Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Vlak 1 ‘doen nie genoeg vir drankbedryf nie’

Die drankbedryf is bekommerd oor die voortgesette beperkinge wat op vlak 1 op drankwinkels van toepassing gaan wees.

bier, bierglas, kroeg
Kroeë mag nou later oopbly, mits personeel teen middernag tuis is. Foto: Unsplash

Die Vereniging vir Suid-Afrikaanse Eienaars van Drankhandelsmerke (Salba) het in ’n verklaring sy kommer uitgespreek dat dit afwyk van ’n herstelplan vir die ekonomie wat in die bedingingsraad Nedlac bespreek is. Salba is ’n drukgroep wat drankwinkels, sjebiens, die bier- en wynbedryf, vervaardigers en groot handelsname verteenwoordig,

Kurt Moore, uitvoerende hoof van Salba, sê die bedryf besef die kopsere wat die regering het om die pandemie in toom te hou en ’n tweede vlaag van infeksies te keer, maar die ekonomie moet weer opgebou word.

Hy sê die meeste aanwysers dui daarop dat die pandemie op die oomblik afneem en daarom moet die belangrikste prioriteit wees om te fokus op die herstelplan vir die ekonomie wat by Nedlac bespreek is.

Volgens hom is dit hoekom die bedryf teleurgesteld is dat die regering nie verbruik op persele toelaat ingevolge ondernemings se lisensievoorwaardes soos voor die inperkingsmaatreëls of drankwinkels ten minste ’n mate van handel oor naweke toelaat nie.

Moore sê die verlenging van handelsdae vir drankwinkels tot Vrydae asook dat drank vir verbruik op persele twee ekstra ure tot middernag gekry het vir verkope, is ’n stap in die regte rigting.

“Maar dit is nie genoeg vir ons sukkelende sektor om te herstel van die verbod op drankverkope, wat twee keer tydens die inperking ingestel is nie.”

Vlak 1, wat Sondag om middernag in werking tree, behels dat die aandklokreël eers van middernag af geld, pleks van 22:00 soos tans.

  

Onwettige drankhandel

“Dit is noodsaaklik vir die ekonomiese herstel dat die regering bestaande inkomste op doeltreffende wyse invorder en dat die lekplek van belasting weens die onwettige drankhandel dringend gesluit word,” het hy gesê.

“Beperkinge op drankwinkels oor naweke bied ’n voortgesette geleentheid vir onwettige netwerke om uit te brei.”

Beperkinge op drankwinkels oor naweke bied ’n voortgesette geleentheid vir onwettige netwerke om uit te brei.

Die drankbedryf voer aan die onwettige drankmark verteenwoordig nagenoeg 15% van alkoholverkope in volume wat verkoop word en bring ’n verlies vir die fiskus van R6,4 miljard mee.

Die bedryf wil die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) bystaan om oplossings te vind.

Die bedryf het hom ook al verbind tot ’n nuwe maatskaplike kontrak met die regering om die euwels van drankmisbruik aan te pak en poste in die sektor te red.

Die bedryf het beloof om R150 miljoen te belê in direkte skadeverligting en programme binne die komende jaar om die regering te help om die gesondheids- en maatskaplike las van alkoholmisbruik aan te pak.

  

Kelders ongelukkig

Lucky Ntimane, sameroeper van die National Liquor Traders Council, het die twee uur langer, waarin tavernes handel mag dryf, verwelkom.

“Dit gee ’n geleentheid vir die sektor om sy herstel voort te sit.”

wyn, kuier, samekoms
Kelders is ongelukkig dat hulle steeds nie oor naweek wyn mag verkoop nie. Foto: Unsplash

Hy het ook die wysiging verwelkom dat ’n perseel tot 50% gevul kan word, pleks daarvan dat dit slegs tot 50 mense beperk word.

“Dit is ’n beter reëling vir groot en klein plekke.”

Rico Basson, besturende direkteur van VinPro, het daarop gewys dat die wynbedryf ’n groot bydrae tot toerisme lewer.

Hy verwelkom die verslapping van die reëls ten opsigte van drankverbruik op persele en dat meer mense binne en buite by geleenthede toegelaat word. Die maksimum is 250 binnenshuis en 500 buite vir enige geleentheid.

“Die voortgesette beperkinge vir drankverkope vir verbruik by die huis op Saterdae en Sondae is teleurstellend vir die 530 wynmakerye wat op die direkte verkope by kelderdeure staatmaak.

“Die wynbedryf, wat ’n wesenlike aantal klein ondernemings het, moet nou van ’n ramp herstel, poste behou en groei.”

Agri SA verwelkom die verskuiwing van vlak 2 na vlak 1, het Christo van der Rheede, adjunk- uitvoerende hoof, gesê, maar die beperking op wynverkope oor naweke op wynplase maak egter nie sin nie.

"Dit het 'n uiters negatiewe impak op die finansiële volhoubaarheid van wynplase wat oor naweke groot getalle besoekers en toeriste lok.

"Agri SA doen 'n ernstige beroep op die regering om die verbod op wynverkope oor naweke op wynplase te lig. Die toerismebedryf benodig al die ondersteuning om weer op dreef te kom, so ook wynplase. Dit vorm 'n integrale deel van die plaaslike toerismebedryf en wynverkope kan daarom nie langer oor naweke verbied word nie. Daar is geen rasionele rede waarom die verbod volgehou word nie!"

Patricia Pillay, uitvoerende hoof van die Biervereniging van Suid-Afrika, het ’n beroep op verbruikers gedoen om die kultuur om drank te verander.

“Ons doen ’n beroep op verbruikers om hul gebruik van alkohol in toom te hou en hulle verantwoordelik te gedra.”

Sy sê die bedryf bepleit dit dat daar geen verdraagsaamheid vir drink en bestuur moet wees nie en dat stappe gedoen moet word om die aantal dronk mense op straat te verminder.

Meer oor:  Drank  |  Staat Van Inperking  |  Koronavirus  |  Vlak 1  |  Wyn  |  Wynbedryf  |  Inperking  |  Drankbedryf  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.