Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Veebedryf op knieë oor veilingverbod

Die verliese wat die veebedryf gely het sedert die minister van landbou veeveilings weens die uitbraak van bek-en-klouseer verbied het, beloop luidens hofstukke reeds miljarde rand.

Daar is ook vier nuwe gevalle van die siekte aangemeld, waarvan een in Januarie, terwyl die verbod op veilings nog geld.

Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, het op 5 Desember die hou van veilings en skoue van diere met gesplete hoewe en die spekulasie met dié diere waar vee van twee of meer plekke byeenkom, verbied.

Só lyk ’n bees wat met bek-en-klouseer besmet is se bek. Foto: Veterinary Network Bulletin

Twee groepe boere en afslaers het Dinsdag dringende aansoeke in die hooggeregshof in Pretoria gebring om die minister te dwing om die algehele verbod op veeveilings in die land op te hef.

Veeboere, ’n landboumaatskappy en twee afslaers, JS Auctioneers en Allround Sterkfontein Auctioneers, is van die aansoekers wat die hof gesamentlik genader het om die verbod opgehef te kry.

Hulle sê in hofstukke die optrede van die minister, die direkteur-generaal van dié departement, die LUR vir landbou in Noordwes en die direkteur van die direktoraat dieregesondheid veroorsaak dat afslaers, boere en die veebedryf in geheel tans miljoene rande se verliese ly.

Die verbod sal die hele veebedryf en groot maatskappye vernietig en duisende werksgeleenthede kan tot niet gaan.

Twee ander afslaers, Vleissentraal en André Kock & Seun Afslaers, het ’n aparte aansoek by die hof ingedien om die verbod op te hef.

Albei die aansoeke sal moontlik op 12 Februarie aangehoor word.

André Kock Afslaers se maandelikse omset is volgens hofstukke R400 miljoen. Dié geld word aan veeboere uitbetaal en sluit die afslaersmaatskappy se kommissie op transaksies in.

Wimpie du Plessis, hoof van Vleissentraal in die Sentraal-Vrystaat, die Noord-Kaap en Noordwes, sê veeboere kry baie swaar omdat die verbod hulle van hul inkomste ontneem.

“Jy mag nie vee van meer as een plaas op een vragmotor laai nie. Min kommersiële boere het genoeg vee om ’n vragmotor vol te laai om direk aan ’n koper te verkoop.”

Hy sê boere kan nie hul geldelike verpligtinge nakom nie.

“Opkomende boere ly erg onder die verbod, hulle het geld nodig vir skoolgeld en om van te leef, maar kan nie hul vee verkoop nie.”

Baie van die boere leef van die hand na die mond.

Du Plessis sê mense dink boere kan hul vee slagplaas toe vat, maar nie al die vee is slaggereed nie.

Veilings is ook ’n meganisme waarmee pryse bepaal word en dit bestaan nie nou nie.

Du Plessis sê Vleissentraal se bemarkers werk op ’n kommissiegrondslag en het tans geen inkomste nie. Die maatskappy verleen hulp aan hulle.

Hy sê daar was nog nooit voorheen bek-en-klouseer in die Vrystaat nie en die verbod is baie onregverdig.

Die meeste afslaers sê hulle is bereid om met voetbaddens, inspeksies en ander maatreëls self bioveiligheid op veilings te handhaaf.

Wilhelm Roche, ’n boer van Swartruggens, sê saaiboere word ook baie sleg getref omdat hul beeste hul “bank” is en hulle vee verkoop om oeste te finansier en ook om te oorleef wanneer dit droog is en hulle nie kan plant nie.

Meer oor:  Veebedryf  |  Verbod  |  Verliese  |  Bek-En-Klouseer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.