Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Verrassing kom dalk nog oor BTW op hoender

Astral Foods sal aanhou veg dat sekere hoenderprodukte van BTW vrygestel word.

Chris Schutte, uitvoerende hoof van Astral Foods. Foto: Vida Booysen

“Daar is nog ’n klein gaping voor Februarie se begroting, en dalk kan ons net verras word met ’n besluit hieroor voor die verkiesing in Mei,” meen Chris Schutte, uitvoerende hoof van Astral, die voorste geïntegreerde hoendervleisprodusent in Suid-Afrika.

Volgens Schutte is hulle baie teleurgesteld dat die BTW-paneel teen BTW-vrye hoender besluit het. Hy glo die hoenderbedryf het ’n baie sterk saak, en dit sou tot die beste voordeel van die verbruiker gewees het.

Daar is gesê BTW-vrye hoender sal die staat te veel kos.

Astral het in sy boekjaar tot einde September rekordsyfers behaal deur sy bedryfswins met 79% tot R1,9 miljard te verhoog, en wesensverdienste per aandeel met 94% tot R37,12. Aandeelhouers is beloon met ’n dividend van R20,50, wat 94% meer is as ’n jaar gelede.

Voerkoste

Veel goedkoper hoendervoer danksy twee opeenvolgende jare van rekord-mielie-oeste het Astral se winsmarges laat swel, maar Schutte waarsku dié geil syfers sal nie in die nuwe boekjaar herhaal kan word nie. Mieliepryse is reeds sowat R600 per ton duurder as die Safex-pryse van ’n jaar gelede.

Hoenderprodusente is baie sensitief vir voerkoste en dit is die belangrikste aandrywer van winsgewendheid. Dit verteenwoordig sowat 67% van die koste van ’n braaikuiken, volgens Astral.

Listeriose

Hoewel die listeriose-epidemie nie die groep regstreeks geraak het nie, meen Schutte hoenderverkope is wel geraak toe verbruikers hoor RCL, wat ook hoendervleis produseer, is geraak. En met varkvleisprodusente wat weens listeriose met ’n oorskot varkvleis opgeskeep gesit en dit toe teen 40% goedkoper as normaalweg op die mark geplaas het, het dit hoendervleisverkope ’n knou gegee.

Voëlgriep

Die uitbreek van voëlgriep in 2017 het die meeste pluimveeprodusente geraak, maar volgens Astral het sy verskeie gebeurlikheidsplanne hom gehelp om steeds net meer as vyf miljoen braaikuikens per week te kon lewer.

Gary Arnold, besturende direkteur van landbou by Astral, sê hulle het reeds voor die uitbreek van die voëlgriep bioveiligheidsprotokols gereed gehad.

Maar die siekte was nuut vir almal en die protokols moes verbeter word. “Ons protokols is nou veel meer robuus as twee jaar gelede en ons het baie geleer. Kapitaal is bestee om infrastruktuur te verbeter en op wêreldstandaarde te kry. Verhittingstelsels is by van ons hoenderplase in kouer gebiede geïnstalleer om koue-stres op hoenders te verlig.”

Beleggings

As deel van pres. Cyril Ramaphosa se beleggingsveldtog gaan Astral oor die volgende drie jaar R1,1 miljard in uitbreiding belê.

Dit behels vier projekte waarvan een groot projek van R830 miljoen die uitbreiding van Astral se Olifantsfontein-aanleg in Gauteng behels. Dit sal Astral se vermoë met 20% uitbrei. Waar sowat vyf miljoen braaikuikens per week gelewer word, sal dit dan met een miljoen per week uitgebrei word.

Nog ’n projek behels die verdubbeling van Astral se Mountain Valley-aanleg in KwaZulu-Natal waar 400 000 vars slaghoenders per week gelewer gaan word.

Dan gaan Astral ook R120 miljoen bestee om ’n nuwe voermeule by sy hoenderplase in Zambië te bou. Die bestaande voermeule daar dateer nog uit die 1940’s en is baie verouderd, sê Schutte.

Astral se aandeelprys was Maandagoggend 5,3% laer op R186,49.

Meer oor:  Astral  |  Veevoer  |  Btw  |  Hoender  |  Hoenderbedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.