Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Uitvoer: Wynbedryf dankbaar vir vergunning
Die sauvignon blanc van Baleia is die ideale wyn om in die somer langs die see te geniet. Foto: Verskaf

Die wynbedryf is dankbaar vir die staat se vergunning om die uitvoerverbod op wyn op te hef, maar maan uitvoerders dit geld net produkte wat reeds gereed was vir uitvoer.

Fikile Mbalula, minister van vervoer, het Dinsdag nuwe regulasies in die Staatskoerant gepubliseer ten opsigte van die staat van inperking.

’n Taakspan van die wynbedryf het sedert die staat van inperking aangekondig is dringend met die regering onderhandel om die uitvoerverbod op te hef.

“Die wynbedryf is werklik dankbaar vir die regering en die betrokke rolspelers se begrip vir die bedryf se probleme. Bykans die helfte van die wyn wat in die land geproduseer word, word uitgevoer. ’n Verbod op uitvoer sou ’n ernstige invloed op wynondernemings gehad het en op die bestaan van amper 300 000 mense wat in die waardeketting werk,” lui ’n verklaring van die uitvoertaakspan.

Die jongste vergunning volg op nog een vroeër dat die wynbedryf met sy parstyd kan voortgaan.

In die verklaring van die uitvoertaakspan is daar ook ’n skakel na ’n brief wat hy aan die wynbedryf gestuur het. Hierin wys hy daarop dat net klaargemaakte produkte – grootmaat en verpak – uitgevoer mag word.

“Ons interpretasie van die riglyn is dat dit die vervoer van wyn toelaat wat gereed is vir uitvoer. Daar word dus nié toegelaat dat bottelarye met produksie begin tydens die staat van inperking nie.”

Die bedryf het in sy voorlegging aan die regering spesifiek gevra dat wyn vir uitvoer as ’n noodsaaklike voedselproduk geklassifiseer moet word. Dit is nie gedoen nie.

Die bedryf het ook gevra dat hy bevestiging kry dat hy op 17 April (die eerste dag ná die inperkingstydperk, indien dit nie verleng word nie) met alle uitvoerprosesse sal kan voortgaan. “Ons het nie enige amptelike kommunikasie hieroor gekry nie. Die uitvoertaakspan sal in die komende dae nog hieraan werk.”

Veiligheid van burgers steeds topprioriteit

Die bedryf is daarop gewys dat dit net ’n vergunning is omdat die staat van inperking steeds geld en dat die veiligheid van burgers steeds voorrang kry.

Die regering is verseker dat maatreëls in pakhuise getref is om die verspreiding van die virus te beperk.

“Dit is belangrik om te benadruk dat bedrywighede onderhewig is aan regulasies kragtens die Wet op Rampbestuur waaraan die verskaffers van noodsaaklike dienste en produkte moet voldoen. Ons doen dus nie sake soos gewoonlik nie.

“Ons doen ’n beroep op die bedryf om die protokols te volg. Ons wil ons nie verbind tot iets en dit dan nie nakom nie.

“In belang daarvan om ons verhouding met die regering te handhaaf en te wys ons is verbind tot die bekamping van die virus, volg asseblief die riglyne oor die handhawing van ’n afstand tussen mense, hou personeel sover moontlik tuis en gebruik so min moontlik personeel om die vraghouers te laai,” lui die brief aan die bedryf.

Uitvoerverdienste

Niël Groenewald, Nederburg se besturende direkteur, het Vinpro en ander lede van die taakspan bedank. “Hulle het uitstekende werk verrig om die regering sover te kry om die verbod op wynuitvoer op te hef, gegewe dat dit reeds ’n uitdagende tyd vir die wynbedryf is.

“Ons kan uitvoerverdienste nou weer op dreef kry, en dit help natuurlik ook om die groeiende positiewe reputasie van die wynbedryf in die internasionale mark in stand te hou, met geen onderbreking in die aanbod van ons verpakte wyne nie.”

Die taakspan het Woensdag weer vergader om verdere duidelikheid te kry oor hoe die vergunning sekere ander sake raak, soos die vervoer van wyn oor grense. Die bedryf sal later hieroor ingelig word.

Dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse LUR vir landbou, het ook die nuus verwelkom dat uitvoer toegelaat word.

Hy sê die topuitvoerprodukte van die Wes-Kaap sluit in sitrusvrugte, wyn, druiwe, appels, pere en kwepers.

Hy sê die wynbedryf is ’n groot bydraer tot die ekonomie en ’n groot werkskepper in die provinsie.

Meer oor:  Wyn  |  Wynbedryf  |  Uitvoere  |  Landbou  |  Wynuitvoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.