Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Topboer is planmaker

Om ’n suksesvolle sagtevrugteboerdery te bedryf, is een van die uitdagendste goed wat ’n persoon kan aanpak. Dit is presies waarom die 32-jarige Alexander Gibson van die boerdery Doornkraal Agri só lief is vir wat hy doen. Samantha van den Berg het met hom op sy plaas in die Witzenbergvallei gaan gesels nadat hy as Agri Wes-Kaap en Santam Landbou se Jongboer van die Jaar aangewys is.

Die plaas Doornkraal is in 1978 by die Retief-familie gekoop en is vandag die vlagskipplaas van die Gibsons se Doornkraal Agri-boerdery.

Die ontwikkeling en vooruitgang van mense is die spilpunt waarom die suksesvolle appel-en-peerboerdery Doornkraal Agri in die prentjiemooi Witzenbergvallei draai.

Hier kom die welstand en geluk van die mense wat dag in en dag uit vir die boerdery werk eerste – bo vruggehalte, uitpaksyfers en gunstige wisselkoerse.

“Die mense hier bly my nommereen-prioriteit,” verduidelik Gibson.

Alexander Gibson (32), die Wes-Kaap se Jongboer van die Jaar vir 2021. Hy boer in die Witzenbergvallei.

“Ongeag of dit nou personeel op arbeidsvlak of bestuursvlak is, ek wil hê hulle moet gelukkig wees.

“Ek glo dit is juis hiermee wat ek die laaste sowat ses jaar die grootste verskil in ons boerdery gemaak het.”

Met Gibson se groot passie vir ’n gelukkige werkerskorps is dit dan ook geen verrassing nie dat mense en goeie menseverhoudings een van die drie pilare is waarop dié boerdery staan.

Die verdere ontwikkeling en bemagtiging van mense was ook een van die doelstellings wat hy vir homself gestel het toe hy uiteindelik die leisels van die boerdery as bedryfsdirekteur oorgeneem het.

“As jy vir iemand meer verantwoordelikheid gee, dan sien jy hoe daardie persoon uit sy of haar boksie klim.

“My pa het dieselfde met my gedoen en ek doen dieselfde met my bestuurders.

“Dit is wonderlik om te sien hoe ontpop iemand met meer verantwoordelikheid,” sê hy.

Die Doornkraal Agri-boerdery neem altesaam 1 200 mense (tydelike werkers ingesluit) in diens.

“Ons is ’n bitter jong span wat die onderneming bedryf, maar ons operate iets vreesliks. Almal hier is lief vir ’n uitdaging en het ’n positiewe gesindheid – en daarom werk alles só goed. In ’n uitdagende landbou-omgewing soos in Suid-Afrika sou ek nie eers na ’n plaas wou kyk sonder hierdie sterk onderbou van mense wat ons het nie – mense met soveel entoesiasme en die regte gesindheid.”

Mense en goeie menseverhoudinge is een van die drie pilare waarop die Doornkraal-boerdery staangemaak is. Dié boerdery neem altesaam 1 200 mense in diens – dit sluit die tydelike werkers in.

Toe tot nou

Gibson het aan die Boland Landbouskool in die Paarl gematrikuleer, waarna hy ’n BAgric-graad aan die Universiteit Stellenbosch verwerf het.

Hy het sowat 11 jaar gelede voltyds saam met sy pa, George, by die boerdery aangesluit, waar hy tans altesaam 600 ha appels en pere vir die uitvoermark op die plase Doornkraal, Kleinbegin, Visgat en die jongste toevoeging tot die boerdery – die plaas Driefontein – verbou.

Die vrugte word op die plaas self verkoel en verpak met behulp van die boerdery se eie koel- en pakgeriewe – ’n belegging in die volle waardeketting wat Gibson se pa reeds in die laat 1990’s gemaak het.

“Ek het my loopbaan hier as koelkamerbestuurder begin,” verduidelik Gibson oor sy beginjare by Doornkraal Agri. “Later het ek uitgeskuif plaas toe as ’n produksiebestuurder op die Kleinbegin-plaas. Daarna het ek myself ’n jaar lank op menslike hulpbronne en wetgewingvoldoening toegespits, gevolg deur ’n pos as pakhuisbestuurder.”

Gibson meen dit was vir sy pa baie belangrik dat sy seun homself van die grond af opwerk.

Gibson verbou tans altesaam 600 ha appels en pere vir die uitvoermark.

Die spreekwoordelike sleutels na die plaas is nie sommer net so ná sy studie aan hom oorhandig nie.

“Dit was vir hom baie belangrik, maar vir my ook. Dit het my nie net geleer hoe elke komponent van die boerdery werk nie, maar ook hoe om goeie mensebestuur toe te pas.

