Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Voëlgriep: Nog geen geval in Wes-Kaap gevind

Nog nie ’n enkele geval van voëlgriep is al in die Wes-Kaap aangemeld nie.

Besmetting met HPAI-virusse kan ernstige siektes en ’n hoë persentasie vrektes veroorsaak. Foto: Unsplash

Die Wes-Kaapse departement van landbou het Donderdagoggend dié versekering gegee.

Dit kom terwyl die land se hoenderbedryf nog op hete kole sit nadat voëlgriep op ’n Gautengse hoenderplaas geïdentifiseer is. Die uitslag van toetse wat moet bepaal of dit die gevreesde H5N8-virus is, is nog nie bekend gemaak nie.

Die uitbreking is op ’n kommersiële hoenderplaas in die Ekurhuleni-metro aangemeld. Laboratoriumtoetse het bevestig 300 hoenders het gevrek weens ’n H5-variant van die voëlgriepvirus, maar watter variant dit is, moet nog vasgestel word. Nog hoenders op die plaas moes van kant gemaak word en die plaas is onder kwarantyn.

Die plaas waar die voëls gevrek het, het ook in 2017 ’n uitbreking gehad toe die H5N8-variant Suid-Afrika vir die eerste keer getref het. Volgens die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (Sapa) was 2017 se uitbreking verwoestend.

Sapa het ook vroeër die week daarop gewys dat H5N8 in Oktober in Europa uitgebreek het.

Volgens Sapa is die hele pluimveebedryf nou op ’n gereedheidsgrondslag en alle maatskappye, van klein tot mikro-ondernemings, word gevra om planne in te stel wat die verspreiding van die virus kan beperk. Dit sluit perke op die beweging van mense en voëls in.

“Ons is dankbaar dat Sapa die hele bedryf op ’n hoë gereedheidsgrondslag geplaas het en dat toepaslike planne vir bioveiligheid in werking gestel word,” sê dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse LUR vir landbou.

“Ons moet egter waaksaam bly. Dis belangrik om siek of dooie voëls (wilde voëls en pluimvee) by plaaslike owerhede, veeartsenydienste, openbare gesondheidsamptenare en gemeenskapsleiers aan te meld.

"Boere en pluimveeprodusente word aangemoedig om hul bioveiligheidsmaatreëls op te skerp om die potensiële verspreiding van die virus deur wilde voëls of hul ontlasting te voorkom. Ons veeartsenydienste hou die situasie in die Wes-Kaap dop.”

Vir meer inligting, kontak dr. Gininda Msiza, hoof van veeartsenydienste in die Wes-Kaap, by 021 808 5002 of GinindaM@elsenburg.com.

Hou voëlgriep gevaar in vir mense?

Die Wêreldgesondheidsorganisasie verseker ons dat H5N8 nie gevaarlik vir mense is nie. Daar was nog net geïsoleerde gevalle waar dit van voëls na mense versprei het, onder meer onlangs in Rusland, maar dit lewer ligte, verkoueagtige simptome op.

Verskillende variante van die virus

Voëlgriepvirusse word as die hoogs patogeniese (HPAI) of lae patogeniese (LPAI) voëlgriep geklassifiseer.

Die besmetting van pluimvee met LPAI-virusse veroorsaak geen of slegs ligte siektes, met gevolge soos ’n daling in eierproduksie.

Sowel HPAI- as LPAI-virusse kan vinnig onder pluimvee versprei.

Tekens van HPAI-infeksie onder pluimvee

  • Erge depressie en stilte onder pluimvee;
  • Skielike afname in die getal eiers wat gelê word en dié wat wel gelê word, het sagte of geen dop nie;
  • Die voëls se kamme en belle is rooi en geswel;
  • Die vel onder die oë is geswel;
  • Die voëls hoes, nies en toon tekens van senuagtigheid;
  • Diarree;
  • Bloeding op die hak; en
  • Soos die griep onder ’n groep voëls versprei, neem vrektes binne 48 uur vinnig toe.
Meer oor:  Hoenders  |  Kospryse  |  Voëlgriep  |  Sapa  |  Landbou  |  Eiers  |  Hoendervleis  |  H5n8  |  Pluimveebedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.