Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Vrystaat kry bykans R900 m. se droogtehulp

Die regering het Vrydag bekend gemaak dat hy bykans R900 miljoen se droogtehulp, die meeste nóg, aan die Vrystaat geskenk het.

Dit kom nadat Sisi Ntombela, Vrystaatse premier, die provinsie in November verlede jaar tot ’n rampdroogtegebied verklaar het. Dié ruim skenking is Vrydag in die Provinsiale Koerant aangekondig.

Volgens dr. Roy Jankielsohn, DA-LPW en leier van die amptelike opposisie in die wetgewer, is sowat R871 miljoen se droogtehulp deur verskeie provinsiale en nasionale departemente aan die provinsie geskenk.

Dit is R248 miljoen méér as wat die munisipaliteite aanvanklik versoek het.

Hoewel goeie reën die afgelope maand op saaiplase gemeet is, is dit nie genoeg om die provinsie uit sy droogtekrisis te red nie. Die regering het Vrydag bekend gemaak dat hy sowat R900 miljoen, die meeste nog, vir droogtehulp aan die Vrystaat geskenk het. Foto: Conrad Bornman

Hy sê die tydsberekening van dié aankondiging hou verband met die huidige betogings oor ernstige watertekorte in die Maluti-a-Phofung-munisipaliteit.

“Ons kan aanneem dié bykomende bedrag is toegewys om die ernstige tekort aan bruikbare en veilige water in dié gebied op te los.”

Jankielsohn sê bewerings van die wanaanwending van vorige geld wat toegewys was, moet deeglik ondersoek word.

Hy wil voor die volgende vergadering van die wetgewer met Ntombela, Thembeni Nxangisa, Vrystaatse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake, en William Bulwane, LUR vir landbou en landelike ontwikkeling, vergader om uit te vind watter kriteria gebruik gaan word om die geld toe te wys.

“Baie keer is dit die kommersiële boere wat kos verskaf wat aan die onderkant die lys is wanneer droogtehulp uitgedeel word. Ons is bekommerd daaroor.”

Hy sê van dié boere moet kapitaalgoedere verkoop om kop bo water te hou. “Ons wil toesien dat die mense wat aan ons kos voorsien en die plaaslike ekonomie aan die gang hou, nie aan die agterspeen suig nie.”

Hy sê die ekonomiese impak van die droogte het ernstige implikasies vir die provinsie se landelike ekonomieë en werkskepping.

Die landbousektor in die Vrystaat is ernstig geraak deur die droogte en “selfs ná die reën word die impak gevoel”.

“Droogtehulp vir die landbousektor, wat ons land se voedsel onder moeilike omstandighede voorsien, vra onmiddellike optrede, en moet ook ver vooruit beplan word.”

Hy sê die landbousektor dra die gevolge van die klimaatskrisis en politieke, ekonomiese, maatskaplike en landelike risiko’s.

“Dit bly ’n kwelpunt dat 10% van die droogtehulpgeld voorheen gegaan het aan implementeringsagente wat soveel as R87 miljoen van die onlangse finansiering in hul sak gesteek het.”

Hy sê dié geld kon eerder gebruik word om gemeenskappe en individue op grondvlak by te staan.

Meer oor:  Sisi Ntombela  |  Vrystaat  |  Regering  |  Droogtehulp
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.