Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Volstruisleer gewilder op wêreldmark
Die aanvraag na volstruisleer raak hoër in die modebedryf.

Die internasionale modewêreld se belangstelling in volstruisleer toon ’n effense opflikkering.

Dit is goeie nuus vir volstruisprodusente wat hul produkte aan Klein Karoo Internasionaal lewer – veral nadat die belangstelling in volstruisleer die afgelope jaar of wat ietwat getaan het.

“Enige produk het ’n bedryf­siklus – soms is die verdienste goed, ander kere minder goed,” verduidelik Charl du Plessis, die uitvoerende bestuurder van Klein Karoo Internasionaal (KKI). Du Plessis het verlede maand ’n uitgebreide bemarkingstoer in Europa, Mexiko en die VSA onderneem.

Hy is opgewonde oor die effense oplewing in belangstelling in Europa, sowel as die toenemende belangstelling vanuit China.

Blik op KKI

Die maatskappy sluit drie bedryfsafdelings in, naamlik leer, vleis en vere, en al was die fokus op die bemarking van volstruisleer, is die mark vir hittebehandelde volstruisvleis ook ondersoek.

Du Plessis en Arno Albertyn, wat onlangs as die uitvoerende bestuurder van KKI se leerafdeling aangestel is, het KKI se produkte van 3 tot 18 Oktober vanjaar bemark by onder andere ’n leermodeskou in Milaan, Italië, die Anuga Food Fair in Keulen, Duitsland, skoenfabrieke in Mexiko, stewelvervaardigers in Dallas én skoenvervaardigers in Boston.

Hulle het ook drie dae in New York deurgebring, waar hulle verteenwoordigers van die Ralph Lauren- en Coach-modehuise ontmoet het.

Hoe lok jy millenniërs?

“Ons het veral volstruisleer as modeproduk aktief gaan bemark,” verduidelik du Plessis. “Die grootste uitdaging is om luukse goedere aan millenniërs te bemark. Hul verbruikerspatrone verskil drasties van konvensionele verbruik: Millenniërs fokus daarop om hul status, gemeet aan ervarings eerder as welvaart, op sosiale media bekend te maak.”

Die grootste uitdaging is om luukse goedere aan millenniërs te bemark. Millenniërs fokus daarop om hul status, gemeet aan ervarings eerder as welvaart, op sosiale media bekend te maak.
Charl du Plessis van KKI

Du Plessis sê hierdie groep stel belang in die “geskiedenis” van ’n produk – dit sluit die herkoms, naspeurbaarheid,
arbeidspraktyke, omgewings­impak en volhoubaarheid daarvan in. In die bedryf word daarna verwys as die sogenaamde sagte kwessies van die waardeketting.

“In hierdie verband het die volstruiswaardeketting ’n baie goeie profiel aangesien die realisasie ’n goeie balans tussen leer (40%), vleis (40%) en vere (20%) verteenwoordig.

“Omdat die meeste prosesse met die hand gedoen word, bied die bedryf intensiewe werkskeppinggeleenthede, wat ’n beduidende ekonomiese impak in landelike gebiede teweegbring,” sê Du Plessis.

Ten einde die gesogte millenniër-mark te bereik, maak KKI toenemend gebruik van sosiale media om hierdie aspekte te beklemtoon.

Volstruisleer is ’n luukse produk wat millenniërs nie noodwendig aanskaf nie.

Voëlgriep en volstruisbedryf

Die belangstelling in volstruisleer is ook meer as welkom in die lig van die H5N8-voëlgriepuitbreking in Suid-Afrika vroeër vanjaar.

Dié virus is hoogs aansteeklik en altesaam 140 volstruisplase is al sedert die uitbreking onder kwarantyn geplaas.

Volgens die jongste syfers wat vandeesmaand uitgereik is, is daar altesaam 68 bevestigde gevalle van H5N8 in die Wes-Kaap. Die owerhede meen egter die infeksiekoers het intussen aansienlik afgeneem.

Al word die hoenderbedryf baie erg hierdeur geraak, het dit nogtans gelei tot ’n nuwe verbod op die uitvoer van vars vleis.

Die uitvoere van vars vleis het die afgelope twee jaar goed gestabiliseer nadat dit in 2011 weens die uitbreking van die H5N2-virus gestaak moes word, en vir vier jaar lank verbied is.

Rou en gaar vleis

Die slagting van volstruise op onbesmette plase gaan voort en hittebehandelde volstruisvleis word steeds uitgevoer. Die rou volstruisvleis word egter binnelands bemark.

“Die uitvoer van vars vleis, wat gewilder is as gaar vleis, het in ’n groot mate die mark vir gaar vleis gekannibaliseer.

“Nou probeer ons weer die markpenetrasie vir gaar volstruisvleis op Europese winkelrakke vergroot,” sê du Plessis.

Meer oor:  Charl Du Plessis  |  Volstruisbedryf  |  Mode  |  Voëlgriep
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.