Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Verlengde drankverbod is ‘nekslag vir wynbedryf’

Dit is ’n nekslag vir die wynbedryf “en die oorskot wat daar sit”.

So het Schalk Burger van die wynplaas Welbedacht buite Wellington by navraag gesê nadat die verbod op drankverkope Maandagaand deur pres. Cyril Ramaphosa verleng is as deel van die aangepaste vlak 3-inperkingregulasies.

Volgens Burger is dit darem nog nie vlak 4 of 5 waar mense nie kon oes nie. Hy sê dit is ’n wanpersepsie dat goeie wyn verantwoordelik is vir die verspreiding van Covid-19, of die voorkoms van trauma.

“Dit is betreurenswaardig dat goeie wyn wat saam met kos bedien word of medisinale waarde het, asook familieondernemings nou moet ly of tot niet gaan.”

Volgens hom is wyn ’n primêre landbouproduk en moet dit as sodanig gesien word.

Charles Back, eienaar van die wyn- en kaasplaas Fairview in die Paarl, sê die verbod raak wyntoerisme én die wynbedryf “omdat die oorhoofse koste steeds daar is”.

Sedert Maart 2020 was daar vir meer as 17 weke – 18 weke op 15 Januarie 2021 – ’n verbod op die wettige verkoop van alkohol wat gelei het tot ’n verlies van meer as R8,0 miljard aan verkoopsinkomste.

Dit is nie ’n wynprobleem nie, maar eerder ’n misbruikprobleem. Wyne van wynprodusente is anders en word nie deur mense misbruik nie. Hy meen ook aanlyn wynverkope moet voortgaan en dat die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) se tydelike verligtingskema (Ters) heringestel moet word om verligting te bied. Wyn is ’n landbouproduk, nie ’n nywerheidsproduk nie, en wynprodusente dra by tot die plaaslike ekonomie.

Rico Basson, bestuurshoof van die wynbedryforganisasie Vinpro, sê hulle is uiters teleurgesteld in die verlengde verbod op plaaslike alkoholverkope, in effek ’n vierde verbod sedert die uitbreek van Covid-19 in ons land verlede jaar.

“Sedert Maart 2020 was daar vir meer as 17 weke – 18 weke op 15 Januarie 2021 – ’n verbod op die wettige verkoop van alkohol wat gelei het tot ’n verlies van meer as R8,0 miljard aan verkoopsinkomste.

“Die gevolg hiervan is dat die bedryf nou meer as 640 miljoen liter wyn in voorraad het – 65% van ’n normale oes. Dit hou ’n wesenlike risiko in vir die oes wat volgende week begin met onvoldoende kelderspasie hiervoor.”

Volgens hom sal die verdere verbod van sewe weke (28 Desember tot 15 Februarie) ’n wesenlike invloed hê omdat nog 45 miljoen liter by die voorraadsyfer gevoeg kan word.

“Gebrekkige kontantvloei is ook ’n enorme uitdaging en alhoewel uitvoer taamlik gevaar het in 2020, is die plaaslike verkope en wyntoerisme ’n uiters noodsaaklike kanaal vir die bedryf,” sê hy.

“Daar is beslis beter opsies as ’n algehele verbod. Onwettige handel het ook nou posgevat en dit is besig om momentum op te bou, wat ’n groot bedreiging vir ons samelewing op lang termyn inhou. Die wynbedryf is in ’n benarde posisie wat betref ekonomiese vooruitsigte en voortgesette werkskepping. Die vierde verbod gaan die spreekwoordelike spyker in die doodskis vir vele wynverwante ondernemings beteken. Finansiële hulpmaatreëls van die regering is nou noodsaaklik indien die bedryf ? ramp wil vermy.”

Kassie

Agri Wes-Kaap sê in ’n verklaring die wynbedryf kan nie die verlenging van die verbod op alkoholverkope bekostig nie. Hy is teleurgesteld dat die regering ’n totale verbod ingestel het, pleks van ’n gedifferensieerde benadering oor alkoholverkope.

Dit lyk nie asof die regering Vinpro se voorstelle einde Desember 2020 oorweeg het nie.

Volgens Agri-Wes-Kaap het die wynbedryf, ’n belangrike rolspeler in die Wes-Kaap en Suid-Afrika se ekonomie, reeds aansienlike finansiële en werkverliese gely tydens die eerste en tweede verbod op alkoholverkope in 2020, en nog werkgeleenthede word geraak.

Die verlenging van die verbod plaas die finansiële vermoë van baie wynprodusente om te oorleef verder onder druk.

Agri Wes-Kaap verstaan die druk verstaan ?waaronder die gesondheidsorgstelsel verkeer, maar die landbousektor trek aan die kortste ent oor die gedrag van die publiek.

Agri Wes-Kaap hoop Ramaphosa sal by sy woord hou om steeds rolspelers te konsulteer. Sedert die aankondiging van die nasionale inperking in Maart 2020 het die regering baie tyd gehad om voor te berei op ’n moontlike tweede vlaag infeksies.

“Dit is irrasioneel dat ’n bedryf wat ’n belangrike werkskepper en verdiener van buitelandse valuta is, nou die spit moet afbyt.”

Kassie

Lucky Ntimane, sameroeper van die Drankhandelaarsvereniging, sê hulle het met kommer van die aankondiging kennis geneem, veral die bewering dat Ramaphosa voor sy besluit die bedryf gekonsulteer het.

“Ons kry die gevoel dat die regering ons reg om handel te dryf ignoreer. Die minagting wat die president vir die sektor wys, bekommer ons en laat ons voel ons is op ons eie, en dat ons maniere sal moet vind om vir onsself te sorg weens die gebrek aan enige finansiële verligting wat gebied word.

Volgens hom is hulle nie net bekommerd oor die 250 000 werksgeleenthede wat geraak word nie, maar ook oor die taverne-sektor se toekomstige oorlewing.

Die meeste drankhandelaars sal dit moeilik of onmoontlik vind om hul deure oop te maak wanneer die verbod gelig word op ’n datum waarop daar nog besluit moet word.

“Ons glo die president hou aan om egte pogings te ondermyn van klein ondernemings in swart besit in townships waar mense probeer om hul families en dié van hul werkers te onderhou.”

Meer oor:  Schalk Burger  |  Wynbedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.