Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Verwelkom Aussie-aanbod ‘met ope arms’
Die Sydney-operahuis in Sydney, Australië. Foto: Wikipedia

Die hersiening van die Grondwet om grondonteiening sonder vergoeding moontlik te maak, is ’n waterskeiding vir die kommersiële landbou in Suid-Afrika.

Daarom moet die nuus dat die Australiese regering die moontlikheid ondersoek om dit vir wit Suid-Afrikaanse boere makliker te maak om visums te bekom, met ope arms verwelkom word,” sê Fanie Brink, ’n onafhanklike landbou-ekonoom in ’n verklaring wat Donderdag uitgereik is.

Peter Dutton, Australiese minister van binnelandse sake, het volgens plaaslike media in Australië gesê wit Suid-Afrikaanse boere verdien “spesiale aandag” en hulp van Australië.

Brink sê die Suid-Afrikaanse regering het weer sy onkunde oor dié vernietigende beleid geopenbaar deur verskeie voorskrifte en kritiek hieroor deur Lindiwe Sisulu, minister van internasionale betrekkinge en samewerking.

Hy verwerp ook die minister se aanklag dat AfriForum vals inligting oor grondonteiening versprei en sê die regering probeer die buiteland oor grondhervorming mislei.

“Die minister se verwagtings dat die Australiese regering die ‘regte kanale moet gebruik om duidelikheid te kry oor die proses van grondhervorming in Suid-Afrika’ is absoluut belaglik omdat die ANC-regering oor geen integriteit en geloofwaardigheid beskik nie.”

Brink sê die ANC het met sy besluit oor grondonteiening duidelik bewys dat hy “geen probleem daarmee het” om die landbou op te offer en die land in ongekende hongersnood en baie groter armoede te dompel nie, suiwer om aan die bewind te probeer bly.

“Daarom kan hy ook nie geglo en vertrou word nie.”

Die hersiening van art. 25 van die Grondwet sal die begin van die einde wees van volhoubare ekonomiese groei, welvaart en vooruitgang vir Suid-Afrika, waarsku Brink

Fanie Brink

“Grondonteiening sonder vergoeding is niks nuuts nie, maar is in werklikheid ’n baie ou Afrika-ideologie om die ekonomie eers te vernietig en dan soveel as moontlik mense afhanklik te maak van die landbou, wat hulle uiteindelik in groter armoede en hongersnood sal dompel.”

Hy sê kommersiële landbouprodusente behoort dit baie ernstig te oorweeg om weer ’n eie kommersiële landbou-organisasie op die been te bring.

“Agri SA het reeds duidelik bewys dat hy die ANC-regering se beleid van sosialisme ondersteun deur verskeie beleidstandpunte en -uitsprake in dié verband, en dat die winsgewendheid en volhoubaarheid van die kommersiële produksie van voedsel en die voorkoms van plaasmoorde nie so belangrik is as die ontwikkeling van swart bestaansboere nie.”

Hy verwerp ook die voorstel van dr. Theo de Jager, voormalige visepresident van Agri SA en nou voorsitter van die Wêreldlandbou-unie (WLU), dat hoofstuk 6 van die Nasionale Ontwikkelingsplan (oor die 50/50-vennootskapmodel om grond te onteien) net so ingestel moet word.

“Die belaglike voorstel om ’n miljoen werksgeleenthede in die landbou te skep deur swart kleinboere op klein stukkies grond te vestig pleks daarvan om landbouproduksie te probeer verhoog, asook die vermetele dreigement dat die plase van boere wat nie aan die plan wil deelneem nie, nie beskerm sal word nie, moet verwerp word.”

Brink sê die ondersteuning van die Australiese regering moet verwelkom word omdat Agri SA nog nie na die kommersiële produsente se internasionale bondgenote uitgereik het vir ondersteuning nie of probeer vasstel wat die verskeie internasionale konvensies oor menseregte vir die beskerming van kommersiële produsente in Suid-Afrika beteken nie.

“Weens die regering se onkunde verstaan en besef hy nie dat die twee doelwitte om grond te onteien en die volhoubaarheid van voedselsekerheid te handhaaf nie verenigbaar is nie. Dit is uiteindelik bloot ’n keuse tussen die twee waaroor die grondwetlike hersieningskomitee aanbevelings sal moet maak,” sê Brink.

Meer oor:  Peter Dutton  |  Fanie Brink  |  Grondonteiening  |  Voedselsekerheid  |  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.