Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Ventersdorper kry brandewyn uit eie wingerd
Ernst Henning en Jeffrey Nong Woensdag met die Nong-brandewyn wat hulle ná sewe jaar se harde werk kon botteleer. Hulle sit hier in die wingerd digby Ventersdorp waar die druiwe waarvan die brandewyn gemaak word, verbou word. Foto: Susan Cilliers

Boer is nie vir sissies nie.

Dis hoe Jeffrey Nong, ’n kleinskaalboer van Ventersdorp in Noordwes, sy en ’n plaaslike sakeman se sewe jaar lange pad beskryf om brandewyn te maak.

’n Trotse Nong het Woensdag die bottels brandewyn, wat na hom genoem is, gewys. Die plan is om die brandewyn binne die volgende maand aan kleiner drankgroepe te verskaf.

“Ek gaan Jeffrey op ’n vliegtuig Kaap toe stuur om die brandewyn ook daar te bemark,” sê Ernst Henning, eienaar van die Totpak & Schoonspruit Distillery digby Ventersdorp.

Henning, ’n ervare distilleerder wat al 20 jaar in die drankvervaardigingsbedryf is, en Nong se paaie het in 2012 gekruis toe die Kenneth Kaunda-distriksmunisipaliteit in die omgewing ’n projek begin het om armoede deur landbou te verlig. Die plan was om private vennote te kry.

Nong was in daardie stadium afgelê by ’n myn en het besluit om te boer. Hy was die seun van ’n plaaswerker en het in die Ventersdorp-distrik grootgeword. Henning het aangebied om as deel van die regeringsprojek ’n stuk grond gratis aan Nong beskikbaar te stel waar hy druiwe kon verbou. Hy sou dan die druiwe aan Henning verskaf om brandewyn in sy distilleerdery te vervaardig.

Ernst Henning en Jeffrey Nong wys Woensdag die bottels Nong-brandewyn. Dit is drie jaar in van die houtvate in dié kelder in Henning se distilleerdery naby Ventersdorp verouderd. Foto: Susan Cilliers

Volgens Henning en Nong het die distriksmunisipaliteit aanvanklik gehelp om die wingerdstokke te voorsien en ’n skuur te bou, maar die geld het opgedroog en was die munisipaliteit was nie verder betrokke nie.

“Ek en Jeffrey moes mooi gaan dink of ons kan voortgaan, want dit kos baie geld,” het Henning gesê. Volgens Nong het die wingerd eers in die derde oesjaar genoeg druiwe opgelewer wat aan die distilleerdery gelewer kon word. Die proses om stookwyn van die druiwe te maak en die brandewynmengsel in houtvate te verouder, duur ’n verdere drie jaar. Dit neem dus lank voordat ’n wins gemaak kan word, verduidelik Nong.

Die twee mans het destyds besluit om die kans te waag. “Ek het Ian Sieg van Griekwaland-Wes Korporatief (GWK) gevra om Jeffrey leiding oor die verbouing van druiwe te gee,” het Henning gesê.

Nong verbou villard blanc- en colombard-druiwe wat goed in die Ventersdorp-omgewing aard. Henning verskaf aan hom behuising, ’n salaris, ’n voertuig en wingerdwerkers. Die wingerd van 10 hektaar word met water afkomstig van Henning se plaas naby die wingerd besproei.

Henning het die afgelope jare honderdduisende rande uit sy eie sak aan die wingerdprojek bestee. Hy is vol lof vir Nong se “deursettingsvermoë om met die minimum vas te byt”.

“Hy en sy werkers doen al die werk (in die wingerd).”

Die resultaat is dat hulle onlangs hul eerste kratte Nong-brandewyn kon pak.

Ernst Henning (agter) en Jeffrey Nong (middel) by die wingerdwerkers wat die boerdery so suksesvol help maak. Die werkers is van links Andries Modise, Timothy Mokgotle, Koos Khobela en Bulla Mokgomo. Foto: Susan Cilliers

“Ek is trots op wat ek gedoen het,” sê Nong. Volgens hom is daar mense wat negatief is omdat ’n wit man hom gehelp het.

“Wat is verkeerd daarmee? Wat maak my anders as die (sakeman) Patrice Motsepe wat ook leiding van wittes gekry het om ’n sukses te maak? Ons is albei entrepreneurs – dis iemand wat geleenthede raaksien, gefokus is en met deursettingsvermoë najaag.”

Nong sê hy is dankbaar vir Henning se hulp. “Iemand wat nie kan dankbaar wees nie, kan nooit werklik gelukkig wees nie.”

Henning en Nong het besluit om die drank by kleiner drankgroepe te bemark omdat die drankbedryf, volgens Henning, “deur monopolieë” beheer word.

“Dis moeilik om die drankmark te betree. Die bedryf word ook so erg gereguleer dat dit eintlik nie as ’n vryemarkstelsel beskryf kan word nie.”


* Netwerk24 het in 2013 reeds berig oor ’n verslag waarin gestaan het dat die Dr. Kenneth Kaunda-distriksmunisipaliteit (KKDM) se ekonomiese agentskap byna niks kon wys van die R16 miljoen wat destyds aan opheffingsprojekte soos Jeffrey Nong se wingerdboerdery bestee moes word nie.

Luidens dié destydse verslag van die KKDM se oorsigkomitee oor openbare rekeninge was daar ernstige aanduidings van geldelike onreëlmatighede.

Tabo Monama, bestuurshoof van die agentskap, het dit ontken. Hy het toe gesê die projekte is “nog in die beplanningsfase” en dat dit baie geld kos.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.