“Jy moenie aan ander doen wat jy nie aan jouself gedoen wil hê nie, en dit is iets wat ek eerstehands kon leer.”

Gibson meen dit is moeilik om nie landbou in jou bloed te hê as jy grootword as deel van ’n ontwikkelende boerdery en landbou-onderneming nie.

“Ek het altyd geweet ek gaan plaas toe kom. Ek het aanvanklik net nie geweet in watter afdeling ek die meeste sou floreer nie – hetsy dit nou in die boord of pakstoor byvoorbeeld sou wees . . . dit het eers later gekom. In die landboubedryf vandag is dit egter belangrik om ’n besigheidsmentaliteit te hê – jy moet iets van alles weet en jy moet dit kan doen. Dit het vir my een bitter groot uitdaging geword en dit is uiteindelik wat my totaal en al na die boerdery toe trek,” verduidelik hy.

“Jy moet mense kan bestuur, jy moet kan beplan – jy moet álles van ’n boerdery af weet. Dit is só uiteenlopend, maar vreeslik lekker.

“Jy stap dalk elke dag by dieselfde kantoor in, maar dit gaan nie ooit dieselfde dag of uitdagings wees nie.

“As ek gaan kyk na waar ek 11 jaar of selfs vyf jaar terug was . . . Sjoe! Ek het bitter baie geleer en ek leer nog elke dag iets nuuts.”

Tegnologie en slim boerderypraktyke is ’n hoofsaak op Doornkraal. Haelnette en hoëdigtheidsaanplantings beskerm oeste teen natuurlike rampe en verseker gehalte.

Boublokke vir sukses

Volgens Gibson is Doornkraal Agri op drie pilare staangemaak: dissipline en netheid; mense en goeie menseverhoudings; en eerlikheid en opregtheid.

“Daar is net een manier waarop jy besigheid kan doen, en dit is om dit opreg en eerlik te doen,” glo dié jongboer.

Daarbenewens glo Gibson ook dat die goeie verhouding wat hy en sy pa het, grootliks tot hul sukses bydra.

“My pa is nog by die boerdery betrokke, maar in ’n mindere mate. Hy neem nou sy langnaweke en geniet sy lewe. Daar is baie familieondernemings wat sukkel of vou omdat daar een is wat net wil oorvat. Ek en my pa sien dit baie anders. My pa sal nooit in sy lewe heeltemal kan aftree nie en daar is geen manier waarop ek hom gaan forseer nie. En waarom sal ek wil?

“Ek leer nog vreeslik baie by hom. My pa en al die kennis waaroor hy beskik, is ’n groot aanwins vir die boerdery,” sê Gibson.

“In sy geval redeneer hy weer: ‘Waarom moet ek met my seun baklei as alles werk – die boerdery is in goeie hande.’ Hierdie verhouding, glo ek, vorm deel van ons sukses.”

Jongboer sê: “Suid-Afrika se jongboere het die vermoë om die land se ekonomie heeltemal om te keer – en sommer baie vinnig. Kyk net na die werkskepping en hoeveel geld ons landbouprodukte die land inbring. Laat ons net toe en gee ons die kans en ons sal dit beslis kan doen. Ek wil graag eendag vir my kinders sê ons was ten gronde op ’n stadium en ons het dinge omgedraai,” sê Gibson.

Vernuwing

Benewens die ontwikkeling van mense as een van sy doelstellings, het Gibson ook ’n doel vir homself gestel om slimmer te boer en só die winsgrens van die boerdery te verhoog. En daarvoor moes hy tegnologie inspan.

“Ek glo ons is vandag een van die mees vooruitstrewende sagtevrugteboerderye wat tegnologie betref. Dit is vir my nogal belangrik. Ons bedryf ’n groot boerdery en dit is moeilik om by alles uit te kom – daarom het ek tegnologie ingespan om dit alles te bedryf,” sê hy.

Van hierdie nuwighede sluit in paneelborde waarvandaan Gibson onder meer ’n ogie op die boorde kan hou, die boerdery se mensebestuur kan doen en die sekerheidstelsels kan beheer, tot tegnologie soos rekenaar­besproeiing snags en hoëdigtheidsaanplantings aan die produksiekant.

“Ons het in 2013 ’n groot haelstorm gehad wat 95% van die oes verwoes het. ’n Ervaring soos daardie maak jou baie vinnig nederig en laat jou ook besef dat jy nie alles kan beheer nie.

“Ons het egter intussen baie verskuiwings gemaak om onsself in ’n beter posisie te plaas as soiets weer gebeur.

