Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
‘Verslap perke om Kaapse wynbedryf te red’

Ivan Meyer, LUR vir landbou in die Wes-Kaap, het Dinsdag ook ’n beroep gedoen op die nasionale regering om die vlak 3-inperkings te begin verslap sodat die Wes-Kaapse wynbedryf kan herstel.

Ivan Meyer, LUR vir landbou in die Wes-Kaap. Foto: Malherbe Nienaber

Meyer het aan Thoko Didiza, minister van landbou, landelike ontwikkeling en grondhervorming, geskryf om haar te vra om die verbod op drankverkope vir gebruik op en af van die perseel op te hef.

Dit kom nadat Alan Winde, premier, verlede week ’n versoek aan dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, gerig het dat die inperkings verslap moet word nadat die provinsie die piek van die tweede vlaag van infeksies bereik het en die gevalle begin afneem.

Volgens Meyer het die provinsiale regering die inperkings aanvaar as ’n laaste uitweg om die gesondheidstelsel te beskerm tydens ’n “ongekende styging” in gevalle van die koronavirus wat met ’n toename in alkoholverwante trauma sou gepaardgaan.

“Ons het egter aangevoer dat dit net vir 14 dae moet geld en aan die hand van die wetenskaplike bewyse ná elke sewe dae hersien moet word. Nou, byna ’n maand ná die inperkings ingestel is, glo ons die bewyse dui duidelik op die behoefte om dit te verslap sodat mense se werk gered kan word.”

Meyer sê ook die druk op die gesondheidstelsel begin afneem.

Om dié rede vra hy dat wynverkope onder die gedifferensieerde benadering wat die president verlede maand afgekondig het, toegelaat moet word.

Hy het Didiza gevra dat drankverkope tussen Maandae en Donderdae toegelaat word, maar ook oor naweke op wynplase omdat dit “noodsaaklik vir die oorlewing van wyntoerisme is”.

Ons het egter aangevoer dat dit net vir 14 dae moet geld en aan die hand van die wetenskaplike bewyse ná elke sewe dae hersien moet word. Nou, byna ’n maand ná die inperkings ingestel is, glo ons die bewyse dui duidelik op die behoefte om dit te verslap sodat mense se werk gered kan word

Daarby moet drankverkope vir gebruik op die perseel deur restaurante toegelaat word om te help dat dié ondernemings winsgewend kan bly.

Meyer sê in ’n verklaring wyndruiwe maak 50,3% uit van die 181 233 ha wat vir vrugteproduksie in die Wes-Kaap aangewend word, met ’n vervangingswaarde van R33,9 miljard.

Wyn is die provinsie se derde grootste uitvoerproduk.

Na raming werk 45 600 mense in die primêre produksieproses van wyn, en die bedryf ondersteun verder die lewensmiddele van 228 000 mense.

“Aan die begin van die staat van inperking was Suid-Afrika die enigste groot uitvoerder wat wynuitvoere verbied het. Dit het tot gevolg gehad dat ons markaandeel op ’n skinkbord aan ons mededingers oorhandig is.”

Verder het die vlakke van verkope nie na normaal teruggekeer nadat plaaslike drankverkope verlede jaar hervat is nie.

Volgens Meyer is ’n kwart van die jaarlikse verkope verloor en dra dit tot kontantvloeiprobleme vir produsente by.

Wyndruiwe maak 50,3% uit van die 181 233 ha wat vir vrugteproduksie in die Wes-Kaap aangewend word, met ’n vervangingswaarde van R33,9 miljard. Foto: Pixabay

“Ons kan nie nog meer druk op dié sukkelende sektor plaas nie en moet alles moontlik doen om hulle te help groei en meer mense in diens te neem.”

In die provinsiale departement se navorsing is bevind dat die eerste twee weke van die jongste drankverbod die Wes-Kaap R1 miljard – met nagenoeg 2 800 regstreekse en onregstreekse werkverliese – gekos het.

“As die verbod die hele maand duur, wat nou meer as waarskynlik lyk, sal dit die ekonomie uiteindelik R2 miljard kos en 5 596 werke in ons provinsie raak.”

David Maynier, LUR vir finansies en ekonomiese geleenthede, het Maandag ook gesê dat hy aan die nasionale minister van toerisme geskryf het om te vra dat die inperkings onmiddellik verslap word.

Dit sluit in die aandklokreël, die sluiting van strande en die verbod op drankverkope.

Daarby het hy versoek dat die tydelike verligtingskema aan werkers en werkgewers (Ters) ook vir die duur van vlak 3 van die inperking verleng moet word.

Meer oor:  Wyn  |  Wynbedryf  |  Ivan Meyer  |  Drankverbod  |  Toeriste  |  Drankbedryf  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.