Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Voëlgriep: Dis erg, maar nie H5N8 nie

’n Tweede geval van voëlgriep in Suid-Afrika is in Noordwes naby Potchefstroom aangemeld.

Verskeie buurlande het reeds ’n verbod op die invoer van eiers uit Suid-Afrika geplaas nadat voëlgriep in die land aangemeld is. Foto: Unsplash

Colin Steenhuisen, waarnemende hoof van die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (Sapa), sê die betrokke plaas is klaar onder kwarantyn geplaas.

Op 11 April is ’n hoenderplaas in die Ekurhuleni-metro onder kwarantyn geplaas nadat voëlgriep daar aangemeld is toe 300 henne gevrek het. Sedertdien is al 240 000 henne op die plaas van kant gemaak.

Sapa het Woensdagaand bekend gemaak die variant op die plaas was H5N1, nie H5N8 nie. Soos H5N8 is H5N1 uiters aansteeklik en dodelik, maar dit was H5N8 wat in 2017 tot 20% van die nasionale henbevolking uitgewis het.

Dit het ook tot ernstige tekorte van eiers in die land veroorsaak en pryse skerp opgestoot.

Die pluimveebedryf het meer as ’n week op owerhede gewag om te bevestig watter variant van die voëlgriepvirus ter sprake was.

Steenhuisen het nog die oggend gesê die bedryf is baie teleurgesteld dat die owerhede tot nou toe nog nie antwoorde oor die variant kon gee nie.

“Ons maak staat op die owerhede vir die uitslag en is regtig teleurgesteld dat dit nog nie beskikbaar is nie.

“Ons moes weer nuwe monsters aan Onderstepoort stuur. Ons weet nie hoekom die eerste monsters nie voldoende was nie, maar daar is aan ons gekommunikeer dat ‘vars’ monsters nodig is vir verdere toetse.”

Intussen het die buurlande Botswana en Mosambiek hul grense gesluit vir pluimvee-invoer vanuit die hele Suid-Afrika en Namibië vir invoer uit die kwarantyngebied aan die Oos-Rand van Gauteng.

Lesotho aanvaar nie meer eiers vanaf Gauteng nie en Swaziland oorweeg ’n verbod.

LEES OOK: Voëlgriep: Nog geen geval in Wes-Kaap gevind

Die pluimveebedryf hou landwyd ’n wakende oog op gebeure. “Op die oomblik is almal op hete kole en pas baie streng beheer toe,” sê Steenhuisen.

Van die streng maatreëls wat nou by lêhoenderplase gevolg word, sluit in dat alle voertuie wat op die plase kom, eers ontsmet word en beweging van voertuie en werkers beperk word. Werkers moet ook beskermende pakke aantrek wanneer daar in die lêhuise ingegaan word.

Sapa sê die maatreëls sal voortduur selfs al is dit nie H5N8 nie.

Volgens Pier Passerini, besturende direkteur van Windmeul-eiers in die Wes-Kaap, is die bedryf in dié provinsie klaar in gesprekke met die plaaslike regering oor hoe verspreiding van voëlgriep oor grense heen beheer kan word.

“Daar is geen aangemelde positiewe gevalle van voëlgriep in die Wes-Kaap nie,” sê Passerini.

Hy sê die bedryf het baie moeilike lesse geleer uit die 2017-uitbreking.

“Ons is nou baie slimmer en in ’n beter posisie as toe. Die bedryf het bioveiligheid baie goed opgeskerp en gereelde toetse, nie net vir voëlgriep nie, word deur die staat en private sektor gedoen.”

Hy waarsku die lading van die virus is die groot onsigbare vyand en dis daarom baie belangrik dat die verspreiding, sou voëlgriep uitbreek, streng beperk word.

Is dit veilig om nou eiers te eet?

Steenhuisen sê Suid-Afrikaners kan eier- en hoenderprodukte eet sonder vrees om siek te word. Hy sê solank eiers en hoender ordentlik gaargemaak word, is dit veilig.

Gaan jy meer vir eiers betaal?

Met die vorige uitbreking was daar tussen Junie 2017 en Februarie 2018 ’n groot tekort aan eiers veral in die Wes-Kaap en Gauteng. Dit het ’n skerp prysstyging in eiers en hoendervleis tot gevolg gehad.

Steenhuisen sê dit is te vroeg om te voorspel of die prys van eiers gaan styg.

“Suid-Afrika voer baie eiers uit na Mosambiek, maar omdat dié buurland nou ’n verbod op invoer vanaf Suid-Afrika geplaas het, is daar nou genoeg eiers vir Suid-Afrikaners.”

Passerini meen wel die prys van eiers gaan moontlik styg. “Die huidige marktoestande is nie ideaal nie. Die mielieprys is op die oomblik baie hoog, wat veroorsaak dat die insetkoste vir vervaardigers klaar opgestoot word.”

Meer oor:  Hoenders  |  Kospryse  |  Voëlgriep  |  Landbou  |  Eiers  |  Hoendervleis  |  H5n8  |  Pluimveebedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.