Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Wees waaksaam, waarsku Agri SA en TLU SA hul lede

Twee van die land se grootste landbou-organisasies, Agri SA en TLU SA, het in ’n gesamentlike verklaring ’n beroep op hul lede gedoen tot nog groter waaksaamheid in die drie weke dat die land weens Covid-19 ingeperk word.

Die organisasies waarsku misdadigers kan die situasie uitbuit en met wanvoorstellings probeer om toegang tot plase te kry. Daarom moet die toegang streng beheer word.

Die twee organisasies het die polisie gevra om in dié tyd hul sigbaarheid in landelike gebiede te handhaaf.

“As landbou-organisasies besef ons dat daar nou baie druk op die polisie is en daarom het albei organisasies onderneem om saam met die polisie te werk om toe te sien dat die landboubedryf in ’n veilige omgewing met voedselproduksie kan voortgaan.”

Plaasveiligheid is tydens die drie weke van inperking nog belangriker, waarsku twee van die land se grootste landbou-organisasies.Foto: Argief

Pres. Cyril Ramaphosa het vandeesweek in sy afkondiging van die inperking landbou as een van die noodsaaklike dienste uitgewys wat met hul werksaamhede moet voortgaan.

Die land se mense moet immers kos hê om van te leef.

“Dit bevestig weer die strategiese waarde van dié sektor om gedurende ’n ramptoestand voort te gaan om die bevolking te voed en voedselsekerheid te handhaaf.

“Die veiligheid van die sektor is dus ook van strategiese belang in die rol wat hy as ’n noodsaaklike sektor moet speel,” lui die verklaring.

Hulle het ’n beroep op hul lede gedoen om hul huis en haard te beskerm en hul reeds verskerpte veiligheidsmaatreëls te handhaaf.

“Skakeling met plaaslike beveiligingstrukture, die instandhouding van die plaasgemeenskap se beskermingsmaatreëls en die daarstel van ’n plaaslike gebeurlikheidsplan in samewerking met die polisie is van die aspekte wat nou plaaslik aandag moet geniet.”

Die effektiewe toepassing van die landelike beveiligingstrategie om die plaasgemeenskap veilig te hou is nou nodig, sê die organisasies.

“Die toepassing van die plaastoegang-protokol moet ernstig oorweeg word om toe te sien dat plaasbesoeke gemonitor kan word.

“Landbouers moet nou meer as tevore bedag wees op persone wat hulself wanvoorstel om só toegang tot die plaas te kry om misdaad te pleeg.

“Vir die veiligheid van die plaasgemeenskap is dit belangrik dat almal sal weet wie die plaas besoek en wat die rede vir die besoek is.

“Dié ramptoestand kan die geleentheid aan misdadigers bied om die boerderygemeenskap te teiken. Deur die toepassing van die protokol kan dit as afskrikmiddel dien en ’n bydrae tot plaasbeveiliging lewer,” lui die verklaring.

Meer oor:  Tlu Sa  |  Agri Sa  |  Ramptoestand  |  Koronavirus  |  Covid-19  |  Coronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.