Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Vertroue in landbou laer in 2de kwartaal

Die vooruitsig van bonormale reënval in die Wes-Kaap laat landbou-ondernemings moed skep, hoewel vertroue in dié sektor aan die daal is.

Die landbousakekamer Agbiz en die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (NOK) se nuutste vertrouensindeks het in die tweede kwartaal met vier indekspunte tot 54 punte gedaal.

In die eerste kwartaal vanjaar het die indeks taamlik skerp gestyg, maar Wandile Sihlobo, landbou-ekonoom van Agbiz en een van die samestellers van die indeks, het toe gewaarsku die styging kan van korte duur wees omdat faktore soos hernude onsekerheid oor grondhervorming nog nie verreken was toe die opname gedoen is nie.

Die tweede kwartaal se opname is tussen 4 en 15 Junie gedoen, enkele maande ná die parlement se besluit om die Grondwet te wysig om onteiening van grond sonder vergoeding moontlik te maak.

’n Indekspunt bokant 50 dui op uitbreiding in die bedrywighede van die land se landbousake en ’n punt onder 50 op inkrimping.

“Die feit dat die indekspunt vir die tweede kwartaal steeds bokant 50 is, beteken die sektor is steeds optimisties, hoewel die optimisme effens gedemp is,” sê Sihlobo.

Die indekspunt word bereken op grond van tien subindekse in die sektor en die daling in die tweede kwartaal kom oor ’n breë grondslag voor.

Die enigste subindeks wat noemenswaardig gestyg het, was die algemene landbou-indeks.

“Die optimisme in hierdie subindeks is versterk deur die vooruitsig op bonormale reënval in die Wes-Kaap in die volgende drie maande,” sê Sihlobo.

Verlede week het Johan van den Berg, bestuurder van gespesialiseerde oesversekering van Santam-Landbou, in sy gereelde weerverslag gesê die eerste goeie reën in baie seisoene het in Mei en die eerste deel van Junie oor die Wes-Kaap geval.

“Dit was net betyds vir winteraanplantings, maar daar is nog heelwat meer reën nodig om die opgaardamme weer aan te vul.”

Hy meen die kanse is beter vir reën oor die suidwestelike dele van die provinsie as in die Suid-Kaap.

Oor die somerreënvalstreke het gunstige droë toestande in Mei voorgekom toe die oes ingesamel is, en dit kon ook optimisme wek, sê Sihlobo.

’n Daling van 14 indekspunte tot 64 in die subindeks vir landbou-omset wek kommer, maar Sihlobo sê dit kan deels toegeskryf word aan swakker landbouproduksie vanjaar.

Swakker produksie het ook die subindeks vir netto bedryfsinkomste met nege indekspunte tot 58 laat daal.

Die subindeks vir markaandeel het met 15 punte tot 53 gedaal. Dit kan deels daaraan te wyte wees dat daar later as gewoonlik begin is om somergrane te oes, terwyl die droogte in die Wes-Kaap ook produksie laat daal het.

Vertroue oor indiensneming in die landbousektor het met 19 punte tot 56 teruggesak. Dit is die laagste vlak sedert die eerste kwartaal van 2017. “Die daling in vertroue is nie verbasend nie gegewe die jaarlikse daling van 3% in Statistieke SA se indiensnemingsyfers vir die sektor,” sê Sihlobo. Laer landbouproduksie beteken ook minder aktiwiteite op die landerye en dus minder werksgeleenthede, sê hy.

Onsekerheid oor grondhervorming het daartoe bygedra dat die subindeks vir kapitale beleggings met vier indekspunte tot 64 gedaal het. “Talle landbouprodusente wag en sien wat gaan gebeur, maar die onsekerheid bly ’n groot risiko vir vertroue,” sê Sihlobo.

Meer oor:  Agbiz  |  Idc  |  Nok  |  Wandile Sihlobo  |  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.