Natal. Foto: Verskaf

Tongaat het Vrydag sy resultate vir die halfjaar tot einde September uitgereik.

Hy het die JSE in Junie 2019 versoek om die verhandeling van sy aandele op te skort nadat sy aandeelprys toe reeds getuimel het tot slegs R13,21 van ’n hoogtepunt van R90 in Augustus 2018.

Tongaat het vroeër belowe sy aandeleverhandeling sou hervat word sodra hy sy finansiële resultate vir die

boekjaar tot einde Maart bekend maak, wat in Desember gebeur het, maar het toe gesê hy het meer tyd nodig om rekeningkundige ongerymdhede te ondersoek. Dit het hom kans gegee om groter insig te kry in die vordering met die herstrukturering wat einde Maart 2019 afgeskop het nadat grootskaalse boekhoubedrog aan die lig gekom het.

Baie ontleders het die gebeure by Tongaat vergelyk met dit wat by die Steinhoff-groep gebeur het.

Gavin Hudson, uitvoerende hoof van Tongaat, het Vrydag in ’n voorlegging aan belanghebbendes gesê die afgelope jaar was “verskriklik”, maar die jongste halfjaarresultate wys daar was ’n “wesenlike verbetering”.

Die maatskappy se syfers vir die 2018-boekjaar, wat daartoe gelei het dat verhandeling in sy aandele in Junie opgeskort is, moes heraangegee word en ’n forensiese ondersoek deur die ouditfirma PwC is van stapel gestuur.

Dié ondersoek, sê Hudson, is nou voltooi en wys vingers na ’n paar voormalige senior bestuurders by Tongaat, onder andere Peter Staude, voormalige uitvoerende hoof wat verlede jaar uitgetree het.

“Ek dink ons is nou by die eindpunt van hierdie moeilike tyd,” sê Hudson.

Die maatskappy sit nou egter met ’n kolossale R13 miljard-skuldlas.

In die herstrukturering het Tongaat op groot skaal van bates ontslae geraak. Dit het gelei tot ’n verbetering van R963 miljoen in sy bedryfswins tot R1,28 miljard in die halfjaar tot einde September. Maar dit is steeds nie genoeg om ’n bedryfsverlies teen te werk nie.

“Die bedryfswins word nou opgevreet deur ons finansieringskoste,” sê Rob Aitken, finansiële hoof.

Ek kan nie sê ek is trots om hier te staan en ’n verlies aan te kondig nie, maar daar is ’n verbetering.
Gavin Hudson, uitvoerende hoof

Tongaat se wesensverlies is wel 11% laer op R314 miljoen.

“Ek kan nie sê ek is trots om hier te staan en ’n verlies aan te kondig nie, maar daar is ’n verbetering,” sê Hudson.

Die maatskappy met sy nuwe direksie is besig om die voorstelle van PwC se forensiese ondersoek toe te pas, maar hy sit steeds met twee groot probleme: sy skuldlas en sy bedrywighede in Zimbabwe wat met hiperinflasie stoei.

Die grootste deel van die verbetering in Tongaat se bedrywighede was in Zimbabwe, maar Aitken verduidelik dat hiperinflasie ’n groot impak het op die winsgewendheid van hierdie deel van sy onderneming. ’n Verdere probleem is dat dit moeilik is om sy verdienste uit Zimbabwe te repatrieer.

Aitken sê daar word vordering gemaak met Tongaat se skuldplan.

As deel van sy ooreenkomste met sy krediteure is die eerste van vier mylpale van sy skuldplan ses maande vroeg gehaal, sê Aitken. ’n Totaal van R610 miljoen is afbetaal in Januarie, terwyl slegs R500 miljoen teen Junie verwag is.

Dit sal ’n groot impak hê op die rente wat Tongaat moet betaal, wat in die halfjaar onder oorsig R894 miljoen beloop het en grootliks bygedra het tot die R944 miljoen omvattende verlies wat in dié tydperk aangeteken is.

In syfers
  • Omvattende verlies: R944 miljoen
  • Wesensverlies: R314 miljoen (-11%)
  • Inkomste: R8,085 miljard (-1,5%)
  • Bedryfswins: R1,278 miljard (+75%)


    Meer oor:  Pwc  |  Aandele  |  Resultate  |  Beleggings  |  Suikerbedryf
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.