Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Tonne ingevoerde hoender sit op vragskepe in Durban

Sowat 20 000 ton ingevoerde hoendervleis kan weens vertragings en struikelblokke ná verlede week se onluste nie vanaf Durban se hawe versprei word nie.

Foto ter illustrasie. Hoewel die bedrywighede in die Durbanse hawe ná verlede week se onluste hervat is, is daar steeds vertragings en probleme om produkte, soos ingevoerde hoender, uit die hawe te vervoer. Foto: Unsplash

Die volume bevrore hoender in vraghouers op die hawe kan egter toeneem omdat nóg vragskepe reeds met tonne ingevoerde hoenderprodukte na Suid-Afrika op pad is.

Die verspreiding van die hoendervleis raak nou ’n groot kopseer vir die Vereniging van vleisinvoerders en -uitvoerders (Amie) en daarom wil hy dringend met Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, en Ebrahim Patel, minister van handel, nywerheid en mededinging, praat.

Volgens Paul Matthew, uitvoerende hoof van Amie, het die onluste verlede week veroorsaak dat die invoerbedryf 40 000 ton vriesgeriewe verloor het en aansienlike hoeveelhede roumateriaal is ook in die oproer vernietig.

Volgens Matthew is die groot uitdagings beperkende regulasies en administratiewe rompslomp wat die vinnige en doeltreffende verspreiding van kos in die wiele ry.

Voordat ingevoerde hoenderprodukte na vervaardigers versprei kan word, moet dit eers in koelkamers geberg word en toetse moet ook eers in laboratoriums daarop gedoen word.

Die skade aan die hawe se bergingsgeriewe en sy vermoë om invoergoedere te hanteer, vertraag die proses aansienlik. Vervoer en logistiek uit Durban se hawe verloop steeds nie vlot nie.

Amie versoek die regering om toegewings te maak sodat ingevoerde hoender vinniger uit die hawe versprei kan word.

Die grootste uitdaging vir die invoerders is om die hoender van die skepe af en in stoorkamers te kry of na vervaardigers te vervoer.

Volgens Matthew is baie van hierdie stoorkamers vernietig en toetsmonsters kan óf nie by die laboratoriums uitkom vir toetse nie óf die laboratoriums is vernietig.

“Die vertragings om die hoenderprodukte na vervaardigers en verspreiders te vervoer, gaan die voedselsekerheid bedreig en die vervaardiging van proteïen-produkte op kort termyn affekteer. Ons wil ’n verslapping in regulasies met die onderskeie departemente bespreek en vergunning vir minstens drie maande vra om die verspreiding van ingevoerde hoender makliker te maak.”

Amie wil onder meer vra dat toegewings gemaak word om van die ingevoerde produkte wat in die vervaardiging van worsies gebruik word, regstreeks na die vervaardigers te kan vervoer.

“Ons wil ook vra dat ons verseëlde hoender regstreeks na koelkamers in Gauteng kan vervoer. Ons koste om die hoenderprodukte in die vraghouers te hou, hoop op, want hoe langer ons die vraghouers gebruik, hoe meer moet ons daarvoor betaal.”

Volgens hom is die gevaar nie dat die hoenderprodukte sal afgaan of vrot nie, want die vraghouers het krag en sommige het selfs hul eie kragopwekkers. Hoender word teen -5 °C op vragskepe vervoer.

Sodra dit in die hawe van die skepe afkom, kan die vraghouers ingeprop word.

“Die meganismes wat die in- en uitvoer van voedsel beheer, is nie nou beskikbaar nie. Ons moet met ’n ander lewensvatbare strategie vorendag kom om seker te maak dat die invoer van kosprodukte glad verloop.”

Amie vra daarom toegewings dat die toetse, papierwerk en inspeksies op vragte vrygestel word.

Kos se veiligheid ‘moet eerste kom’

Fairplay, ’n teenstortingsbeweging wat hom daarvoor beywer om die invoer van hoenderprodukte na Suid-Afrika beter te beheer en te reguleer, sê in ’n verklaring hy het simpatie met die situasie, maar die veiligheid van voedsel is ook ’n belangrike oorweging voordat regulasies sommer net verslap kan word.

In die verklaring sê Fairplay voedselsekerheid en -veiligheid gaan hand aan hand.

“Brasilië, wat die wêreld se grootste uitvoerder van hoenderprodukte is, het hom reeds skuldig gemaak aan verskeie skandale wat voedselveiligheid betref,” sê Francois Baird, stigter van Fairplay.

“Heelparty lande het reeds tydelik hul invoer uit Brasilië uit vrees vir besmetting van die ingevoerde produkte gestaak.

“Suid-Afrika se voedselsekerheid is ’n kwessie nadat kosvervaardigings-, verspreidings- en stoorplekke in die onlangse oproer vernietig is. Ons het daarom baie simpatie, maar daar kan nie sommer net ’n algehele verligting van inspeksies van en toetse op produkte uit Durban se hawe gegee word nie.”

Fairplay stel voor dat die betrokke staatsdepartemente, invoerders, voedselvervaardigers en plaaslike vervaardigers van vleis en hoender, bymekaarkom en raam wat die verskillende rolspelers se skade beloop.

“So kan ook vasgestel word wat die beskikbaarheid is van hoenderprodukte uit die plaaslike mark, wat ingespan kan word om in die behoeftes te voorsien.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.