Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Uitblinkervroue beloon vir hul stewige bydrae

Die Wes-Kaap se uitblinker-landbouvroue is vroeër die maand weer deur die Wes-Kaapse departement van landbou op sy toekenningsaand vir die provinsie se beste vroue-entrepreneurs in die landbousektor in Stellenbosch vereer.

Die kompetisie word in vennootskap met die departement van landbou, bosbou en visserye aangebied en het ten doel om vroue te vereer wat ’n bydrae tot werkskepping, ekonomiese groei en armoedeverligting maak.

En die wenners is . . . Alan Winde, die Wes-Kaapse minister van ekonomiese geleenthede, is hier saam met 2018 se beste vroue-entrepreneurs. Hulle is van links Leandre Mitchley, Marta Klein, Magdalene Campbell, Liebre Jacobs en Jeanne Groenewald. Foto: GIZELLE VAN WYK

Die wenners vir 2018 is:

Top-entrepreneur vir verwerking: Jeanne Groenewald van Elgin Free Range Chicken

Groenewald het haar onderneming nagenoeg 22 jaar gelede met ’n paar vryloophoenders in haar agterplaas begin.

Vandag verskaf dié maatskappy elke maand duisende vryloophoenders aan groot winkelgroepe, deli’s en restaurante. Sy verskaf ook werk aan meer as 600 mense. Groenewald sê sy hoop om haar maatskappy se nasionale voetspoor in die komende jare verder te ontwikkel en uit te brei.

Beste bestaansboer: Magdalene Campbell van die Beacon- organiese groentetuin in Mitchells Plain

Die groentetuin is op die Beacon-skool vir leerlinge met spesiale onderwysbehoeftes se perseel.

Die tuin se opbrengste voorsien kos vir die skool, sowel as vir die span wat daarin werk se eie gebruik. Die oorskot word verkoop om geld vir die projek in te samel en die jong vrywilligers te vergoed wat in die tuin uithelp.

Campbell wil die tuin graag uitbrei en soortgelyke projekte by ander skole begin om meer bewustheid oor landbou te skep.

Beste kleinboer: Leandre Mitchley van LS Pig Farming by Malmesbury

Mitchley het haar varkboerdery in 2011 met net twee varke op ’n kleinhoewe begin wat sy gehuur het. Sy het haar boerdery egter intussen tot 200 varke uitgebrei en besit nou ook 20 skape.

Daar was egter uitdagings soos siektes op die pad wat 90 van haar varke geëis het – ’n terugslag waarvan sy nou nog probeer herstel.

Sy droom daarvan om haar boerdery in ’n kommersiële onderneming met ’n slaghuis te omskep.

Mitchley is op die nasionale ronde van die kompetisie die afgelope naweek in Oos-Londen as die beste kleinboer in Suid-Afrika aangewys.

Beste werker: Marta Klein van die plaas Baakensrug in die Sentraal-Karoo

Klein het op die plaas grootgeword en woon haar lewe lank al daar. Sy het ’n geleentheid gekry om as slagter en vleisverwerker opgelei te word, en blink sedertdien uit in alles wat sy op die plaas doen.

Sy beskik oor ’n kode 10-swaarvoertuigrybewys en het ’n verskeidenheid rolle en verantwoordelikhede op die plaas.

Sy is ook aktief by haar eie ontwikkeling en opleiding betrokke, sowel as by haar kollegas s’n.

Ministeriële jeugtoekenning: Liebre Jacobs van FruitLips by Piketberg

Jacobs het ’n tweede plek in die kategorie vir verwerking behaal en is toe gekies as vanjaar se ontvanger van die spesiale ministeriële toekenning vir jong entrepreneurs.

Haar onderneming op Piketberg, FruitLips, koop derdegraadse vrugte aan en maak onder meer konfyte, souse en blatjang daarvan.

FruitLips verskaf werk aan altesaam 17 permanente werknemers, waarvan die helfte jong mense is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.