Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Vertroue in landbou 9 j. laas so lank negatief

Die vertroue in die landbousektor is nou reeds ses kwartale negatief, die langste tydperk aaneen sedert 2010.

Wandile Sihlobo, hoofekonoom van Agbiz.

Die vertroue, wat gemeet word met die Agbiz/IDC-indeks, is nou op 44 punte vergeleke met 46 punte in die derde kwartaal.

’n Vlak onder 50 toon die landbousektor is negatief oor saketoestande in die land.

Dit is die langste wat dit onder 50 punte was sedert 2010, volgens Wandile Sihlobo, hoofekonoom van Agbiz.

“Die indeks toon die ongunstige beleidsomgewing en weerstoestande vir landbou. Ongelukkig kan albei hierdie faktore in 2020 voortduur en ’n verdere wanprestasie deur die landbou-ekonomie tot gevolg hê.”

Volgens hom is die landbou-ekonomie in ’n resessie wat deur dieselfde faktore veroorsaak word.

Die peiling is in November uitgevoer.

Agbiz

Die indeks word uit tien onderafdelings opgestel, wat bedryfswins en poste insluit. Die meeste van die onderafdelings het bygedra tot laer sakevertroue in die landbousektor en is swak vergeleke met die langtermyn-gemiddelde. Die indeks word sedert 2001 opgestel.

So het van die onderafdelings wat reeds negatief is, geval:

Die siening oor winsgewendheid het met net 1 punt tot 44 punte gedaal. Vertroue is veral swak onder maatskappye wat in gebiede bedrywig is waar veldgewasse geproduseer en met vee geboer word. Dit dui daarop dat die swak oeste van somer- en wintergewasse sentiment oor wins aftrek. In die geval van die veebedryf het die jongste uitbreek van bek-en-klouseer ook vertroue oor winsgewendheid ondermyn.

Die vertroue oor uitvoer het van 50 punte tot 39 punte geval. Dit hou verband met die vrese oor die droogte en dat dit tot swak oeste gaan lei wat weer uitvoer gaan benadeel. Graanoeste het in die somerseisoen van verlede jaar met dubbelsyfers geval van die vorige seisoen af. Kommer dat bek-en-klouseer tot ’n grootskaalse verbod op uitvoer gaan lei, het bygedra tot die negatiewe sentiment.

landbou
’n Argieffoto van ’n boeredag by Bainsvlei in die Vrystaat waar grond vir somergewasse voorberei is. Swak oeste van somergewasse het Agbiz se jongste landbousakevertroue-indeks negatief geraak. Foto: HELEEN SCHOLTZ/VOLKSBLAD

Die siening oor ekonomiese toestande in die land het met 15 punte tot 9 punte geval. Dit is die swakste vlak sedert die tweede kwartaal van 2016.

Landboutoestande het weer tot 31 punte geval nadat dit in die vorige kwartaal van dié vlak tot 42 punte herstel het weens die vooruitsig van goeie somerreën. “Dit is hoofsaaklik weens die drastiese verandering in die vooruitsig oor die weer en die moontlikheid van droogte in dele van Suid-Afrika, tesame met die laat somerreëns wat aanplantings vertraag het.”

Die voorsiening vir slegte skuld en finansieringskoste wat met skuld in die landbousektor te doen het, het met 4 punte tot 34 gestyg. Dit is ’n slegte teken omdat dit toon dat landboumaatskappye onder finansiële druk is.

Meer oor:  Agbiz  |  Wandile Sihlobo  |  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.