Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Vleisuitvoer daal, so laat ons braai!

Vleispryse op produksievlak het buitengewoon baie gedaal, maar verbruikers sien nog nie laer pryse op winkelrakke nie. Dr. Wessel Lemmer en dr. Christo Joubert verduidelik die perfekte storm vir boere en wat vir Jan Alleman se braai-inkopiemandjie wag.

  

Dr. Wessel Lemmer van Absa.

Die onlangse daling in karkas- en speenkalfpryse is die gevolg van verskeie faktore wat op dieselfde tydstip saamloop – ’n perfekte storm. Die laat reënval in die somergewasproduksiestreke en die voorkoms van bek-en-klouseergevalle in die bek-en-klouseervrye gebied is die twee faktore wat lewende hawe en vleispryse skerp laat styg.

Reënval

Wat reënval betref, herinner die prentjie sterk aan die droogtegeteisterde produksieseisoen van 2015-’16.

Eers in die tweede helfte van Desember het die reënval toegeneem.

Dr. Christo Joubert van die Nasionale Landboubemarkingsraad.

Dit val saam met die verswakkende El Niño-verskynsel in die Stille Oseaan. Produsente is hoopvol dat die res van die produksieseisoen normale reënvaltoestande sal beleef.

Die voorlopige oppervlakte-oesskatting word Dinsdag gepubliseer, maar een scenario is dat Suid-Afrika waarskynlik 1,1 miljoen ton mielies sal moet invoer.

Dié scenario is gegrond op ’n veronderstelling dat produsente naastenby dieselfde hoeveelheid hektaar mielies aanplant as in die 2015-’16-produksieseisoen.

Bygesê, die scenario kan selfs slegter lyk as boere nie ook ’n gemiddelde opbrengs van 4,7 ton per hektaar kan oes soos in 2015-’16 nie.

Dit is heel moontlik dat Suid-Afrika vanjaar slegs ongeveer 9,27 miljoen ton mielies sal kan produseer.

Die feit dat Suid-Afrika geelmielies sal moet invoer, het daartoe gelei dat mieliepryse sedert einde November skerp begin styg het. Dít lei weer tot hoër voerpryse in 2019.

Die verwagte hoër voerkoste én laer karkaspryse is ’n dubbele slag vir primêre produsente wat staatgemaak het op ’n diversifikasiestrategie van boerderye met graan en vee.

kospryse

Bek-en-klouseer

Nóg ’n faktor wat veeprodusente onkant betrap het, is die uitbreek van bek-en-klouseer.

Aangesien uitvoer opgeskort is, plaas die hoër binnelandse aanbod van vleis skerp druk op pryse vir beesvleiskarkasse en speenkalwe.

Beesvleiskarkaspryse (A-graad) het in Desember gemiddeld teen R45,62/k

rooivleis

g verhandel. Sedert die opskorting van ons uitvoer het pryse met 10% tot so laag soos R41/kg gedaal. Die prysdaling is buitengewoon.

Speenkalfpryse het met 21% van R33,30/kg in Desember tot R26,34/kg in Januarie gedaal.

Groothandel-rooivleispryse het ook skerp gedaal en die verbruiker kan eersdaags soortgelyke prysdalings op winkelrakke van die kleinhandelsektor en kettingwinkels sien.

Snitte

Die prystendense wissel tussen die verskille snitte.

Die vleispryse van die afgelope 12 maande wys duidelik dat daar groter wisselvalligheid is in die duurder snitte soos lendeskyf (sirloin) as die goedkoper snitte soos stowebief, armmansrib (chuck) en borsstuk (brisket).

Dit wys dat verbruikers maklik oorskakel na goedkoper snitte wanneer hul besteebare inkomste onder druk is.

Daar is egter ’n sterk vraag na proteïen, en die prysdaling behoort hernude aandag op rooivleis as keuse van proteïen te vestig. Laer pryse behoort vinnig tot ’n toename in verbruik te lei, wat mettertyd pryse sal ondersteun.

Dit is belangrik dat Suid-Afrika se bek-en-klouseer-vryhandelstatus so vinnig moontlik herstel word.

Uitvoer vir 2018 tot einde November het 939 679 kg beloop teenoor uitvoer in 2017 van 1 367 829 kg beesvleis.

Die departement landbou, die Nasionale Dieregesondheidsforum en die private sektor werk hard om die land se bek-en-klouseer-vryhandelstatus te herwin. Normaalweg neem dit ongeveer ’n jaar, maar met die dringendheid en samewerking wat dit tans geniet, kan die status dalk gouer herstel word.

Die verbruiker moet die meevaller aangryp terwyl vleispryse nog laag is.

Statistieke Suid-Afrika se jongste statistieke wat die afgelope week uitgereik is, wys dat vleisprys-inflasie verlangsaam het tot 1,8% jaar-op-jaar, van die 2,8% wat in November aangeteken is.

As pryse tussen November en Desember vergelyk word, is dit duidelik dat die laer karkaspryse nog nie deurgegee is na die verbruiker nie.

  • Wessel Lemmer is ’n landbou-ekonoom van Absa Landboubesigheid, en Christo Joubert is verbonde aan die Nasionale Landboubemarkingsraad.
Laer pryse behoort vinnig tot ’n toename in verbruik te lei, wat mettertyd pryse weer sal opdruk. Foto: iStock
    Meer oor:  Wessel Lemmer  |  Vleis  |  Lamsvleis  |  Varkvleis  |  Kospryse  |  Inflasie  |  Beesvleis  |  Kosprysinflasie  |  Vleispryse  |  Inflasiekoers  |  Rooivleis  |  Statistieke Suid-Afrika  |  Bek-En-Klouseer
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.