“Ons was byvoorbeeld daardie tyd nie deel van ’n bemarkingsagent of ’n versappingsaanleg nie. Ons moes ook belê in haelnette,” sê hy.

Ná ’n besoek aan boerderye in Europa in 2016 saam met die plaas se tegniese adviseur, het Gibson vorendag gekom met ’n plan om moderne hoëdigtheidsaanplantings toe te pas ten einde hulself teen toekomstige natuurlike rampe te help beskerm en die gehalte van die vrugte te verbeter.

Aanvanklik was daar teenkanting vanweë die groot insetkoste van die projek, maar vandag is dit ’n groot suksesverhaal.

“Ons sou in die verlede eers teen die derde jaar 30 ton per hektaar kon afhaal, maar nou gaan ons dit sommer in die tweede jaar realiseer. Ons styg nou regtig uit wat gehalte betref.”

“ ’n Vrugteboerdery is afhanklik van mense – ek kan nie op my eie boer nie. Daarom wil ek graag teruggee,” sê Gibson.

‘Ons wil help’

Die landboubedryf in Suid-Afrika is tans baie uitdagend. Ondanks verskeie uitdagings en ander risiko’s, hang grondonteiening en politiekery soos ’n donker wolk oor die bedryf, meen Gibson.

“Dit is moeilik vir ’n boer om te belê en werk te skep met daardie donker wolk wat oor jou hang. Dit is baie uitdagend. Elke land se landbousektor het uitdagings – ons het dalk net baie meer.

“Maar as jy nie ’n passie vir landbou gehad het nie, sou jy seker nie hier gewees het nie – en ek wíl deel van die oplossing wees. Ons as boere koop in op grondhervorming en bemagtiging, maar wil deel wees van planne wat werklike bemagtiging bewerkstellig.

“Een van my boerdery se pilare is dan mense, dus wil ek deel wees van die oplossing.

“Maar ek wil nie in ’n blik gedruk word om iets te doen wat mense nie werklik gaan bevorder nie,” voer hy aan.

“Wys vir my een boer wat nie regtig mense wil bemagtig nie – dít ondanks daardie donker wolk wat bo ons hang.

“Ek verpes dit as grond as ’n politieke speelbal gebruik word, want die mense op grondvlak ly daaronder. Dis net simpel.

“Die regering moet mense ophef en ons as privaat sektor gebruik om daarmee te help.

“Daar is bitter min mense in die wêreld wat so innoverend is soos ’n Suid-Afrikaanse boer. Gebruik ons net. Trek ons in.

“Ons kan met briljante planne vorendag kom, maar die regering moet bereid wees om te luister.”

grafika

GEBORG: Sagtevrugtebedryf

Van die insetverskaffers waarmee die Jongboer-wenner Alexander Gibson sake doen, is: 

AECI Plant Health, ‘n landboumaatskappy wat toegewyd is daartoe om boere oplossings te bied deur die natuur se potensiaal te ontsluit. 

RSA Agri Makelaars, vir jou korttermynversekering-behoeftes. 

Boy Louw Ing., prokureurs, notarisse en aktebesorgers. 

Villiersdorp Koöperasie, landbouverskaffers sedert 1922. 

Standard Bank: Boere, die hartklop van ons ekonomie. 

Warrick Raubenheimer Architecture, vir al jou planvereistes vir jou residensiële-, kommersiële- en landboubedrywighede. 

TopFruit, internasionale leiers in kultivarbestuur. 

Stargrow, jou wortel tot goeie vrugte. 

Key Phase, operasionele bestuursagteware van die boord tot die pakstoor. 

Red Ant Agri Engineering, ingenieursoplossings vir die landboubedryf. 

Africa Biomass Company: ‘n Wêreldleier in die herwinning van hout.

Farsoft Solutions ontwikkel en ondersteun inligtingstelsels vir die varsproduktebedryf, en fokus grotendeels op internasionale vrugte-uitvoere. Deur integrasie met derdepartystelsels, verseker ons oplossings dat jou pakstoor sonder enige probleme bedryf kan word. 

John Deere, vir al jou landboutoerusting-benodighede. 

Würth, vir al jou werkswinkel- en pakstoorbenodighede.

GEA Refrigeration Technologies is 'n internasionale spesialis in nywerheidsverkoeling, verhitting en volhoubare energie-oplossings vir 'n wye reeks bedrywe, waaronder die vrugte-, voedsel-, drank-, suiwel- en olie-, sowel as die gasbedryf. 

Katika Consult: Ons spesialiseer in landbouwetgewing en wetsvoldoening – van waterverbruiklisensies tot BBBEE, verblyfsekerheid en arbeidskwessies. 

Doornkraal.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.