Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Wellington is groot wenner

In die nadraai van die ergste droogte in jare en die kleinste wyndruifoes in ’n dekade, het twee kelders in onderskeidelik die wynstreke Wellington en die Noord-Kaap dit reggekry om met die groot bekers by die Suid-Afrikaanse Nasionale Jongwynskou weg te stap.

Wellington-wyne is Saterdagaand in die Stellenbosch-stadsaal met die gesogte Generaal Smuts-trofee vir die algehele kampioenwyn bekroon. ’n Gehoute pinotage van dié kelder het aan hom die trofee besorg.

Wenners ís hulle: Wellington-wyne is vanjaar die wenners van die Suid-Afrikaanse Jongwynskou se hoogste eerbewys – die Generaal Smuts-trofee. Dié wynkelder se gehoute pinotage is ook as die SA kampioen-pinotage aangewys. Hier is Wellington-wyne se span met hul trofees: Reon Richter (agter), Chris Smit, Francois van Niekerk (keldermeester) en Erik van Wyk. Foto: Andrew Gorman

Die Generaal Smuts-trofee is die jongwynkompetisie se grootse eerbewys en word al sedert 1952 aan Suid-Afrika se kampioenjongwyne toegeken.

Wellington-wyne se wen-pinotage is ook vanjaar die kampioen in die pinotage-kategorie – net soos verlede jaar.

Die kelder met die hoogste telling vir vyf verskillende wyne vanjaar was Orange River Cellars (ORC) se Keimoes-kelder. Dié kelder het die hoogste puntetelling vir elkeen van die vyf van hul beste wyn-inskrywings behaal en só weer met die gesogte Pietman Hugo-trofee weggestap.

Dit was egter nie die enigste trofees wat die Noord-Kaap vanjaar verower het nie.

ORC se Keimoes-kelder het nog verder op die aand geskitter en kampioenwyne in die kategorieë vir sauvignon blanc, ander wit kultivars (colombar) en wit versnitwyne (colombar/sauvignon blanc) opgelewer.

ORC Groblershoop, Kei­moes se susterskelder, het weer die beker vir die beste dessertwyn vir hul hanepoot jeropiko ontvang.

Die Suid-Afrikaanse Jongwynskou is die oudste wynkompetisie in Suid-Afrika en is vanjaar vir die 186ste keer gehou. Die spoggerige gala­dinee in die Stellenbosch-stadsaal Saterdagaand is deur die landbougenootskap Agri-Expo aangebied.

Christo Pienaar, die Jongwynskou se voorsitter, het op die geleentheid gesê die gehalte van die jongwyne wat vanjaar beoordeel was, is van uitnemende gehalte – dít ondanks die droogte in die Wes-Kaap en die moeilike omstandighede waaronder wynprodusente hier moes boer.

Nagenoeg 1 680 wyne is vanjaar vir die jongwynkompetisie ingeskryf, waarvan 17 kampioentrofeë en 49 klaswennerstatus ontvang het. Altesaam 99 wyne is met goue medaljes bekroon.

Die wyne is almal in Julie vanjaar deur spesialispanele in die Paarl beoordeel.

Die ander groot wenners op die aand was:

  • Bon Courage-landgoed, Robertson: Beste natuurlike soet witwyn, sowel as die kampioen-edellaatoes.
  • De Wetshof-landgoed, Robertson: Kampioen-chardonnay (gehout).
  • Spier, Stellenbosch: Beste chenin blanc (gehout).
  • La Motte, Franschhoek: Kampioen-sémillon.
  • Babylonstoren, Stellenbosch: Beste cabernet sauvignon (gehout).
  • Stellenbosch Hills, Stellenbosch: Kampioen-merlot (gehout).
  • Darling Cellars, Darling: Kampioen-shiraz (gehout).
  • Le Bonheur-landgoed, Stellenbosch: Wenner in die kategorie vir ander rooi kultivars (petit verdot, gehout).
  • KWV, die Paarl: Wenner in die kategorie vir ’n rooi versnit (pinotage/cabernet sauvignon/shiraz/malbec, gehout).
  • De Krans-kelder, Calitzdorp: Kampioen-port (vintage).
  • Slanghoek-kelder, Rawsonville: Kampioen-muskadel (rooi muskadel jeropiko).

Vinnige feit

Die jaarlikse Suid-Afrikaanse Jongwynskou word al sedert 1833 aangebied en is die oudste wynskou in Suid-Afrika.

Meer oor:  Wyndruifoes  |  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.