Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Verwagte oes van wyndruiwe steeds onder gemiddeld
Goeie lente-toestande het vanjaar tot egalige bot by wyndruiwe bygedra, sê Vinpro. Foto: VINPRO

Suid-Afrika se wyndruiwe-oes in 2020 sal net so groot of groter as die vorige een wees, maar steeds onder die afgelope vyf jaar se gemiddelde, toon die eerste skatting deur die Suid-Afrikaanse Wynbedryf-en-inligtingsdiens (Sawis).

Wyndruifprodusente het in 2019 ’n opbrengs van 1,244 miljoen ton behaal, terwyl die gemiddelde oes oor die afgelope vyf jaar 1,36 miljoen ton was.

Conrad Schutte, konsultasiediensbestuurder van die wynbedryfliggaam Vinpro, sê omgewingstoestande en die besluite van produsente kan tans nog ’n wesenlike invloed op die uiteindelike gehalte en omvang van die oes hê.

“Afhangend van kultivar en wyndoelwit gaan die druiwe nog vir 60 tot 100 dae in die wingerd ontwikkel en ryp word voordat dit gepars word.”

Hoewel die meeste wyndruifgebiede tot dusver ’n goeie seisoen beleef het, was daar wydverspreide rypskade in die Noord-Kaap en het die voortslepende droogte in die Klein-Karoo ook ’n invloed op oeste.

Die rypskade was teen einde Oktober en kan tot groot oesverliese bydra.

Goeie winterreën in die Wes-Kaap het die damvlakke aan die begin van die groeiseisoen in middel September op 82% teenoor 70% in 2018 en 37% in 2017 te staan gebring.

Conrad Schutte, konsultasiediensbestuurder van Vinpro.Foto: VINPRO

In die Olifantsrivierstreek, wat die afgelope paar jaar erg deur die droogte getref is, is die Clanwilliamdam tans 85% vol.

Die Klein-Karoo is egter nog baie droog. Produsente in die Robertson-streek wat water van die Brandvleidam kry, het genoeg water, maar boere wat van die bergafloopwater afhanklik is, is onder groot druk.

“Die Noord-Kaap het deur die loop van die seisoen bykans geen reën gekry nie, maar die damme het genoeg water gehad, en ons hoop die goeie neerslae aan die begin van Desember sal in die volgende paar weke voortgaan,” sê Schutte.

Hy het verduidelik dat die gunstige omgewingstoestande in die lente tot vroeër as normale, egalige bot bygedra het. “Die lente was bogemiddeld warm, maar die toestande het gewissel en veral aan die kusstreek het heelwat wind voorgekom,” sê Conrad.

Hoewel die kusstreek goeie reën gekry het, moes produsente swamsiektes en onkruid streng beheer.

’n Meestal warm, winderige November het daartoe gelei dat die wingerde vinniger groei.

Die volgende oesskatting word op 24 Januarie 2020 uitgereik.

Meer oor:  Wyn  |  Wynbedryf  |  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.